Pages

17 July 2012

‘n Nuweling in die genealogie se benadering tot familie-dokumentering

Japie Bosch

(‘n Klompie jare terug het Japie by ‘n maandvergadering van die Wes-Gauteng-tak van die Genealogiese Genootskap van SA vertel hoe hy as ‘n beginner die Genealogie benader het.  Wat hier volg is ‘n ietwat aangepaste weergawe van sy praatjie. Met sy vaardige pen word dit sommer ‘n begeleide reis langs die weë van genealogiese ontdekking vir diegene wat nog aan die begin van hul familienavorsing staan. Lees ook Kimberly Powell se artikel - Redakteur)


1.       Die speletjie word ‘n ontdekking

Aan die begin was familie-dokumentering maklik:  my gesin en my ouers se gegewens en stories ken ek uit my kop.  Ek het geweet wie my oupa’s en ouma’s was.  Ooms en tantes en neefs en niggies se besonderhede was net ‘n paar oproepe ver.  Dis was eintlik kinderspeletjies.  Microsoft Word het oulike opsies.  ‘n Klompie blokkies en strepies, ‘n bietjie inkleur en daar was hy:  my stamboom.  Dit het nogal mooi gelyk. By onderwysers het ek gehoor dat stambome deel is van Graad 5 se leergang.  Dis waar dit hoort, het ek gedink.

Dit het my bygeval dat my vrou se broer, dr. Arthur Oswald Jackson, ‘n (uitmuntende) boek, The Jacksons of Nelspoort, Cape of Good Hope and Their Descendants (1995), oor sy vertakking van die Jacksons geskryf het.  Die meeste daarvan is in vertelformaat.  Blaai-blaai het ek dit bekyk.  Toe skryf ek ‘n storie oor my pa, soek foto’s uit en ek het ‘n mooi ding.  Bronne?  Ek was die bron.

Nou het ek al twee mooi goed gehad.

Daarna het my ma gevolg.  Sy en haar twee susters was in die Langlaagte-weeshuis, (destyds so genoem), maar hulle het nooit gepraat oor die redes waarom hulle daar was nie.  Dít moes ek uitvind, want dit moes deel van die storie wees. Na ‘n “speurtog” het ek lêers by die Kaapkerk in Stellenbosch gekry. Dit het ‘n onaangename, hartseer verhaal bevat en drie onskuldige dogters (6, 11 en 12 jaar) beland in die weeshuis.  Ek twyfel of my oorlede ma en haar susters die volle waarheid geweet het. Hierdie was ‘n keerpunt.  Familiegeskiedenis is meer as ‘n stamboom en ‘n storie uit die kop skryf, het ek besef.

Rondvra by die familie het nog ‘n hele paar ontdekkings opgelewer.  So was daar Klein Piet, ‘n neef, se ses huwelike. Hy het sy identeitsboekie voor elke troudag gedokter, omdat hy nie wou wag vir ‘n skeisaak nie.  Hy is eers ná sy dood uitgevang. Daar was ook die verhaal van die predikant en sy onheilige telefoonoproepe asook pragverhale van sukses, medemenslikheid en humor.

Die wete het ingesink:  hier wag ‘n ontdekkingstog.  Dis nie speletjies nie.

2.       Die Genealogie is nie vir sissies nie

Nou het ek besef dat ek maar nog net aan die oppervlakte begin krap het.  Ek moes hulp kry, by kenners aanklop.  Deur die internet het ek gesien hoe genealogiese werk kan/moet lyk, maar ek kon nêrens lees wat gedoen moet word om dit so te laat lyk nie, veral nie uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt nie.

Ná ‘n gesoek op die internet het ek by Lucas Rinken, voorsitter van die Wes-Gauteng-tak van die Genealogiese Genootskap van SA uitgekom. “Jou eerste stap,” het hy gesê, “is om ‘n behoorlike genealogiese rekenaarprogram te kry.”  Só het ek met Legacy kennis gemaak. Lucas het my ook vertel van Suid-Afrikaans Geslagregisters (SAG); National Automated Archival Information Retrieval System (NAAIRS); die Church of Jesus Christ of Latter-day Saints (LDS-kerk), ‘n klompie wenke oor Legacy gegee; sy boekery gewys en sy passie met my gedeel. ‘n Paar weke se lighartige alleen-pogings het eensklaps verander in ‘n ernstige saak.

My eerste dag met Legacy was lekker speel. Toe die invoere in erns begin en ek ontdek het wat die program kan doen, het dit, soos die meeste komplekse rekenaarprogramme, kopkrap gekos.  Hoe sorteer ‘n mens Klein Piet se ses vrouens in volgorde?  Wat is Gedcom?  Wat is’n kwartierstaat? Wat is dit? En dat? Daar was drie oplossings hiervoor: lees die hulplêer (help file), eksperimenteer en vra ervare mense.

