Pages

26 August 2012

Die tragiese verhaal van F.A. Marais.

James Sadie 

Op 9 Julie 1901 is 'n groot aantal mense van Middelburg aangesê om op die markplein teenwoordig te wees vir die verhoor van F.A. Marais vir 'n klag van hoogverraad. 

Hy is deur die militêre kommandant die doodvonnis opgelê. Hy was baie ontsteld aangesien hy vas geglo het dat hy onskuldig was. 

Hy is die volgende môre na die galg gelei deur die beul, waar daar 'n groot skare teenwoordig was, wat gedwing was om die teregstelling by te woon. Hy kom nou baie kalm voor na die ontsteltenis van die vorige dag. Voor hy die galg in boeie bestyg, gaan staan hy voor die kommandant en stafoffisier van generaal Frensch en sê: "Ek word onskuldig opgehang, ek het genade ontvang om u te vergewe, maar bid tot God dat Hy julle ook mag vergewe." Daarna het hy die skavot bestyg en met 'n sterk stem en met sy regterhand omhoog uitgeroep: "My God! My God! My God! U aanskou die dade wat aan my en my volk gedoen word, hoor ons tog en help ons." 

Die militêre amptenare beveel die dokter om hom by te staan, aangesien hulle onder die indruk was dat hy in ’n beswyming is, maar hy weier die hulp en roep uit: "Ek is nie siek nie, ek kla u slegs by God aan." 

Die leraar wat saam op die skavot was het daarna 'n kort gebed gedoen. Met die tou reeds om sy nek, met geslote oë het hy uitgeroep: "My God!" Toe die luik val het daar 'n gemompel onder die toeskouers ontstaan en hulle het soos een stem gesê: "Nou is hy by Jesus en julle kan niks meer aan hom doen nie." 

Graf van F. A. Marais
Die owerhede het die versoek dat sy lyk aan die familie uitgelewer word geweier. Vyf mans, die predikant ingesluit, het die lyk na die graf by die lokasie gevolg, waar twee sakke kalk oor hom uitgestrooi is voordat die graf toegegooi is. Sy vrou het eers 'n week na die vonnis voltrek is daarvan gehoor. 

Marais het uit die gevangenis ‘n brief aan sy vrou geskryf wat ek hier volledig in Afrikaans weergee.  

Middelburg, 8 Julie 1901. 

Juffr. A.C. Marais. 

Waarde en nooit te vergete Vrou. 

Hiermee moet ek jou die treurige tyding bring dat ek jou nou moet agterlaat. Maar, my liefste moet nie daaroor ontsteld wees of treur nie want dit is God se wil. As dit God se wil was sou ek vrygekom het maar ag, onthou Hendrik van Heerden. Ek moet hom volg. 

Doen tog jou bes om die liewe Here nooit te vergeet nie en moet my ook nie daarvan verdink, want ons dierbare God en Here Jesus het gesê: Julle gedagtes is nie my gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie. Daarom my liefste moet jy tevrede wees en nie daaroor murmureer nie. Ek moet julle maar net vooruitgaan. Dink daaraan, die Here het gegee en die naam van die Here word geloof. Liefste vergeet tog nie hoe ons saans op ons knieë gegaan het om ons liewe Here, waarheen ek nou wil gaan, te dank, te loof en te prys nie. Voed ook ons kinders op vir die liewe Here. Ag dat ons almal mekaar daarbo sal ontmoet, waar niemand meer sal swaarkry of trane sal stort nie, dat nie een van ons daar gemis sal word nie. O, dit sal tog heerlik wees as ons saam daar kan wees aan God's regterhand. Liewe vrou, wees tog maar tevrede, bid tog gedurig dat die Here jou stok en jou staf sal wees. As die moeilike dae kom, gaan tog alleen en bid en vra die Here, Hy is altyd gereed om te help. Ag, ek het gedink ek sal dit nooit kan deurstaan nie, maar my dierbare Jesus gee my die krag om dit te dra. Stephanus word gestenig en onder die marteling vra hy nog: Here vergeef hulle, want hulle weet nie wat hul doen nie. Dink daaraan hoe dit gegaan het met ons liewe Here Jesus. Ag, neem dit tog getrou in ag dan sal jy sien waarom ek hierdie pad moet loop. Liefste, as jy hartseer is, neem die Bybel en lees Romeine Hoofstuk 8. Ek het deur die seën van die Here tog die leraar van Middelburg. Ag, nadat hy met my gepraat het, het ek aangename slaap gehad. Verder, my liefste, wees nou maar tevrede, jy weet nou waar jy my weer sal ontmoet. So sê ek: "Tot weersiens, tot weersiens." O, my liewe Annie en my kindertjies, ek vertrou julle toe aan die hand van my lIewe Heer; Hy kan help. Verder liefste weet ek nie wat meer ek kan skrywe nie. My tyd is kort en kosbaar. Daarom vra ek jou om vir swaer Fanie te vra om maar weer vir Frekie by hom te neem. Jy kan daarom iets vir hom doen. As jy kan, gee vir hom twintig ooie en laat hom na sy pa gaan. Liewe, ek weet nie wat om vir jou te sê, of jy maar na oupa moet gaan, maar ek gee jou in Boet Marthinus se hande na oupa se dood. Hy moet tog weet hoe lief ons vir mekaar was en steeds is. Liefste, gee tog die brief aan ma en oupa ook om te lees, en al my broers en susters. Ag my ouers, broers en susters doen tog jul bes om die liewe Here gedurig voor oë te hou; verlaat Hom tog nooit! Ag dit sal tog heerlik wees as ons almal mekaar weer daarbo sal ontmoet en saam die Hemellied sal sing: Heilig, Heilig, Heilig, is die Heer van die leërskare, vrede op aarde en ere in die Hoogste Hemele. Boet Fanie, ek is nie meer die mens van die aarde; nog 'n klein tydjie dan moet ek verhuis, maar o my liewe broer, daar is tog niks tussen ons, alles is reg. Sorg tog maar vir Annie en die kindertjies so lank jy kan. O, my broer die liewe Here sal met jou regmaak, maak tog haar besigheid ook reg. 

Nou moet ek maar sluit met die beste groete aan jou, my geliefde vrou en kindertjies. Ek vertrou julle toe alleen in die hand van die liewe Here, met die laaste groete ook aan oupa en ma en al my broers, susters en vriende. 

Ek groet jou ook met die groete van 'n beminde. Tot weersiens, tot weersiens, almal wat vir my lief en dierbaar is. 

Jou liefste 

F.A. Marais Pzoon.