Pages

15 September 2012

Herinneringe aan Morgenster, Rhodesië

Koba Scholtz 

Koba - as 'n jong vrou


[Die skrywer is op 14 November 1918 gebore en op 15 Oktober 2008 oorlede, ‘n maand voor haar negentigste verjaardag. Sy was die die dogter van eerwaarde en mev. J D Moller, wat ’n sendeling op Morgenster was. Sy het haar herinneringe aan Morgenster enkele jare voor haar dood vir haar nageslag neergeskryf – Red.] 





Die voormalige Rhodesië


Die stigter van Morgenster, ds. A A Louw en mev. Louw
Ek het grootgeword op Morgenster – so vernoem na sekuru (oupa; 'n eretitel) A A Louw se huis op Stellenbosch. Ds. Louw het dié sendingstasie in 1891 naby Fort Victoria [nou Masvingo] Rhodesië gestig. Die naam het egter ook ‘n simboliese betekenis: die eerste ster (die Woord van God) wat die lig bring. Morgenster was ook bekend as Mugabeberg want dit is bo-op 'n berg geleë. Ek het dikwels aan die suidekant van die stoep gestaan en gekyk na die pragtige blou berge van Na-Jena; veral as dit in digte mis gehul is en net die blou pieke uitsteek. 

My pa (eerwaarde J D Moller, gebore op 19 Desember 1872; sterf in Augustus 1952) het sy opleiding as sendeling op Wellington gehad en, om ekstra geld te verdien vir sy studies, het hy by 'n wamakery gewerk waar hy houtwerk geleer het. Soos die Here dinge beskik, het dit hom goed te pas gekom op die sendingveld. Daar het hulle nie net gepreek nie, maar ook vir die inboorlinge ambagte geleer. So was hy dan ook in beheer van die chapu (werkswinkel)

Charles Moller
My pa het ook die oorspronklike kerk op Morgenster gebou – die mooiste wat ek nog ooit gesien het met wonderlike akoestiek. Die gebou was T-vormig met 'n laning bloekombome wat na die pragtige hoofingang van gekapte klippe gelei het. Binne was die steengeboude bankies vir die swart mense en die houtbankies vir die wittes. Beide het jou na ‘n kwartier laat voel asof jou rug wil breek. Die preekstoel is ook van hout gemaak. Ek onthou hoe ek een Saterdag saam met my pa in die kerk was toe hy tekeninge gemaak het van 'n gesig – vuil, met trane en 'n hart vol allerande vreeslike diere, 'n tweede met 'n lig wat op die hart skyn en die diere uitjaag, en 'n derde tekening met 'n koning wat op 'n troon in die hart sit en met 'n gesig vol blydskap. Dit was maar seker waar broer Charles (foto bo) en sy seuns hulle skildertalent vandaan gekry het. Charles het later bekendheid verwerf as 'n Zimbabwese skilder.

My pa was 'n vroom man wat baie naby aan die Here geleef het en wat uitgeleef het wat hy van die Here geleer het. Ek hoor hom nou nog sing "Here, maak my Uwen wegen deur Uwe Woord en Gees bekend....." en " Ek het Uw hartlik lief, o Heer!" Hy het ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak. Ek moet sê, hy kon nogal lank bid. Ons het dikwels aan die slaap geraak onder gebed. Sondagaande moes ons almal bid – van die oudste tot die jongste. Ek onthou hoe ek dikwels, as ek op hoërskool of op kollege in die versoeking gekom het, my pa voor my gesien wat met gevoude hande bid vir "klein Kobatjie". Ek dadelik krag gekry het om die versoeking te weerstaan!

Die heimat van die Mollers: Hamburg, Duitsland
My pa het op 'n keer moeilikheid met sy hart gehad en het van die geleentheid gebruik gemaak om sy voorsate te gaan navors by die argiewe in Kaapstad. Hier het hy die kosbare familieregister opgestel wat nou die ruggraat van 'n boek oor die Mollers van Hamburg sal wees. 

Hy het uit die sending getree toe hy al in die 70 was. Hulle het toe op 'n plaas, Riverside, naby Fort Victoria, gaan bly. Na sy dood, kon Mammie natuurlik nie alleen op die plasie bly nie. Die plasie, wat sy vir £4000 kontant gekoop het, het sy vir £6000 verkoop. Sy is in 1964 in die hospitaal op Fort Victoria oorlede. 

Klipkop in die omgewing van Morgenster
Morgenster is omring met ruwali (klipkoppe). Ons het name vir elkeen gehad: Welkomrots, soos jy by Morgenster inkom; World's View, 'n toeriste- aantreklikheid waarvandaan 'n mens twintig myl en verder in alle rigtings kan sien. 'n Ander ruwali het ons Boompie Alleen genoem – 'n baie hoe kop met 'n holte heelbo. In die holte het 'n hute (waterbessie) gestaan wat die heerlikste pers waterbessies gedra het. Klankrots het ‘n weerklank drie tot vier keer herhaal. Op Chiwaiwai was daar 'n ronde gat, omtrent 2½ duim in deursnit, waaruit 'n stroom water omtrent 3 voet hoog gespuit het; 'n natuurlike fontein. In die holtes van Pienkblommetjiesrots was daar swart grond. In Augustusmaand het daar tussen die ander rotsplante 'n bolplant gegroei wat pragtige pienk lelies sonder enige kelkblaartjies gedra het. Sover ek weet was dit enig van sy soort. 

