Pages

18 April 2013

158 Hugenote: 325 jaar se invloed

Dr. Andrew Kok, Durbanville (Dr. Kok se telefoonnommer is 082 500 6758)

Die naam Hugenoot was aanvanklik ’n skelnaam en het eers baie later ’n erenaam geword. Die Franse Protestante wat in die 1600s uit Katolieke Frankryk gevlug het, het na hulself as “reformees” (gereformeerdes) verwys. Prof. Christo Viljoen vertel van die dag toe die “reformees” Marais, Fouché, Malherbe, Pienaar en Le Roux Suid-Afrika bereik het. Prof. Viljoen, afgetrede ingenieur en akademikus, is voorsitter van die Hugenotevereniging van Suid-Afrika.

Aankoms van die eerste Franse Hugenote
Vandag, 325 jaar gelede, het die eerste Hugenote-skip anker gegooi aan die suidpunt van Afrika. Nie heeltemal in die Kaap self nie, maar ’n entjie noord in Saldanhabaai. Weens ’n stormwind moes die Voorschoten se kaptein dáár land. (In dokumente verwys hy na ’n “Contrari-wind”.) Só het die voorsate van vandag se Marais's, Fouchés, Malherbes, Pienaars en Le Rouxs vir die eerste keer hul nuwe vaderland gesien.

Die dag daarna, op 14 April 1688, het die kaptein ’n Khoikoi-boodskapper na die Kaap gestuur om hulp te vra. Die destydse goewerneur van die Kaap van Goeie Hoop, Simon van der Stel, het toe die Jupiter gestuur met lewensmiddele en toue om die Franse vlugtelinge na die Kaap te bring, waar hulle toe op 26 April aangekom het. Die Voorschoten was die eerste van sewe skepe wat Hugenote na die Kaap sou vervoer. Dié georganiseerde migrasie van Hugenote het tussen 1688 en 1689 onder die vleuel van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) geskied. Etlike Hugenote het hulle voor dié datum aan die Kaap gevestig, en nog meer het ná die datum daar aangekom.

Maria de la Quellerie
Die heel eerste Hugenoot aan die Kaap van Goeie Hoop was Maria de la Quellerie, die eggenote van kommandeur Jan van Riebeeck. Haar pa was ’n Hugenotepredikant wat met sy gesin na Nederland gevlug het. In Oktober 1671 het die “vrij wagenmaker” Francois Villion (later Viljoen) in die Kaap aangekom, die eerste Hugenoot om hom hier te vestig. Daarna het Jean de Long (de Lange) en sy gesin in 1685 gevolg, en die volgende jaar die broers Guillaume en Francois du Toit, almal op eie inisiatief.


Die Edik van Nantes
Eers met die koms van die sewe Hugenote-skepe het die Hugenote se getalle noemenswaardig toegeneem. Dit was die gevolg van die Here XVII se besluit op 3 Oktober 1685 om die verversingstasie aan die Kaap uit te bou. Dus moes die bevolking aan die Kaap uitgebrei word met “geskikte persone” wat hulself kon onderhou. Enkele dae later is die Edik van Nantes wat in 1598 deur koning Hendrik van Navarre uitgevaardig is en aan die Protestante in Frankryk godsdiensvryheid gewaarborg het herroep, en dít het die grootskaalse vervolging van gereformeerdes in Frankryk, later bekend as Hugenote, ontketen.

Tienduisende het na buurlande soos Duitsland, Nederland en Switserland gevlug, ander tot so ver as Engeland, Ierland en die VSA. Só het die VOC ’n geleentheid gekry om immigrante vir sy verversingspos aan die Kaap te werf. Twee jaar later, op 27 Oktober 1687, het die Here XVII sy vorige besluit herbevestig. Hulle het ook ’n eed van getrouheid goedgekeur wat die Hugenote moes aflê en ’n orde en reglement aanvaar. Die reglement het bepaal dat:

Eed = verskeep. Vervoer na die Kaap sou kosteloos op die skepe van die VOC voorsien word, mits die passasier ’n eed van getrouheid aan die Kompanjie aflê.

’n Tas is vir klere. Geen bagasie, behalwe vir persoonlike gebruik, mog saamgeneem word nie.

Wie werk, het brood. Die vlugtelinge moes hulle aan die Kaap vestig en hulself onderhou met landbou, industrie, wetenskap, handwerk of ’n ambag.

Weinig gunste. Die Kompanjie sou grond vir ’n boerdery verskaf, maar die Hugenote moes landbougereedskap, saadkoring en vee koop.

Geen retoer. Die koloniste moes vir vyf jaar aan die Kaap bly en self betaal as hulle wou terugkeer na Nederland.

Die eerste Hugenote-skip wat Tafelbaai binnegevaar het, was die Oosterland, op Sondag 25 April. Die Oosterland was eintlik die derde skip met Franse vlugtelinge wat uit Nederland vertrek het, maar het in ’n rekordtyd van twee maande en 22 dae die Kaap bereik. Aan boord was onder meer Jacques de Savoye en sy gesin, sy huisknegte Jean, Jacques en Daniel Nortie (stamvaders van die Nortier- en Nortjé-families in Suid-Afrika) en die geneesheer Jean Prieur du Plessis en sy gesin.

