Pages

13 December 2012

Die ontstaan van Afrikaans

Civilization is not inherited; it has to be learned and earned by each generation anew; if the transmission should be interrupted for one century, civilization would die, and we should be savages again - Will Durant
 
In 1822 het William Burchell opgemerk dat almal wat in die Kaapkolonie gebore is en nie van Engelse herkoms is nie, maar eerder Duitse, Nederlandse of Franse afstamming het en wat Nederlands gepraat het, hulself “Africaanders” noem. Nog ’n waarnemer het geskryf: “[Hulle] praat almal ’n baie swak soort Nederlandse taal . . . en noem hulself ’n oorspronklike nasie, Africanes (sic).”

Dié “swak soort Nederlandse taal” sou later Afrikaans word. Vroeër, in 1685, het ’n senior beampte teen ’n korrupsie van Nederlands gewaarsku. Die regering kon amptelike Nederlands egter nouliks afdwing. Skole het maar elementêre onderwys gebied, en is swak bygewoon. Die regering kon weinig daaraan doen om slawe en Khoi-Khoi-bediendes te dwing om die formele reëls van amptelike Nederlands te gehoorsaam.

In wese was Afrikaans ’n dialek van Nederlands wat metterjare ’n beperkte mate van kreolisering of afwyking van die basiese Nederlandse struktuur beleef het. In die Wes-Kaap, en veral op die plattelandse dorpies, het die soort Afrikaans wat die meeste gepraat is op talle aparte plekkies as die gesamentlike kulturele skepping van Europeërs en nie-Europeërs, wit en swart, meester en slaaf, ontstaan. Nederlands is vereenvoudig, en heelwat van die Maleis-Portugees wat die slawe gepraat het, is bygevoeg. (Die uitdrukking “baie dankie” put uit sowel Nederlands as die Maleise leenwoord “banja”.) Teen die einde van die 17de eeu het Kaaps-Hollands reeds grootliks verander in wat vandag Afrikaans is.

Moslems het Afrikaans eerste in druk gebruik. Die gebruik van die vroegste vorm van Afrikaans, geskryf in die Arabiese alfabet, dateer uit die 1830's toe Moslemgodsdiensleiers dit begin gebruik het in die Moslemgodsdiensskole in Kaapstad.

Daar was egter perke aan dié kreolisering. Daar was min groot plantasies waar groot groepe slawe of bediendes onder mekaar ’n volskaalse kreool-taal kon ontwikkel. Teen die einde van die 18de eeu was die helfte van die Afrikaanssprekendes van Europese herkoms. Hulle is steeds deur Nederlands as die skryftaal en algemeen geldende openbare taal beïnvloed. Teen die einde van die 18de eeu het burgers wyd en sy die Nederlandse Statebybel gelees. Die kerk het tot die 1920’s hard probeer om Nederlands te behou. Só het Nederlands die ontwikkeling van Afrikaans sowel bevorder as gestrem. Sonder die volgehoue gebruik van Nederlands, veral in die kerk en as skryftaal, sou Engels Afrikaans waarskynlik in die 19de eeu opsy geskuif het

Uit: Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika saamgestel deur Hermann Giliomee en Bernard Mbenga. In 2007 uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.