Die Genealogie verg ook heelwat administrasie. Ek het gou besef ‘n geordende liaseerstelsel is noodsaaklik.

3.  Die Tegnologie

3.1  Die Rekenaar

Dit is nie die plan om hier op rekenaarsake te fokus nie.  Tog kan ek nie nalaat om ‘n deel van ‘n e-pos wat die gesoute genealoog, Herman Labuschagne, aan ‘n ander beginner gestuur het, aan te haal nie:  “Ek waarborg jou, een of ander tyd gaan jy al jou werk verloor.  As dit nie binne drie weke is nie, sal dit binne ses maande of drie jaar of ses jaar wees.  Een of ander tyd gaan jou hardeskyf ingee of jou rekenaar gaan gesteel word of ‘n virus gaan jou data opvreet of jy gaan iets onnosels aanvang en jou eie data korrup maak.

Onthou net drie stukkies pryslose raad: “BACKUP, BACKUP, BACKUP!”  Daar is baie hartseerstories van mense wat databasisse van duisende inskrywings verloor het, omdat hulle nie rugsteuningskopieë gehad het nie.”

3.2  Internet-koppeling

Die internet is seker een van die grootste redes waarom die genealogie die gewildste “stokperdjie” in die wêreld geword het.  Daar is uitstekende hulpmiddels, insluitend vriendelike en hulpvaardige mense.

Dis te betwyfel of ‘n mens doeltreffende familie-optekening sonder die internet kan doen.  Daarsonder sou reis- en verblyfkoste om dieselfde inligting te kry, baie duisende rande gekos het.  (Terloops, ek gebruik doelbewus die woord  “familie-optekening/dokumetering”, want  “navorsing” behels veel meer as naslaanwerk en ‘n soektog.)

Die internet is relatief duur, in Suid-Afrika altans, maar daar is verskeie opsies beskikbaar.  Oorweeg ‘n goeie, vinnige internet-verbinding.

3.3  Internet-benutting

Hierdie onderwerp kan baie praat oplewer, veral as ‘n mens na Cyndi’s List (http://www.cyndislist.com/) gaan en net die Suid-Afrikaanse webtuistes beloer. Daar is wêreldwyd derduisende genealogiese webtuistes.  Dit het my ‘n rukkie geneem om vas te stel waar die Afrikaanse webtuistes is.  Gelukkig het ek die Genealogiese Genootskap van SA (GGSA)  en die Genealogiese Instituut van SA (GISA), gou ontdek.  Saam het dié twee heelwat skakels wat baie nuttig was.

Ek het baie ure bestee om my te vergewis van wat in die Genealogie aangaan.  Dit was die tyd werd.

As ‘n beginner het ek in Suid-Afrikaanse gespreksforums baie hulp gevind en goeie wenke gekry. Rootsweb (http://www.rootsweb.com/) het ‘n reeks gespreksforums in Suid-Afrika. Daar is ook SAGenealogie (http://www.sagenealogie.com/). Laasgenoemde is ‘n Afrikaanse gespreksgroep met honderde genealoë rondom die aarbol wat wissel van beginners tot gesoutes.  Mense bespreek en ruil daagliks genealogiese inligting.

Kundiges op hierdie gespreksforums is ook dikwels bereid om namens jou naslaanwerk in argiewe of biblioteke ver van jou af te doen. Sommiges vra ‘n fooi, maar dit bly ‘n winskoop. Via een gespreksforum het ek een keer inligting oor ‘n oumagrootjie met behulp van iemand in Kanada gekry.  Ek het ook hulp oor familie uit Engeland gekry. Dis opwindend as ‘n mens ‘n reaksie en hulp op jou navrae kry. Dis net so bevredigend om ander te help.

3.4  Die Telefoon
Die telefoon is seker die grootste hulpmiddel om inligting by familie, vriende en kennisse te kry.

Om ‘n telefoonommer elders in die land op te spoor, is nie aldag maklik nie. Telefoongidse van ander provinsies vind ‘n mens ook nie sommer nie.  Die webtuiste http://phonebook.yellowpages.co.za/ is ‘n telefoongids van geheel Suid-Afrika.  Sleutel bloot ‘n persoon se van, sy voorletters en provinsie of dorp of stad in.

Een van my oumagrootjies was ‘n De Fortier en ek het vasgebrand met inligting oor haar voorouers.  Ek het “De Fortier” ingesleutel en ‘n “soek” in geheel Suid-Afrika versoek. ‘n Lys van 13 De Fortiers het verskyn.  Die tweede een wat ek gebel het, het die hele familie reeds aangeteken. Ek het alles gekry, met foto’s.

4.  Die Familie

Die familie is seker die vertrekpunt vir alle beginners.  Familie bied meer as wat ‘n mens aanvanklik meen. Ek het waarskuwings om so gou as moontlik met ouer familielede te gaan praat, ernstig opgeneem, omdat  hulle ons ontval. Dis jammer dat ek nie betyds met ouers gepraat nie.

