Pages

04 September 2012

Wat die briewe alles onthou

Danie Marais, BY (bylaag tot Die Burger), 1 September 2012 


Bernard du Plessis by die uitstalling van sy lewenswerk – “’n posgeskiedenis van die Boereoorlog”. 
Foto: Michael Hammond 

Hy het “mal geraak” toe hy briewe uit die oorlog begin versamel, en vandag is sy versameling sowat R15 miljoen werd. Maar wat gaan tog daarvan word? vra Bernard du Plessis omgekrap vir Danie Marais. 


‘Sonder publisiteit gebeur iets vreesliks... NIKS!” het die Amerikaanse sirkusbaas van die sogenaamde Greatest Show on Earth, P.T. Barnum (1810-1891), glo gesê. 

Bernard du Plessis beantwoord my aanhaling van dié woorde met ’n veelseggende, skewe glimlag en kopknik. Dit is ook heeltemal te verstane dat Du Plessis tegelyk teleurgesteld en oorstelp is met die ontvangs en bywoning van sy eie klein Greatest Show on Earth of, soos hy dit stel: “Die grootste nagevorste en nageslane versameling posgeskiedenis oor die Anglo-Boereoorlog in die wêreld vandag.” 

Ons gesels op die laaste dag van sy skielik druk besoekte eenman-uitstalling terwyl (meestal ouer) mense kom gesels en gelukwens. 

“Ek’s verbaas dat die mense nou só opdaag. Dit moes eintlik van die begin af so gewees het,” brom Du Plessis voordat hy ’n entoesiastiese vakgesprek aanknoop met oudregter Robert Goldblatt, ’n man wat onder seëlversamelaars hoog gereken word vir sy naslaanwerk Postmarks of the Cape of Good Hope – The Postal History and Markings of the Cape of Good Hope and Griqualand West 1792-1910. 

’n Mens sou Du Plessis se ontsagwekkende uitstalling ook kon beskryf as een van die mees ambisieuse en omvangryke selfopgelegde skooltake in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dié afgetrede prokureur van Bethlehem en later Alberton, wat tans op Stilbaai woon, het immers R120 000 uit sy eie sak betaal om ’n maand lank sy versameling van posstukke (meestal briewe, geadresseerde koeverte en poskaarte, maar ook seëls, kabeltelegramme, foto’s en koerantuitknipsels) uit die Anglo-Boereoorlog in die Kasteel in Kaapstad uit te stal en só uiteindelik sy allesverterende passie van 40 jaar met die publiek te deel. 

Wanneer jy tussen die 333 staalrame met ongeveer 5 250 noukeurig en uitvoerig geannoteerde posstukke deurloop, besef jy hierdie is net die oortjies van die seekoei, of dalk liewer die stertvin van die blouwalvis; die vrugte van ’n byna kompulsief-obsessiewe lewenswerk wat volgens Du Plessis begin het met sy belangstelling in seëlversamelary. 

“Ek het 40 jaar gelede ’n brief gerig aan ’n Boere-krygsgevangene in die hande gekry. Sy naam kan ek nie meer mooi onthou nie, maar dit het my geprikkel om te weet wie hy is en wat met hom gebeur het. Toe’s die gort gaar. Toe begin ek. En later begin ek mal raak. 

“Die spul het my 40-plus jaar geneem om te versamel, en ek het letterlik omtrent al elke veilingkantoor in die wêreld gekontak om die goed in die hande te kry. Die laaste 13 jaar het dit my geneem om elke liewe posstuk wat ek het, na te vors, voor te berei, kommentaar te tik en lewe te gee. 

“Ek het 35 919 Boerekrygsgevangenes op my komper. Die lys het my nege maande geneem om te korreleer en te voltooi ten opsigte van krygsgevangene-nommer, van, voorname, ouderdom, plek waarvandaan hy gekom het, kommando by wie hy gedien het, waar gevange geneem, waarheen gestuur, watter Britse transport, ensovoorts. 

“So, as ek ’n brief kry gerig aan, sê maar, Danie de Beer, dan weet ek presies wie hy is en ek las sy geskiedenis by. Anders is dit ’n dooie stuk papier.” 

Wat Du Plessis bedoel met “lewe gee”, word duidelik wanneer jy met hom deur sy versameling – dit wil sê van 1899 en die beleg van Lady¬smith tot deur die konsentrasie- en krygsgevangenekampe en die jaar 1902 – loop. Hy het ’n tydlyn van die oorlog skouspelagtig ingekleur met sy versameling – “’n filatelistiese geskiedenis in 90 hoofstukke” – en oral langs die pad wys hy jou op die merkwaardige dog vergete lewensverhale en vreemde feite waarvan sy posstukke en knipsels getuig. 

