Pages

15 July 2012

My familiegeskiedenis

Barry Vosloo

Die titel van my familiegeskiedenis is Soos die skakels in ‘n ketting (1649 – 2010), Boek 1. Dit beslaan 326 bladsye. Ek het reeds begin om die eerste twee hoofstukke van Boek 2 te skryf.

Die behoefte om dieper in my herkoms te delf, het in my veertigerjare ontstaan. 'n Neef van my pa, oom Andries Vosloo van Somerset‑Oos, het in hierdie verband 'n deurslaggewende en gewaardeerde rol gespeel. Hy het destyds heelwat oor die Vosloo‑stam­boom vanaf 1691 uitghevind. Ek het in 1983 ‘n afskrif daarvan bekom.

My oupa aan moederskant, ds. W J Esterhuysen
Later was ek gelukkig om meer uit te vind van my herkoms aan moederskant. Die argivaris van die NG Kerkargief in Pietermaritzburg, het in Maart 1995 laat weet dat sy op twee “foolscap”-aantekeningboeke afgekom het waarin my oupa, ds. Willem Johannes  Esterhuysen, sy lewensverhaal en sy herinneringe aan die Anglo-Boere-oorlog opgeteken het. Kosbaar. Hy was destyds in diens van die Natalse Sinode van die NG Kerk en was verantwoordelik vir die bearbeiding van spoor­weggesinne wat langs die treinspore van die provinsie gewoon het. Oupa Willem het sy lewensverhaal in 1950 begin skryf maar kon dit ongelukkig nie voltooi nie. Dit is in die pragtigste, keurigste Afrikaans geskryf. Sy herinneringe aan die Anglo‑Boere‑oorlog is opgeteken in wat seker maar sy weergawe van Hoog‑Hollands was.


Die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika

Hierbenewens was die bydrae van die genealogiese navorser, Daniël Jacobs (Die Vosloos - nuttige landsburgers) en die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika, van onskatbare waarde.    

Vir die res van die vertelling moes ek hoofsaaklik op my geheue staatmaak.

Die eerste vier hoofstukke van Soos die skakels in ‘n ketting (1649 – 2010) Boek 1 handel oor die Vosloos se vroeë geskiedenis soos dit op my van toepassing is. Dit begin by ons stamvader Joannis (Jan/Johannes) Vosloo wat tussen 1680 en 1691 vanaf Wesfale in Kaapstad voet aan wal gesit het. Daarna kom die Vosloo-stamregister en ander interessanthede, die verhaal van kommandant Paul Jacobus Erasmus (my oupagrootjie, oupa Ben Vosloo se skoonvader) en oupa Ben (Barend Jacobus) aan die beurt. Vervolgens berig ek oor my oupa aan moederskant, ds. W. J. Esterhuysen, oor my ouers en ten slotte oor my en my gesin.  Laasgenoemde dateer ek jaarliks op.

Dis óók belangrik dat ek deurgaans probeer om die doen en late van my familie binne die konteks van die belangrikste plaaslike en internasionale gebeure op te teken. ‘n Mens lewe mos nie in ‘n vakuum nie.

André P Brink
Ten slotte: ek maak nie op genealogiese korrektheid of volledigheid aanspraak nie. Dit is moontlik dat die inligting wat ek tot my beskikking gehad het, nie in alle opsigte korrek is nie. Ek is dit roerend eens met André P Brink, wat soos volg skryf in sy roman Die kreef raak gewoond daaraan (Human & Rousseau, 1991, p. 711): “Ek aanvaar my hele geskiedenis … : dit spreek vanself. Selfs my versinsels aanvaar ek. Oor niks is ek skaam nie.” My geskiedenis beantwoord egter hopelik volledig aan die hoofdoelstelling, naamlik om die verhaal van ons familie in verteerbare formaat vir ons twee seuns en hulle kinders op te teken.