Pages

24 January 2013

Die waarde van die internet

Die internet speel ‘n waardevolle rol in die opsporing en hereniging van verlore familie om sodoende ‘n mens se familieregister te voltooi.
 
Gordon Comley (links) en Koos du Preez ná hul hereniging.
Foto: Maryke Swart.

Onlangs het BEELD berig van twee broers wat met behulp van Facebook na 57 jaar mekaar weer vir die eerste keer gesien het. Klik HIER om die berig te lees. Dié koerant se Maryke Swart berig hoe Gordon Comley (57), wat as baba aangeneem is, sy ouboet, Koos du Preez (60), die emosionele weersiens beleef het.

In Bethelem waar Comley tot op sewejarige ouderdom gewoon het, is hy met sy ouboet herenig. Comley is twee dae ná sy geboorte deur ’n maatskaplike werker van sy biologiese ouers, Fanie en Poppie du Preez, uit hul huis in Steynsrus weggevat. Sy pa was toe werkloos en met vier kinders wat reeds versorg moes word, het die “welsyn” ingegryp.

Du Preez het nooit moed opgegee in die soektog na sy boetie nie en hom uiteindelik met behulp van Facebook en ’n maatskaplike werker opgespoor.

Vier jaar gelede het ‘n eiendomsagent van Jeffreysbaai vertel het hoe die elektroniese telefoongids van Suid-Afrika haar gehelp het om haar aangenome dogter se biologiese ouers, na ‘n soektog van baie jare, op te spoor.

Agtien jaar gelede het sy en haar man ‘n baba aangeneem. Jare terug het die vrou haar dogter belowe dat sy haar regtige ouers opgespoor sal hê teen die tyd as sy haar 18e verjaardag vier. Die soektog was lank aan die gang.

Die ma het selfs ‘n beroepsopspoorder groot geld betaal om te help. Sy het nog nie weer van hom gehoor nie.

Intussen het die dogter se 18de verjaardag nader gekruip. Die ma het weer deur al haar dokumentasie gegaan om opnuut leidrade te probeer vind. Daar was ‘n adres – in ‘n ander provinsie -- op een of ander dokument. Toe sy op ‘n keer daar was, was daar niemand en die bure het vertel die mense wat daar woon se van nie ooreenkom met die van waarna sy soek nie.

Heelwat later en ná nog baie navrae is die dogter se biologiese ma se nooiensvan nagespeur. Net dit. G’n name, voorletters of adres nie. ‘n Rukkie ná die dogter se 18e verjaardag was die ma bra bedruk. Die belofte is nog nie angekom nie.

Toe onthou sy dat iemand haar van die elektroniese telefoongids (klik HIER) vertel het. Met wanhoop was sy voor haar rekenaar op die internet. Sy het dogter se biologiese ma se nooiensvan op die elektroniese telefoongids ingetik. Daar was ‘n raps meer as 100 van hulle in die land.

Noukeurig het sy hulle een vir een deurgekyk, nie dat sy gedink het sy sou iets van waarde vind nie. Dit was nog ‘n dag, nog ‘n metode, nog ‘n probeerslag. Ná enkele minute kon sy nie glo wat sy voor gesien het nie. Langs een van diegene op die lys voor haar, was die einste adres waar sy tevore gaan soek het.

Sy het sonder aarseling gebel. Dit was die dogter se een ouma (haar biologiese ma se ma). Daar was baie trane en baie vreugde.

En dogter weet nou waar sy vandaan kom.

Met een brokkie inligting het die elektroniese telefoongids die geheim ontrafel.

Die verkeerde van was toe al die tyd die pa s’n van wie die ma intussen geskei is.