Die storie van Leon “Bietjie” Petrovsky, byvoorbeeld: “Hy was ’n Rus van Warskou wat saam met die Boere baklei het. Hulle het hom ‘Bietjie’ genoem, want hy kon nie ‘Boertjie’ sê nie. Toe het hy goed gesê soos ‘ek jammer vir Bietjie’ en ‘ek help die Bietjie’ in plaas van ‘Boertjie’. 

“Hy is geskiet op 25 Desember 1900 toe hy ’n trein wou kaap by Wasbank in Natal. Daarna is hy deur mev. Gezina Uys, die vrou van Vaalpiet Uys, versorg. Hy’s dood op die plaas Uitzoek, en later is sy oorskot by die kerk in Utrecht, Natal, begrawe. Hier sien jy ’n inkomende brief van Rusland aan hom te velde. 

“O, en hier’s ’n poskaart waar P.A. [Piet] Cronjé aangesê word om na ’n skietoefening toe te kom.” [Genl. Cronjé sou later onvergeetlik oorgee by Paardeberg en hom ná die oorlog by ’n sirkus aansluit.] 

’n Ander raar maar waar gedokumenteerde verhaal is dié van Wata Te Wahahuia (John Walter Callaway), ’n Maori-kryger wat saam met ’n Nieu-Seelandse regiment aan die ABO deelgeneem het. Wahahuia kan as ’n voorloper van die gevreesde All Black-vleuel Jonah Lomu beskou word, want in ’n brief van 19 November 1899 gee hy te kenne dat hy die Maori-oorlogskreet gekomponeer het wat later as die haka bekend sou staan. By sy aankoms in Kaapstad op 23 November 1899 het hy dié haka die eerste keer op Suid- Afrikaanse bodem uitgevoer. Alle toeskouers het hulle glo boeglam geskrik. 

Wahahuia is op 22 Julie 1901 in ’n skermutseling naby Lindequesdrif gewond en teruggestuur huis toe, waar hy later die eerste Maori-offisier in die Nieu-Seelandse weermag geword het. 


Roubrief uit 'n konsentrasiekamp
Wat ’n mens egter die meeste aan die hart gryp, is die roubriewe uit die konsentrasiekampe. Al die koeverte wat doodstydings moes oordra, is met swaar swart rande omraam, en binne was swart stukkies flennie of kant – dikwels saam met die makabere foto’s van oorlede geliefdes, vele van hulle kinders of babas. Die gotiese verpakking en skrikwekkende foto’s staan in grieselrige kontras met die meestal formele, effe afstandelike toon van die briewe. Hierdie posstukke en foto’s maak iets van die oorlog se onmeetlike lyding byna ondraaglik tasbaar, maar herinner tegelyk aan die waardigheid van briefkorrespondensie. Briewe kan verpletterende nuus oordra met ’n voelbare gravitas wat SMS’e, Facebook-updates, twiets en e-pos met aanhangsels nooit sal hê nie. 

Dit is egter nie net die feit dat slegs ongeveer 3 000 mense sy uitstalling kon besoek wat Du Plessis tot kommer stem nie, maar ook wat van sy versameling met ’n geraamde waarde van R15 miljoen gaan word. 

“Ek het gedink, ek is nou 69. My tyd raak min. Ek moet dit nou een keer in my lewe uitstal om te wys wat ek gedoen het. Maar dit was one shot, finish en klaar. Jy gaan dit nie weer sien nie, my vriend. Ek belowe jou. Ek gaan huil soos ’n baba dié dag wanneer dit gebeur, maar ek sal dit moet verkoop. My kinders stel nie belang nie. Wat gaan ek daarmee maak? En ek sê jou as ek die telefoon optel, kan ek binne 24 tot 28 uur ’n koper in die buiteland kry, maar dis ons erfenis. Dit moet hiér bly. 

“Sommige mense begin nou besef die Afrikaanse kultuurtoekoms lê in die geskiedenis van ons eie mense. As jy nie jou geskiedenis ken nie, het jy geen kans op ’n toekoms nie. Want as jy nie trots is op jou geskiedenis nie – van jou mense, van jou familie nie, is jy op niks trots nie, my seun. 

“En wat my verskriklik pla, is dat daar so min belangstelling is van mense wat behoort belangstelling te hê. Want as dit nie behoue bly vir ons nie, is ons verlore. Quote me! As jy nie jou verlede kan koester nie en bou op wat goed was vir die toekoms nie, het jy niks nie.”