Die Prins van Wallis, 1919
Omstreeks 1924-25 het die Prins van Wallis en sy vrou 'n kerkdiens op Morgenster kom bywoon. Irene Jackson, die mooiste sendingmeisie, het 'n bossie van die pienk blommetjies wat op Pienkblommetjierots gepluk is, aan haar oorhandig. Ons het gewoonlik maar kaalvoet geloop. Irene het egter 'n paar blinkleerskoentjies met wit sokkies vir die okkasie gekry en moes oefen om 'n kniebuiging te maak. Sy moes haar trui uittrek voor die oorhandiging. Dit was egter Augustusmaand en nog 'n bietjie koel. Ek onthou nog duidelik die prinses se woorde: "Thank you. Don't catch a cold, now". 


Verder terug in die geskiedenis, nog voor my tyd, was daar nog luiperds in die omgewing van Morgenster. So het Soulby Jackson en Charles, my broer, een keer omtrent 'n myl van Morgenster af onder die berg gespeel toe hulle 'n luiperd gewaar. Soulby het kopgehou, die dier reg in sy oë gekyk en vir Charles gesê hy moet sy hand neem en hom huis toe lei. Die luiperd het hulle gevolg, maar nie aangeval terwyl Soulby hom stip in die oë gekyk het nie. Dit was seker maar 'n baie benoude en lang pad. Toe hulle by die huis kom, het die luiperd gebrul en omgedraai. 'n Ander insident was toe Rynie, my oudste suster, deur 'n slang gepik is. Die meidjie by haar, het haar toe op haar rug geabba en so vinnig moontlik na die dokkotera (dokter) geneem terwyl sy die gif uitsuig en uitspoeg. 

Cornelis Johannes van Rooyen Smit
Oupa Smit (Cornelis Johannes van Rooyen Smit, Mammie se pa) het graag tuingemaak en so het hy eenkeer koring gesaai. Toe die koring geoes is, is die werf skoongevee en die koring is daar uitgeslaan. Voor my geestesoog sien ek nou nog hoe die swart vrouens in 'n kring al singend om die hoop, eers vorentoe en dan agteruit geloop het en almal tegelyk die koring uitgeslaan het met stokke waarvan die een punt gebuig was. Daarna is die koring van die kaf geskei deur dit in 'n ruseru (plat mandjie) hoog in die lug te hou en stadig uit te gooi. Die saad val direk grond toe en die kaf waai weg. Die kaf is later in 'n hoop bymekaar gehark. Hierdie hoop was 'n baie lekker speelplek. Ons het daarin bollemakiesie geslaan, wegkruipertjie gespeel en saans sommer daarin onder die sterre geslaap. 

Die pastorie op Morgenster, omring van vrugtebome
Op Morgenster het die heerlikste vrugte gegroei – verskillende soorte piesangs, verskillende soorte perskes, sitrusvrugte, wit en pienk koejawels. Die koejawels is seker deur die voeltjies versprei want dit het later wild in die veld gegroei. Die koejawels het egter selde ryp geword want die swart mense het hulle te gou afgepluk. Daar het ook baie veldvrugte in die omgewing gegroei. Feitlik die hele jaar deur was daar iets om te eet. In Desember was dit mashuku, 'n heerlike koejawelagtige vrug. 'n Baie lekker soet-frank vrug was die msaza – 'n bietjie melkerig, wat jou lippe aanmekaar laat vassit het. 

Op Morgenster was 'n klein skooltjie vir blankes waar ons tot st. 5 kon leer. In die eerste vier skooljare was die onderrigmedium Engels en eers in st. 3 het Afrikaans bygekom. In die pad voor die skool was daar swart potklei. Wanneer dit gereën het, het ons gedurende pouses te lekker in die gladde potklei geskaats en geval. Wanneer die pouse verby was, het ons met ons moddervoete en -klere in die klas gesit. Een keer het Jamie Jackson 'n slang gekry, die ding aan sy stert gegryp en vinnig in die rondte geswaai sodat dit hom nie byt nie, by die skool ingehardloop en die reptiel voor die onderwyseres neergegooi met die woorde: "Time-Time, there's a snake!" Die slang het gelukkig by die deur uitgeseil. Julle kan self dink hoe groot die konsternasie was! 

Ná st. 5 is die sendingkinders na Suid-Afrika gestuur. Die meeste is na Stellenbosch, maar Petrus van der Spuy, 'n onderwyser van Zeerust, het kom reklame maak vir sy skool en so is die Mollers, van Charles af, na Zeerust. Zeerust was te ver om vir kort vakansies huis toe te gaan. Ons moes dus maar by skoolmaats kuier.