Pages

18 November 2012

Hoogmoed kom voor die val

Af en toe stuur iemand ‘n storie aan Jaarringe wat min met die genealogie te doen het. Sulke stories is dikwels egter só tipies van die ouer geslag se grootworddae dat hulle vertel móét word.

Die volgende kostelike vertelling deur Egbert Prinsloo, is een hiervan. Myra Bosch het dit ingestuur.
 
Studentetyd het ek met die trein tot by Ermelo gery waar my pa my kom haal het, of met die spoorwegbus gruispadlangs Amsterdam toe. Niks g'n studentemotor nie - miskien 'n breëband Hercules-trapfiets in Pretoria.  Pa was die dokter, maar geld was skaars.

So met die aankom na die dorp, loop die stofpad oor die Ingwempezi se motorbrug.  Duskant die rivier lê die onderdorp.  Hier woon die pensioenarisse en ander agtergeblewenes. Nie die eufemistiese agtergeblewenes van nou se dae nie, maar ons eie mense wat leef van die Here se genade.  Baie kinders, jong vrouens en ou mans.  Leef van slappap wat in skywe gesny word.  'n Pond boerewors moet 'n week lank hou. Die grootmense eet wors en papsnye en die kinders, papsnye en sous. Dis al.

Oorkant is die bo-dorp met die skool.  Hier woon die Elite: Mevrou Dokter en Mevrou Dominee, Mevrou Assisitent-Vrederegter en almal wat tel.  Daar is twee winkels:  Leo Reif en A.E. Dender, maar Dender is nie deel van die Elite nie want hy is nie wit nie.  Hy is ‘n Indiër en die meeste dorpsmense koop op skuld by sy winkel.

Buite die dorp is 'n paar hoewes.  Hier woon die Regte Elite.  Op The Manor woon die major (The Major, asseblief), Dawid Louw en madam Sue Louw.  Sy meng nie juis met die Elite nie, en glad nie met die hoi-polloi van die onderdorp nie.  Hoed, handskoene, handsak en 'n lorgnette waardeur sy bo-oor die gepeupel tuur. Die Elite word met 'n stywe kopknik en 'n "How are you, my deah?" gegroet.  Die armes van die onderdorp bestaan nie.

So nou en dan rig sy 'n koninklike uitnodiging: "Mrs. Louw has the honour or inviting Mrs. Jackie Prinsloo to tea at The Manor, on Saturday, 10 October 1946.  RSVP".   Almal wat opdaag word gegroet met 'n "Pleased to have you, my deah" en tee word bedien uit 'n silwer teeservies en pinkie in die lug gedrink uit fyn Spode-teekoppies.  Regte Wimbledon-komkommertoebroodjies word dan bedien.

Die Major is 'n veteraan van die Tweede Wêreldoorlog en meer Brits as die Britte.  Altyd ge-collar en ge-tie, meestal met die das van een van die koninklike regimente, baadjie van Skotse weefstof, toeknooptrui of onderbaadjie, langbroek van koordferweel, Skotse stapskoene en 'n kordaat hoedjie van ruitjiesgoed.  Sy snorretjie is styfgedraai met die twee punte na bo.  As hy dorp toe gaan, dra hy altyd 'n rottang en 'n kierie.  Drink ook net enkelmout Skotse lewenswater.

Rasegte hogelui, tot dáárdie dag ...

Pagel se sirkus val die dorp binne met Tiekie, Francesco die Nar, sweefstok-artieste in hulle noupassende leotards en die blaasorkes heel voor.  Die seuns seuns loer grootogig en kry dwarsklappe van hulle ma's oor hulle origheid, die ou Swazivrouens bedek hulle oë maar loer van agter hulle hande na die spektakels, laat elke nou en 'n "Yo! Yo!" hoor vir die oneerbiedige Abelungu.  Vrouens loop mos nie so nie!

Die tent is opgeslaan en die leeu-arena met sy leeutrone teen die tralies opgestel – reg voor die gestoeltes van die hogelui.

Tydens die laatmiddagvertoning kom die Louws heel laaste in (die Major so 'n treetjie agter Mevrou) en gaan sit ewe vernaam in die voorste gestoeltes. Hy is so effens wankelrig na 'n paar sopies versterkwater.  Alles verloop vlot; die sweefstokvertoning, narre, honde, sjimpansees en goëltoertjies volg mekaar vinnig op.

Toe stap die leeutemmer in, uitgevat in sy manel, pluiskeil, swart knielarse en wit rybroek. Hy klap met sy sweep en die leeus klim grommend en weerbarstig op hul trone – reg voor die Elite. Een groot maanhaar swiep-swiep sy stert, deur die traliewerk, heen en weer voor die Major se neus. Die Major is ook nie links nie, skop met sy twee voete teen die ringmuur vas, gryp die stert, skree in sy diep, militêre basstem "Waaa!" en gee die stert 'n harde pluk.

Die maanhaar bespuit hom daar en dan, van kop tot tone, met 'n helder geel straal.  Chaos! En die reuk!  Die hele tent skree van die lag!  Die Major en sy Mevrou moes toe maar die aftog blaas - tussen al die toeskouers deur, buitentoe.

Die Manor se werkers het later vertel dat die Major hom poedelkaal moes uittrek daar buite op die grasperk en dat ou Dlamini hom met die tuinslang afgespuit het.  Niemand wou uiteindelik die klere hê nie en dit is toe maar verbrand.

Ou Dlamini sê dat hy van daardie dag af nie meer die honde se slagysters op die grasperk hoef op te tel nie.  Die leeureuk het sy werk gedoen en al wat 'n hond is, wys sy respekte deur stywebeen en hare orent rondom die grasperk te loop en sy besigheid in die bosse te gaan doen.