Pages

15 July 2012

Oom Joggie se gebed

Diek van Wyk

Julle kan sê wat julle wil, maar belangstelling in familegeskiedenis word gebore uit nostalgie. En nostalgie kyk na die verlede. Daarom het ek die vrymoedigheid om van tyd tot tyd ietsie oor die ou dae te plaas. Hierdie keer ‘n ware verhaal uit my grootword­wêreld, met net die name van die karakters aangepas.



Limpopo-bosveld
Diegene wat soos ek in die vooroorlogse jare in die Limpopo-gebied grootgeword het, sal weet dat dit ‘n harde wêreld was waarin slegs geharde manne en vroue met hulle voete stewig op die stowwerige wit kalkgrond geplant die mas kon opkom.

Kommunikasiemiddele was yl gesaai en pos is slegs tweekeer per week per padmotorbus, soos dié goed genoem is, op strategiese punte afgelewer. Die distriks­geneesheer het jy eenmaal per maand gesien wanneer hy, ewe-eens op strategiese punte, klinieke gehou het. Ou-Dominee van Dam kon sy rondtes ook nie te gereeld doen nie en moes, wanneer hy so eenmaal in drie maande wel in jou omgewing was, in ‘n klaskamer van die lokale skooltjie preek of, as daar nie een was beskikbaar nie, sommer onder ‘n groot haak-en-steek-boom.

... die gesalfde van die Here
Dit was die dae toe ‘n dominee nog ‘n gerekende man was, die gesalfde van die Here, wat as’t ware die Goeie Vader in sy gemeente verteenwoordig het, ‘n soort van geakkrediteerde ambassa­deur van die hemelse geweste. Ds. van Dam se woord het dus groot gewig gedra en sy oordele die gesag van regspraak, selfs toe hy later die kansel vir die parlement verruil het. En omdat sy kudde oor ‘n groot gebied gewei het en hy nie na elke skapie persoonlik kon omsien nie, was kerkraadslede ook met gesag beklee. Hulle moes vir die dominee instaan met al die regte en voorregte wat dit meegebring het. Jy kan maar sê ‘n ouderling was die gedelegeerde van die predikant wat op sy beurt die gedelegeerde van die wêreld daarbo was. Met ‘n ouderling het jy dus nie gestry nie; sy optrede het die stempel van outoriteit gedra.

'n Ouderling (sonder hoed)
In ons wyk was Oom Joggie Malan die ouderling. Vir ons kinders was hy ‘n imposante figuur wat die waardigheid van sy amp met durf uitgelewe het. Dit was eers toe ek al groot was dat ek agtergekom het dat hy maar klein van postuur was waar hy jou van onder die rand van sy hoed, wat hy laag oor sy oë getrek het, langs sy neus verby beloer. Sy plig was dit om die voete van die skape van sy wei op die kronkelpaadjies van die Limpopo-bosveld te hou en te keer dat hulle nie tussen die sekelbosse en soetdorings en wag-’n-bietjies verdwaal nie. En omdat hy hom direk verantwoordelik aan die Grootbaas gevoel het, het hy die vrymoedigheid gehad om padlangs met Hom te praat wanneer hy oor sy troppie verslag doen. Daar was nie ‘n ge-”Gij” soos dit in daardie jare gebruiklik was nie, ook nie eers ‘n goed geronde Uw nie, net ‘n gewone Noord-Transvaalse U.

Tradsionele kerkbasaar
Eenmaal per jaar is daar in ons geweste kermis gehou. Elke gemeentelid moes ‘n bydrae maak om dinge aan die gang te kry, in geld of in natura (soos die geleerdes sê, maar nie oom Joggie nie). Die mans moes dan die vee wat geskenk was, slag, en die vrouens moes die vleis verwerk sodat die kermis­gangers, waaronder die donateurs van slaggoed, dit in die vorm van wors of tjops of karmenaadjies kon terugkoop. Die geldjies wat ingekom het, is gebruik om bestanddele aan te skaf wat in die vorm van kerrie-en-reis en poedings en koek en lekkers en so meer na die publiek terug gewerk is. Die opbrengs het dan die gemeentelike koffers in die hoofdorp gestyf.

