Pages

11 August 2012

Schubert, die Weense woude en Barrydale

Diek van Wyk

Franz Schubert
65 jaar gelede, toe ek 'n eerstejaarstudentjie was, het 'n oom van my eendag 'n plaat met twee Schubert-liedere daarop vir my gespeel. Op die een kant was daar Der Erlkönig en op die ander ander kant Heidenröslein. Dit het my lot verseël. Ek was oombliklik en reddeloos 'n gevangene van Schubert se liedkuns. Vir die res van my lewe sou dit my passie bly.



Platespeler en bakelietplaat
Toe ek vier jaar later genoeg uit my eerste verdienstetjies opsy kon sit, het ek 'n outydse buisradio aangeskaf met 'n platespeler wat daaraan kon vaskoppel. En ek het dadelik 'n plaat met Schubert se Elwekoning en Heiderosie gekoop om daarop te speel. Dit is gou gevolg deur ander plate met Schubert-liedere en later ook liedere van ander komponiste: Beethoven, Brahms, Schumann, Loewe, Wolf, Richard Strauss. Dit was ou bakelietplate wat teen 78 omwentelings per minuut gedraai het en dit moes gespeel word met dik metaalnaalde wat gou stomp geword het. Om te verhoed dat die groewe te gou uitgespeel raak, het ek meesal plastieknaalde en selfs die dorings van soetdoringbome in plaas van die harde metaalnaalde gebruik.

Elizabeth Schumann
Twee jaar later het ek my lewensmaat ontmoet. Tot my vreugde het ek ontdek dat sy ook 'n voorliefde vir Duitse kunsliedere en veral vir Schubert het. Haar kennismaking daarmee was te danke aan 'n konsert van Elisabeth Schumann, die onvergelyklike liederesangeres van weleer, wat sy in Pietermaritzburg bygewoon het. Dié gedeelde passie sou nooit verflou nie. Die ou bakelietplate het later afgetree en is vervang deur langspeelplate, eers mono en toe stereo. En dié moes weer plek maak vir 'n hele biblioteek CD's, steeds met Schubert in die ereplek.

Wene
En toe het dit ons te beurt geval om met 'n toergroep 'n besoek aan Wene te bring, die stad waar Schubert gebore is en gesterwe het. Soos dit met sulke toere gaan, was daar nie tyd om die stad rustig te verken nie en moes ons ons by 'n redelik beperkende skedule hou. Schubert was dus nie op die agenda nie. Johann Strauss die walskoning was egter wel.


Johann Strauss
Nou het ek geen probleme met dié meneer se musiek nie. Dit is net dat hy op so 'n toer in Wene tydig en ontydig onder jou neus gevryf word. Ons is ook sommer kort na ons aankoms gewys waar hy gewoon het en ons is ook geneem na 'n park waar 'n vergulde standbeeld in nie alte goeie smaak van die viool spelende walskoning staan. Op die toerbus moes ons tot vervelens na sy Blou Donau-wals luister luister. (Die water van die Donau waar dit deur Wene vloei, is swart, nie blou nie).

Op die toerprogram was daar 'n besoek aan die Weense woude. My verwagtinge van die Weense woude is gevorm deur 'n fliek oor Johann Strauss, of Scharni soos hy daarin genoem is, wat ek gedurende die oorlogsjare gesien het. Daarin jaag hy by geleentheid deur die bos in 'n perdekar met sy hare wat wild in die wind waai terwyl die musiek van G'schichten aus dem Wienerwald gespeel word. Toe die bus vertrek, was dit onvermydelik dat die verhale uit die Weense woude gespeel sou word, gevolg deur die ewe onvermydelike Blou Donau. Die bos het egter heelwat anders gelyk as in die fliek oor Scharni.

Ek het nog probeer om verwagting en werklikheid van die woud op mekaar te laat pas, toe ons toergids, Willi, ons aandag vestig op 'n herberg langs die pad waarin Schubert meermale tuis gegaan het. Hy vertel ons toe dat Schubert Wilhelm Müller se gedig Der Lindenbaum, wat in die siklus Die Winterreise opgeneem is en al volksmusiek geword het, gekomponeer het terwyl hy daar tuis was. Daar het 'n lindeboom voor die herberg gestaan wat glo die inspirasie vir die lied was. Die oorspronklike boom het intussen die tydelike met die ewige verwissel, maar 'n ander een in is sy plek geplant en dié staan nog daar.

Die Forelle
Langs die herberg vloei daar 'n stroompie verby wat weer die inspirasie vir Die Forelle was, waarvan die tema ook in sy bekende klavierkwintet voorkom. Onmiddellik skiet die woorde van die digter, Schubert se byna-naamgenoot Schubart, my te binne, van die opgewekte forel wat met vrolike haas in die helder stroompie soos 'n pyl verbyskiet. En toe ek weer kyk, staan daar sowaar 'n man in die stroompie en vlieghengel: Der Fischer mit sein' Rute!