‘n Mens kom familie teë wat graag wil help, dan is daar dié wat afsydig teenoor familie-geskiedenis staan en diegene wat alles by jou wil uitvind en ná ‘n lang gesprek het ‘n mens weinig wys geword.  Ek was ook verbaas om te hoor hoe gou die woord versprei het dat ek met familie-optekening besig is.

Dis goed om ‘n standaardvraelys byderhand te hê van inligting wat ‘n mens benodig – een vir elke individu. Soos die gesprek vorder, kan ‘n mens sien wat kort nog. Vra uit oor interessante gebeurde. Vra, vra, vra.  Moenie met los papiertjies werk nie.  Dit raak weg.

My uitvraery by familie het reeds drie keer meegebring dat ek by nie-familie uitgekom het wat my met datums, verhale en foto’s gehelp het. In een geval het ek ‘n kosbare foto wat in 1911 geneem is, gekry. Ek het ook teëgekom dat sekere familielede meer help as jy hulle wys wat jy al gedoen het en waar hulle inpas.

5.  Foto’s

Foto’s is waardevol en ou foto’s des te meer, veral as ‘n mens in gedagte hou dat fotografie eers in 1839 sy beslag gekry het.  Foto’s kan ook die antwoord op menige vrae gee.  Hier is ‘n paar voorbeelde:
  • ‘n 1911-foto het name en datums bo of onder elkeen daarop gehad, maar dit het al vervaag.  Met ‘n bietjie rekenaarwerk was alles leesbaar.  Dit was ‘n oupa- en oumagrootjie van my, hul  kinders en die oumagrootjie se ma.  Die kleredrag, die skoene en die gesigsuitdrukkings het ‘n verhaal van swaarkry vertel.  Met Adobe Photoshop kan ‘n mens sulke foto’s redelik herstel.  Dit kos egter heelwat leeswerk en eksperimenterig.
  • My pa het gelukkig heelwat foto’s sedert ons kinderdae geneem.  Met die (tydsame) deurgaan daarvan het dit herinneringe teruggebring.  Hierdeur kon ek sekere verhale vollediger skryf en illustreer.  Ons het ook 8mm-tuisrolprente opgespoor.  Hier wag nog werk vir my.
  • ‘n Paar familielede het geraamde foto’s wat hulle, verstaanbaar, nie wou uitleen nie.  Die antwoord is eenvoudig:  neem ‘n foto daarvan, verkieslik met ‘n digitale kamera sodat jy dadelik kan sien hoe lyk die foto.
  • Die internet is ‘n fototeek soos min. Anderdag het ek ‘n foto van ‘n Johannesburgse munisipale bus van die vyftigerjare opgespoor – nes die een waarmee ons elke dag skool toe gery het.   (Klik op Images op Google se hoofblad en tik dan die onderwerp in van dit wat jy soek.)
  • Johan Pottas van die Universiteit van die Vrystaat het onlangs vertel dat hy saam met ‘n beoogde boek ‘n kompakskyf (CD) sal gee met foto’s.  Dit is baie goedkoper as drukwerk en hy kan heelwat meer foto’s so beskikbaar stel.  Hoe blywend dit is, is ‘n ander saak.

6.  Bronne, Bronne, Bronne

Van meet af aan het ek gereeld drie waarskuwings oor bronne gekry:
  • Sonder bronne word jou inligting bevraagteken
  • Maak seker jou bronne is betroubaar en
  • Moenie alles op die internet glo nie.

Hierdie onderwerp is baie breed.  Ek sal volstaan deur te sê:  tensy jy oortuig is dat jou primêre bron 100 persent reg is, hou die soektog na bevestiging nie op nie.  As jy meer as een bron het, voer almal in.

7.  Reis

Ek het die Nasionale Argief in Pretoria al ‘n paar keer besoek en moet weer gaan, ook na die een in Kaapstad.  ‘n Reis na ‘n aantal plekke in die Oos- en Wes-Kaap en Mpumalanga moet ook volg.

8.  Doelontwikkeling

Soos ‘n mens se genealogie ontwikkel, ontwikkel mikpunte.  Aanvanklik was my doel ‘n bundel vol stories van almal in my pa se familie wat ek ken of geken het en hul kinders.  Nou is my mikpunt anders.  Ek beoog steeds ‘n bundel, maar die inhoud gaan anders lyk.

My dogter wil graag ‘n kwartierstaat met minstens ses geslagte hê. Kompakskyf-moontlikhede het bygekom asook baie mooi grafiese werk met Legacy.

‘n Stamregister is nie ‘n oogmerk nie, want iemand anders het dit klaar gedoen en ‘n neef in Amerika (nogal) ondersoek dit van vooraf.  Gelukkige ek.