Pages

07 August 2012

Die Van Wyks se voorgeskiedenis

Diek van Wyk 

Lynette Francis het op Maandag 6 Augustus in haar program Praat Saam met twee genetici gepraat waarin hulle dit onder andere gehad het oor die maniere waarop vasgestel kan word hoe iemand se genotipiese afkoms tot by die wieg van die mensdom bepaal kan word. Toevallig is my afkoms so bepaal. In hierdie hoofstuk uit my boek wat ek vir my kinders geskryf het, vertel ek, effens aangepas, daarvan. 

(Lees ook Using DNA to trace ancestry. Klik hier om toegang te verkry - Redaksie)

Elkeen van ons dra DNA, wat ‘n kombinasie van gene is wat van ons vaders en moeders geërf word en wat ons fisieke en baie van ons persoonlikheidseienskappe bepaal. Die een uitsondering is die Y chromosoom wat direk en onveranderd van geslag na geslag van pa na seun oorgedra word.

In beginsel behoort alle manlike persone die wêreld oor dieselfde Y chromosoom te hê wat van die oer-voorvader van alle mense kom - as daar so iemand was. Van tyd tot vind daar egter spontane mutasies, oftewel toevallige veranderinge, van die Y chromosoom by individue plaas. Wanneer daar meer as een mutasie in die loop van die geskiedenis plaasgevind het, dien sulke mutasies as bakens waarvolgens die voorgeskiedenis van ‘n manlike persoon via sy Y chromosoom vasgestel kan word.

Genetici het vasgestel wanneer en waar sulke mutasies voorgekom het, en sodoende kan hulle met ‘n redelike mate van sekerheid die afkoms van enige manspersoon terugvoer tot in die wieg van die mensdom.

My seun Gerrit het sy Y chromosoom laat toets deur die genografiese projek van National Geographic. Daar is vasgestel dat hy tot die Haplogroep l2b1 behoort. ‘n Haplogroep is ‘n reeks merkers wat voorkom by mans wat dieselfde mutasies deel. Gerrit se reeks, wat dus ook myne en my ander seuns en my kleinseuns en al my manlike voorouers in die Van Wyk stamlyn s’n is, is die volgende:  M168 > P143 > M89 > L15 > P123 > M170 > P214 > M223   

Die vet gedrukte merkers wat op M begin, staan vir mutasies. In die loop van die geskiedenis het ons manlike voorouers dus vier keer mutasies van ons Y chromosoom ondergaan. Hiervolgens kon bepaal word waar ons vandaan kom en hoe ons voorsate na Europa beweeg het.

Ons vroegste oer-voorouer moes ongeveer 50 000 jaar gelede in Afrika, waarskynlik in die Skeurvallei, êrens in Etiopië, Kenia of Tanzanië, geleef het toe daar nog maar slegs 10 000 lede van Homo sapiens bestaan het. Dié deel van Afrika was destyds in die oorgang van ‘n droë ystydperk na ‘n warmer en natter klimaat. Van sy afstammelinge, wat waarskynlik as gevolg van die klimaatsveranderinge weg beweeg het, is die enigste lyn wat buite Afrika oorleef het. Dit sluit ons voorouers in.

Die presiese roete wat hulle gevolg het is nie bekend nie. Ongeveer 45 000 jaar gelede moes hulle hulle in Noord-Afrika of die Midde-Ooste bevind het, wat toe uit half-droë grasvlaktes bestaan het. Homo sapiens se getalle het teen dié tyd tot ‘n hele paar tien duisende gegroei en hulle het implemente van klip, ivoor en hout gebruik.

Die eerste mense wat Afrika verlaat het, het al langs die kus beweeg en uiteindelik in Australië beland. Ons voorouers was deel van die tweede golf wat die groot troppe wild na die grasvlaktes van die Midde-Ooste gevolg het. Toe die klimaat om en by 40 00 jaar gelede weer kouer en droër geword het, het een deel van die trekkers in die Midde-Ooste agter gebly, terwyl ‘n ander deel, ons voorouers, agter die groot troppe buffels, antilope, mammoete en ander wild aan deur die huidige Iran na die steppe van Sentraal-Asië beweeg het.

Hier het die groep weer verdeel. Een deel het ooswaarts beweeg en die ander weswaarts na die Balkan, wat bosagtig was. Vanaf die Balkan het hulle tussen 21 000 en 28 000 jaar gelede verder oor Noord-Europa versprei. Dié groep het tot die sogenaamde Gravettiese kultuur van die Later Paleolitiese tydperk behoort, het gejag en in huise van mammoetbene gewoon. Hulle het ook juwele van skulpe gemaak en selfs klere van natuurlike vesels begin weef. Die Vikings stam waarskynlik van hierdie lyn af.

Die vierde en laaste mutasie het tussen 14 000 en 18 000 jaar gelede in Europa plaasgevind by ‘n man wat toe in Suid-Frankryk gewoon het. Dit het gebeur in ‘n tydperk van geweldige klimaatveranderinge wat die einde van die ystydperk gekenmerk het. Sommige van dié voorvader se nakomelinge het terug beweeg na Noord-Europa en dié streek bevolk.

Hier eindig die genetiese spoor van Haplogroep l2b1 sover dit vandag bekend is. Wat ons wel weet, is dat 11% van alle Duitse mans tot dié haplogroep behoort, en dat 35% Skandinawiese mans en 15% Britse mans ‘n ouer geen daarmee deel.

Die verslag wat aan Gerrit gestuur is, sluit ‘n kaart van die migrasieroetes van ons voorvaders in. Ek gee dit op linkerhand weer.