Dit was of 'n vuishou my in my maag tref. Dat ek dit nog sou belewe om 'n afstammeling van Schubert se lindeboom te sien! En die stroompie waarin die hengelaar sy forel gevang het! Dit was onwerklik. My hart het aan die klop gegaan, my asem het vinniger begin stoot en ek het lighoofdig gevoel. Ek was ekstaties.

Toe die bus stilhou, stap ek, oorweldig deur opwinding, na Willi en sê vir hom dat ek nooit sou kon glo dat ek in my leeftyd dié ervaring sou hê nie. En ek begin die woorde van Der Lindenbaum opsê, van die lindeboom wat by die fontein voor die poort staan, van die digter wat in sy skaduwee soveel soete drome gedroom het en op sy stam soveel liefderike woorde uitgekerf het.

Dit was 'n fout. Eerstens omdat Willi toe aanneem dat ek Duits kan praat en tweedens dat ek die lied kan sing. Met Duits kan ek nog op 'n manier regkom mits ek my woorde versigtig kies en wegstuur van ingewikkelde gedagtes af, amper soos 'n skaapwagter sy skapies behoedsaam van ongediertes sal weghou. Die probleem lê egter by sing.

Toe ons op die bus klim, kondig Willi onverwags aan: "There is a gentleman here who loves Schubert's songs and who is going to sing Der Lindenbaum to us", en hy beduie na my dat ek vorentoe moet kom. Nou sal ek liewer 'n duisend dode sterwe as om in die openbaar my mond oop te maak om te sing. Veral as dit voor 'n gehoor van enkele Suid-Afrikaners, 'n paar Australiërs, 'n handvol Kanadese, die gewone kontingent Oosterlinge en 'n spul luidrugtige Amerikaners is. Maar daar sit ek toe, gekompromitteer en sonder uitkomkans. Ek struikel vorentoe en sê op my gemonitorde Duits vir hom iets soos: “Jou, bliksem, net as jy saam met my sing!”

Willi moes my jammer gekry het. Hy sit sy arm om my, en ek, met 'n ernstige behoefte aan onderskraging, sit my arm ook om hom, en so, hand om die lyf, trek die twee van ons los: “Am Brunnen vor dem Tore da steht ein Lindenbaum,” en wat daarop volg.

Gelukkig het Willi 'n laerige baritonstem wat my gekwaak voldoende kon maskeer. En gelukkig stop hy toe na die tweede versie. Want verder kon ek nie die woorde onthou nie, en boonop sou ek in die moeilikheid beland het met die mineurmodulasie van die lied op dié punt. Die gehoor het beleefd hande geklap en een Amerikaner het later selfs vir my kom sê dat hy my sang "touching" gevind het!

Barrydale
Kort na ons terugkeer in Suid-Afrika moes ons 'n nag in 'n gastehuis in Barrydale oorbly. Daar ontmoet ons toe vir Hans (80) en Elisabeth (75). Hans is 'n afgetrede regter van Hamburg, joviaal, rond, rooi van gesig en met 'n blink pankop. Elisabeth, sy vrou, is 'n tawwe tannie. Met hulle aankoms in Kaapstad het sy 'n motor gehuur en op haar gevorderde ouderdom ondanks die vreemde verkeer die pad die binneland in aangedurf.

Die twee se Engels staan nie naastenby in verhouding tot hulle welwillendheid nie en Diek moes gevolglik weer skaapwagter speel met sy Duits opdat die beperkinge daarvan nie te ooglopend blyk nie.

'n Paar glasies wyn het die gemoedelikheid sodanig aangehelp dat die gesprek 'n draai gemaak het by ons besoek aan Wene. Toe ek vertel van my opwinding by die aanskoue van die afstammeling van Schubert se lindeboom, val Hans weg, ook in 'n baritonstem, terwyl hy met sy glasie rooiwyn in die lug die tyd aangee: "Am Brunnen vor dem Tore ... " Dié keer het ek met groter vrymoedigheid saam gesing.

Die eienaars van die gastehuis het oopmond van verbasing probeer sin maak van die twee ou omies se vreemde gedrag, en twee gryskop tannies het geamuseerd hulle wederhelftes se oorgawe aan die sang gade geslaan.

Ek vra my af wat Schubert sou gedink het as hy kon weet dat sy lindeboom se skaduwee na meer as 200 jaar nog duisende kilometers ver oor Barrydale sou val. Miskien sou hy dit "touching" gevind het.