Opvoeding en godsdiens in die 18de eeu: Die Moslems
Opvoeding en godsdiens was nou verweef in Moslem-skole, selfs meer so as
by die Christen-skole.
Die Heilige Koran
Die eerste madressa is in 1793 in Dorpstraat in Kaapstad gestig. Die
nuwe Britse heersers se groter godsdiensverdraagsaamheid het die Moslems die
vrymoedigheid gegee om in 1800 toestemming te vra om ’n moskee te bou. Die
madressas het meer swart en bruin leerlinge as al die stad se ander onder
wysinstellings saam opgevoed. In die 1820’s het ’n skool met ’n imam aan die
hoof meer as 370 slawe ’n opvoeding gegee. Twee jaar later het ’n selfs groter
madressa 425 vryswartes en slawe onderrig. Talle skole het ’n bejaarde afgetrede
imam as hoof gehad. In die 1850’s is daar berig dat die twee groot skole
leerlinge geleer het hoe om die Koran in Arabies te lees. Afrikaans was die Kaapse Moslems se taal. In Moslem-skole het leerlinge
Afrikaans in Arabiese skrif leer lees en skryf. In die 1840’s het ’n waarnemer
geskryf: “Al die Maleiers in Kaapstad praat Hollands, maar die beter stand verstaan en
skryf Arabies en Maleis.” Die Nederlands was eintlik Afrikaans (of ’n
Kreool-Nederlands). Die eerste Afrikaanse boek, wat omstreeks 1856 gedruk is,
het Arabiese skrif gebruik. Teen die einde van die eeu was daar minstens elf
Arabies-Afrikaanse werke.
Arnoldus Pannevis
Toe Arnoldus Pannevis dit vroeg in die 1870’s oorweeg het om die Bybel
in Afrikaans te vertaal omdat daar so baie wit en bruin ongeletterde mense was,
was dit reeds ’n gevestigde medium vir godsdiensonderrig in die Kaapse
Moslem-gemeenskap. Engels het die taal van die Afrikaner-elite in Kaapstad en
op talle plattelandse dorpe geword. J.H.H. de Waal, een van die grootste
voorstanders van Afrikaans, het later geskryf dat net die Moslemgemeenskap teen
die 1890’s steeds lojaal teenoor Afrikaans was.
Uit: Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika saamgestel deur Hermann Giliomee en Bernard
Mbenga. In 2007 uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.