Benewens die Voorschoten en Oosterland het die Borssenburg, De Schelde, China (soms verkeerdelik aangedui as die Berg China), Zuid-Beveland en Wapen van Alkmaar Franse vlugtelinge na die Kaap vervoer. Kleiner groepe Hugenote het tot ná 1700 aangekom. Só byvoorbeeld het die drie broers, Pierre, Abraham en Jacques de Villiers, op 6 Mei 1689 aan boord van die Zion gearriveer. Op 2 Julie 1699 het goewerneur W.A. van der Stel die VOC gevra om nie nog Franse Kaap toe te stuur nie, weens voortdurende twis met die Franse vryburgers. Enkele Hugenote het tóg daarna op eie stoom na die Kaap gevaar, soos Pierre Labuschagne (1710), Jacques Naudé (1718), Jean Blignaut (1723) en Francois Guilliaumé (Giliomee, 1726).

Prof. Pieter Coertzen se gesaghebbende boek
Die aantal Hugenote wat in totaal na die Kaap gekom het, was relatief min. In die boek Die Hugenote van Suid-Afrika 1688-1988 gee prof. Pieter Coertzen aan dat daar net nege Hugenote aan die Kaap gewoon het voor die grootskaalse koms. Tussen 1688 en 1689 het nog 158 Hugenote as deel van die VOC se amptelike immigrasiebeleid na die Kaap gekom. Teen 1702 is die vryburger-bevolking op 1 368 gestel, waarvan 250 Hugenote was amper 20% van die totaal.

Die Strooidakkerk in die Paarl
Die Hugenote het plase op verskeie plekke ontvang. Dis opsetlik tussen die Nederlandse vryburgers ingedeel: ’n paar in die Tafelvallei; sommige in die omgewing van die huidige Somerset-Wes en Stellenbosch, maar die meeste in die Bergriviervallei tussen die huidige Franschhoek (oorspronklik Olifantshoek) en Wellington (Wagenmakersvallei). Al die Hugenote wat oos van die Kaap gevestig is, was aanvanklik beskou as lidmate van die Stellenbosch-gemeente. Ds. Pierre Simond wat saam met die Hugenote-skepe gekom het was daar die leraar en het hulle vir ’n aantal jare in Frans bedien. In 1691 het die gemeente die reg gekry om ’n eie kerkgeboutjie op te rig digby die huidige kerkgebou van Simondium. Later sou dit verskuif na waar die Strooidakkerk in die Paarl deesdae staan.

W.A. van der Stel het die gebruik van Frans sterk ontmoedig. Op 20 Maart 1703 het hy aan die Here XVII onderneem om burgers te verplig om Nederlands in die skool en kerk te gebruik.

Dít, tesame met die Hugenote se verspreiding tussen die Nederlandse vryburgers en hul ondertrouery met die Nederlanders, het gesorg dat Frans as gebruikstaal gekwyn het. In 1707 is die gebruik daarvan in amptelike kommunikasie met die owerhede verbied. Teen 1783 het die besoekende dier- en voëlkundige Francois le Vaillant nog net een bejaarde man in Drakenstein aangetref wat Frans magtig was.

Die eerste Hugenote was hoofsaaklik geskoolde ambagsmanne en vakkundiges, en onder hulle het beroepe getel soos skrynwerker, wamaker, ystersmid, skoenmaker, tandarts, barbier, “chirurgyn” en onderwyser. Van boerdery het hulle uiteraard nie veel geweet nie, buiten vir enkele wynmakers en brandewynstokers. Anders as wat algemeen geglo word, het die Hugenote nie van meet af aan wingerde aangelê nie. Dit neem tussen vyf tot sewe jaar voor ’n aangeplante wingerd in produksie kom. Die Hugenote moes ’n bestaan maak en het daarom gefokus op kontantgewasse soos koring, vrugte, groente en vee. Heelwat later sou hul nasate van die mees vooraanstaande wynboere van die Wes-Kaap word.

Die vestigingsjare was baie moeilik. Die Hugenote moes gewoond raak aan die land en die klimaat, landerye aanlê op onbewerkte grond en daarby het weinig van hulle vorige ervaring van boerdery gehad. Twiste met die politieke raad en die goewerneurs het gedurig opgevlam. Reeds op 29 Junie 1691 skryf Simon van der Stel aan die Here XVII ofskoon die Kaap nog meer koloniste nodig het, hy nie nog Franse wil hê nie.

Veral nie “franse Cadets of personen van qualiteit, maar wel arbeijdsame en vrome boeren en handwerksluijden waar onder de Nederlanders en hoogduijtschers bevonden zin, an ander natien hier de love af te steeken."

Tog het die Hugenote ’n blywende impak op ons land gehad. Pieter Coertzen stel dit só: “Die invloed en nalewing van die Hugenote op die gebied van godsdiens, vryheid van geloof, kultuur en landbou, het tot vandag toe bly voortbestaan in Suid-Afrika.”

Hierdie artikel is ontleen aan BY, 13 April 2013.