Pages

13 July 2012

‘n Toer deur Jeffreysbaai van weleer

Diek van Wyk

Een van ons jongste, of miskien moet ek sê: nuutste: lede is die 83-jarige Meeding Ferreira. Meeding is in die onmiddellike omgewing van Jeffreysbaai gebore, het hier grootgeword, het sy hele werkende lewe in hierdie omgewing deurgebring en woon nou op sy geboortegrond net buite die dorp. Onlangs het hy ‘n groep van ons deur die dorp en die naasliggende plase geneem en ons vertel hoe dit in sy kinderjare daar uitgesien het. Wat hier volg, is ‘n kort verslag van die toertjie, saamgestel uit notas wat hy tot my beskikking gestel het. Daar is geen manier waarop die samevatting reg kan laat geskied aan die rykdom aan inligting wat die energieke Meeding tydens die toer met ons gedeel het en al die landmerke wat hy aan ons uitgewys het nie.


Jeffreysbaai
Jeffreysbaai is, of was, Ferreira-wêreld. ‘n Deel van die dorp is geleë op die oorspronklike plaas van Anthonie Michiel Ferreira, gebore 1802, wat in 1827 getroud is met Maria Johanna Albertina Meeding, gebore 1811. Die plaas is na sy dood onder sy kinders verdeel. Dié gedeelte van die dorp wat in die ou plaas val, het voorheen bekend gestaan as Ferreirasdorp of Ferreirastown. Oribistraat het tot die 1960’s bekend Meedingstraat geheet, vernoem na Anthonie Michiel se vrou. Vroeër jare was daar ‘n hek tussen Ferreisdaorp en die res van Jeffreysbaai.

Ons eerste stop was in Da Gamastraat by ‘n sandkopbaken wat die oostelike en suidelike grenshoek van die plaas aangedui het. Daarna is ons na die hoek van Oribi- en Kudustrate, waar die opstal van Jan Abraham Ferreira, seun van Anthonie Michiel voorheen gestaan het. In die verbygaan het ons verneem dat daar vroeër ‘n fontein was waar die Engen garage nou staan en dat Meeding as kind tydens die Pase saam met sy ouers met ‘n muilwa daarheen gekom het om uit te kamp en dan vis, oesters en alikreukels, wat alles volop was, gevang en uitgehaal het.

Die monding van die Kabeljousrivier
Die Kabeljousrivier was op ‘n stadium die oosgrens van die Kaapkolonie. Die grensbaken was op ‘n eiland in die rivier geplant. Die Kabeljousgebied was veral bekend vir sy skulpgruis, wat o.a. deur Pontak ontgin en vanaf die Kabeljousstasie versend is.

By die Kabeljousstasie vertel Meeding ons dat die bult aan die oostekant te steil was vir treine wat vol gelaai was met vragte uit die Langkloof en dus dikwels terug gestoot moes word om weer stoom op te maak vir bult. Hy vertel ook dat die naam van die rivier verander het van Kabeljaauws na Kabeljauws en Kabeljouws na Kabeljous. Die trajek van die ou pad van die Kaap na die Baai word uitgewys asook waar daar vroeër ‘n winkeltjie en toe ‘n poskantoortjie gestaan het.

Sir George Grey
Hierna doen ons aan by die voormalige opstal van Anthony Michael  Ferreira, waar daar ‘n smidswinkel met besonderse werkbank was waarin waens gebou en herstel is. Vervolgens is ons na die oorspronklike huis van Anthonie en Albertina, in 1827 gebou, wat bekend staan as Klipheuwel. Hier is hule onder andere deur Sir George Grey besoek. Dick King het ook tydens sy epiese tog daar aangedoen. Dié statige ou woning is deur hul seun Ignatius Marthinus geërf. Die huidige eienaar – nie ‘n Ferreira nie – doen baie moeite om die huis se karakter te behou deur dit met meubels en ander items uit die ou dae toe te rus.

Ons volgende bestemming was Meeding se plaas. Onderweg wys hy ons die skooltjie waar hy skool gegaan het en waar sy onderwyseres Johanna Sophia Ferreira – wie anders as ‘n Ferreira! – was, asook waar hy gebore is en groot geword het. Meeding het ‘n gedeelte van die ou familieplaas teruggekoop en woon nou daarop. Sy huis is teen ‘n koppie geleë. Die koppie was aanvanklik taamlik kaal, maar hy het dit met inheemse bome beplant en dit is nou dig begroei. Die huis is ook omring deur inheemse plante.

Die middag is afgesluit met verversings by Fijnbosch, wat op Meeding se buurplaas geleë is.