Die taak om donasies in te win, het op Oom Joggie se skouers gerus. Een vir een is sy kudde met ‘n lys besoek waarop ingevul moes word wat hy of sy bydra, formeel onderneem en bevestig met ‘n handtekening. So beland hy toe onder andere by Oom Stefaans Wagenaar. Oom Stefaans het in die omgewing bekend gestaan as ‘n vermoënde man, hoewel jy dit nie sou sê as jy hom aan sy lewenstyl moes beoordeel nie. Wat hy gehad het, het hy naamlik verdien deur sy besittings, insluitende elke pennie, met die grootste ontsag te behandel.

Toe Oom Joggie klaar oor die weer gepraat het en na die boerdery uitgevra het en sy koffie uit sy piering gedrink het, het hy die saak van die kermis aangeroer. Oom Stefaans het hiernatoe en daar­na­toe geskerm ten einde nie onnodiglik van sy geliefde besittings afstand te doen nie, en uiteindelik aangebied om ‘n halfkroon by te dra. Oom Joggie wou weet of dit dan al is wat hy vir die saak van die Here oor het. “Nee sien,” was Oom Stefaans se verweer, “dit is droog en die vee is maer en ‘n mens sukkel ook maar met die geldjies en daar is darem kinders wat versorg moet word. As jy nou nog ryk was,” ..... en so voort.

Oom Joggie het so na die verduideliking gesit en luister terwyl hy verby sy neus loer en toe gesê: “Nou maar goed, Stefaans. Kom ons doen net ‘n gebed voor ek gaan”. Oom Joggie het op die kwaggavel voor die riempiesbank in die voorhuis gekniel, sy elmboë tussen die kussings op die jakkals­velkaros ingewikkel, en sy oë gesluit. Oom Stefaans het sy knieë sommer so op die kaal misvloer skuins langs oom Joggie tuisgemaak, en sy gevoude hande op die bank se armleuning gestut.

Toe bid oom Joggie: “Here, ons is besig om ‘n kermis vir U te reël. En U weet mos ons het allerhande goed daarvoor nodig: geld en vleis en so aan. Nou’s ek hier by ou Stefaans Waenaar wat hier langs my kniel. Weet U, Here, hy’s ‘n ryk ou vabond, maar hy maak of hy niks het nie.” Op dié punt begin oom Stefaans ongemaklik rondskuiwe en versit hy sy gevoude hande op die bank se armleuning. “Maar dink U hy wil iets vir U gee?”, gaan oom Joggie voort, “Net ‘n simpel halfkroon. Wat dink U, Here? So ‘n mens verdien mos nie om te lewe nie”. Oom Stefaans vat-vat benoud aan oom Joggie se arm en fluister: “Joggie! Joggie!” Maar oom Joggie maak of hy niks hoor nie en bid verder: “Nou vra ek U, Here, slaat hom hier dood. Slaat hom net hier morsdood as hy nie meer wil gee nie.”

Toe kon oom Stefaans dit nie meer hou nie. Hy gryp oom Joggie aan die arm en skree benoud: “Stop, Joggie, stop! Sê vir die Here ek sal vir hom ‘n os gee!” En oom Joggie gaan ongesteurd voort: “Nee, goed, Here, hy het geluister, hy gee nou darem vir U ‘n os. U kan maar sy lewe spaar, maar net tot volgende jaar wanneer ons weer kermis het. Om U’s naam’s wil. Amen.”

Of oom Stefaans toe die volgende jaar weer ‘n os geskenk het? Nee, ek weet nie. Ek vermoed egter dat hy gereeld ‘n aanneemlike bydrae gemaak het, want sover ek weet, het oom Joggie dit nie nodig gevind om weer vir hom ‘n gebed te doen nie.