Pages

30 August 2012

Die held van Somerset-Oos

Barry Vosloo 

Kmdt. Paul Jacobus Erasmus
Kommandant Paul Jacobus Erasmus is op 21 September 1829 gebore, en sterf op 14 Januarie 1881 in Basoetoland. Die verhaal van sy dood word in hierdie storie vertel. Hy tree op 24 Januarie 1853 met Helena Francina Jacoba Vosloo in die huwelik. Sy is op 18 Mei 1832 op Somerset-Oos gebore en is daar op 2 Februarie 1902 oorlede. 

Kommandant Erasmus se skoonseun (?), Johannes Arnoldus Vosloo (1862), wat ook bekend gestaan het as Hans, het 'n lewensbeskrywing van sy skoonvader nagelaat waaruit dit blyk dat hy (Erasmus) as jong seun reeds tekens getoon het dat hy "van onverskrokke karakter was". Hy het onder andere 'n luiperd op kort afstand doodgeskiet en, gedurende 'n Kafferoorlog, toe die meeste boere in die omtrek op kommando was, 'n bende veediewe agtervolg. 

Hans skryf: "In 1879 is die ontwapeningswet deur die Kaapse parlement aangeneem, asook die burgerkommandowet. Kapt. Paul Erasmus word weer vir die wyk Boschberg gekies as kaptein en vanweë sy populariteit, as kommandant vir die distrik Somerset Oos. In 1880 breek die Basuto oorlog uit as gevolg van die ontwapeningswet.” Hierdie oorlog het bekend gestaan as die Basutoland Gun War

Op 1 November 1880 het die burgerkommando na Basoetoland onder bevel van kmdt. Paul Erasmus via Tarkastad en Aliwal Noord na Wepener getrek waar hulle saam met ander kommando's en die Yeomanry Cape Mounted Rifles (CMR) 'n gevegsmag gevorm het om in Basoetoland teen die Basoeto's te veg. 

Hans skryf verder dat Erasmus destyds probleme met een van sy bene gehad het. Op 'n vraag van sy vrou hoe hy dan kans sien om met die seer been na Basoetoland te gaan, het die kommandant geantwoord: "Met God's hulp ga ik. Myn groot¬vader, Paul du Plessis, had op vele kommandos gegaan, en by Doornnek is hy die enige man die uitgekom is toen Landdros Stockenstrom met dertien vermoor is, dezelfde God die myn grootvader beskerm het, leef nog en sal my ook beskerm.” 

Op 2 Desember 1880 het die gesamentlike burgermag van sowat 1 200 man, insluitend wadrywers en touleiers, Basoetoland binnegetrek tot by Dumasvlei waar laer getrek is. Nie ver van hulle af nie was hulle Britse bondgenote met wie hulle kragte sou saamsnoer. Carrington van die Yeomanry CMR [Cape mounted Rifles] sou die oorhoofse bevelvoerder wees. 

Kmdt. Erasmus het ‘n voorgevoel gehad dat hy nie meer lank sou leef nie. Hans skryf: "Omtrent die 2de of 3de Januarie het komdt. Erasmus een nag gedroom dat die Basutos hom beet het en met assegaaie steek. Toe hulle korporaal, Theunis de Klerk, [die tent] inkom om 'n ander man vir die tweede wag te roep, wou De Klerk toe net weet wat makeer oom Paul, waarop die komdt. antwoord: 'Ik droom de swart rieme het my beet en wil my keel afsny en dit is so kielierig.' Ds. Alheit het in daardie tyd baie na komdt. Erasmus se tent gekom en hulle het dan lank alleen gesels. Ds. Alheit, wat destyds van Colesberg was, was as veldprediker saam met die kommando en het hom baie knap gedra.” 

Helena Francina Jacoba Erasmus
Die Staatsargief in Pietermaritzburg hou vier briewe in bewaring wat kmdt. Erasmus aan sy eggenote geskryf het voordat hy op 14 Januarie 1881 tydens 'n skermutseling by Tweefontein in Basoetoland noodlottig gewond is. 

Hans skryf verder: "Vroeg die volgende oggend is die kommando gereed om uit te trek. Ds. Alheit doen 'n gebed en hou daarna 'n kragtige rede na Rigters 9 vers 7: 'En de Here zeide aan Gideon door deze 300 man zult gij de Israelieten verlossen uit de hand der Midianieten.' 

Na die kommandant ds. Alheit 'n handdruk gegee het, het die kommando vertrek na die laer van Carrington. Hier het die kommando’s bymekaar gekom en die 450 man trek toe uit saam met 'n klompie sogenaamde 'loyal' Basutos in die rigting van Tandjiesberg. Onder Tandjiesberg, by Tweefontein, ontmoet hulle die vyand waar dan ook 'n hewige geveg plaasvind. Die burgers bestorm 'n koppie maar 'n aantal van die vyand was op hul regtersy en verdryf hulle. 

Carrington neem egter die linkervleuel met 'n gedeelte van die Yeomanry CMR en 'loyal' Basutos. Carrington beveel nou die burgers om na 'n koppie te storm deur 'n laagte waar die vyand in 'n kloof saampak. Die Somerset-Oos burgers onder bevel van komdt. Erasmus het voor gestorm, op hulle het die Cradock-burgers gevolg en daarna Burgersdorp. Die voorste burgers halt op die bestemde plek maar ongelukkig kom daar 'n verkeerde bevel en hulle storm weer voorwaarts en jaag die koppie uit. Alles is nou in 'n harwar en daarby retireer die 'loyal' kaffers tussen die burgers in met die vyand op hul hakke. Die burgers wis egter nie dat die vyand tussen hulle is nie en kom dit eers agter toe die vyand onder hulle begin moor. 

Almal was later daaroor eens dat die 'loyal' kaffers verraad gepleeg het. Met die verraad het komdt. Erasmus aan die hoof van sy manskappe geval met nog nege ander burgers. Die kommandant was aan die linkerkant van sy kop gekwes deur 'n kierie en het nog 'n sny in sy bors gehad.” 

Gedenknaald ter ere van kmdt. Paul Erasmus. Sy agter-agter-kleinseuns staan weerskant.
‘n Gedenknaald ter ere van kommandant Paul Jacobus Erasmus is op die terrein van die NG Kerk Somerset-Oos opgerig. Die volgende bewoording is daarop aangebring: 

Ter Gedachtenis 
aan 
Commandant Paul Jacobus Erasmus 
sen. van de Somerset Oost burgers 
Gevallen te Tweefontein Basutoland 
op 14 January 1881, in den ouderdom van 
51 jaren 5 maanden 23 dagen. 

Ik ben een vreend'ling op deez aard 
En kort zyn myne dagen; 
En last op last die my bezwaart 
Vermeert myn stof tot klagen. 
Maar eeuwig heil voor 's Vaderstroon 
Versterkt my eens ten Heerlyk loon 
En geeft my moed in lyden