Pages

30 January 2013

Die legende van Hendrik Spoorbek.

Hoffie Williams

Hendrik Spoorbek is in Dortmund, Duitsland, as Heinrich Schörbeck gebore en het in ongeveer 1811 na die Kaap gekom as matroos of soldaat, maar het later gedros.  Sy ambag was klipdresseerder.

In 1815 tref ons hom in die Humansdorpdistrik aan, want toe is die plasie aan die Kromrivier waar die bo-lope van die Churchilldam is,  aan hom toegeken.

Die Churchilldam in droogtetyd
In ‘n droogtetyd, wanneer die dam minder as 34% water het, is die grond weer oop, en kan mens daar gaan rondloop. Die murasies wat nou daar te sien is, dateer egter uit ‘n later tyd.  Na sy dood in 1845, het die grond in 1866 oorgegaan in die hande van P. du Preez en C. van Rooyen.

Van Spoorbek se tweevertrek-hartbeeshuis het geen teken oorgebly nie.  Te oordeel aan hoeveel stories aangaande hom nog onthou en oorvertel word, wys dit hoe ‘n besondere karakter hy moes gewees het.  Gelukkig het ‘n paar skrywers hoofstukke in hul boeke afgestaan aan Die Towenaar van Humansdorp, onder andere Lawrence Green in These wonders to behold,  E.J. Gerryts in Humansdorp se groei en bloei,  Roger Webster in At the Fireside, en Sue van Waart in Swartberg se mense,  asook Briewe uit die Tuin van Eden.

‘n Onderwyser van Humansdorp, J. van der Merwe, en mev. Fick van Alexandriadistrik het ook aantekeninge oor hom nagelaat.  ‘n Mens kon ook put uit vertellings deur ‘n ouer geslag.  My oumagrootjie was 27 toe Spoorbek dood is, en my pa kon stories vertel wat sy nog vir hulle vertel het.

Uit die rekords van die kantoor van die Mormoonse kerk in Port Elizabeth kon ek die kaart van sy plaas kry en ook sy sterftekennis.  Gert Müller  van Doringboomstraat  se ma, tant Alida Müller,  destyds in die Ons Tuiste-aftreeoord in Humansdorp, het vir my vertel waar Spoorbek se graf is in die ou Müller-begraafplaas.

Hy het ‘n watermeul langs die Kromrivier gebou  waarmee hy boere in die omgewing se koring gemaal het. Die meul was aangedryf met water wat hy hoërop uit die rivier gekeer het.  Maar die dam was nog nie weer leeg genoeg om te kon sien of dáár iets van oorgebly het nie.

Nadat al die bronne deurgewerk is,  is die indruk wat gelaat word dié van ‘n komplekse  karakter  met vreemde  uiteenlopende vermoëns.  Hy moes onder andere ‘n siener, ‘n hipnotis, ‘n geloofsgeneser, ‘n gedagteleser en ‘n kulkunstenaar gewees het, met elemente van Slamse goëlkuns en die Suidsee-eilande se voodoo-toordery ook by.

Sy voorkoms was maar slordig en onnet, en die meeste mense was maar skrikkerig vir hom.   Hy het  egter sy vermoëns ten goede gebruik om mense te help.  Hy was dan ook wyd bekend in die Oos-Kaap as die Wit Krag.

Voortrekkers uit die Oos-kaap soos Piet Uys, Karel Landman en Gert Raynier het hom persoonlik geken.  Aan Gert het hy ‘n sakkie gegee om om sy nek te dra wat hom sou beskerm teen die assegaaie van die vyand. By die Slag van Bloedrivier is sy perd onder hom doodgesteek maar hyself het niks oorgekom nie.

Voorspellings van Spoorbek het waar geword.  Hou in gedagte dat hy gelewe het in die tyd wat die Groot Trek voorafgegaan het,  met Engeland se patetiese hantering van die grensprobleme,  toe hy gesê het:  “As Kromrivier se water opdraend loop,  sal Engeland uitgeskud word soos ‘n meelsak.”   In die1940s, ‘n honderd jaar later,  het Port Elizabeth die dam gebou  in die Kromrivier,  en die water het op twee maniere opdraend geloop. Toe die dam begin vol loop het die water teruggestoot rivier-op. Dit is met ‘n pyplyn gevoer na die stad,  bult-op en bult-af.  En  na die oorlog het Engeland die een na die ander sy kolonies begin verloor, toe Indië,  Kenia,  Suid Afrika en ander onafhanklik geword het.

‘n Jong paartjie het eenkeer in ‘n straat spottend na hom verwys as die ou towenaar. Hy het hulle glo streng aangekyk en gesê: “Julle dink julle gaan trou, maar dit sal nie gebeur nie.”  Die troue was al aan die gang met die predikant wat begin om die formulier te lees, toe die bruid skielik uit is by een deur, en die bruidegom uit by ‘n ander. Van die troue het niks gekom nie.

Hy het van ‘n heuningnes geweet in een van die rivier-kranse.  Aan iemand wat hom gehelp het om die nes uit te haal, het hy gesê niemand sal weer die nes uithaal nie. Water sal dit eendag verwoes.  Na sy dood kon niemand die nes kry nie, en vandag is die nes onder die dam se water.

‘n Voorbeeld van sy heldersiendheid is toe hy geroep is na ‘n siekbed waar ‘n vrou siek lê aan koors,  en haar suster wat gekom het om haar te verpleeg.  Net toe hy binnekom toe sê hy: “Hoe vreemd, die dooie versorg die lewende.”  Sy bedoeling word toe duidelik ‘n paar dae later toe die siek vrou gesond word, maar haar suster siek word en sterf.

Die tradisie van daardie tyd was so dat niemand wat op reis was slaapplek geweier moes word nie. Sy slordige voorkoms het egter gemaak dat huisvrouens in sy geval gemengde gevoelens gehad het.  So is hy by een huis weg na ‘n nag se oorslaap, en toe die vrou sy kamer weer aan die kant maak sê sy vir haar helper: Kyk, hier het die ou vark sy twaksak vergeet.”  ‘n Rukkie later is daar ‘n klop aan die deur. Toe is dit hy,  wat sê:  “Die ou vark het net sy twaksak kom haal.”

Die koringmalery was ‘n tydsame proses. By een geleentheid toe hulle bo by die huis sit en koffie drink het terwyl hulle wag, sê Spoorbek skielik: “Iemand is besig om jou meel te steel. Maar toemaar, hy sal nie ver kom nie.”  Toe hulle daar kom kry hulle ‘n klonkie wat al meel in ‘n sak begin gooi het,  maar hy het net daar versteen en kon nie roer nie tot Spoorbek hom laat gaan het met ‘n ernstige vermaning om dit nie weer te doen nie.

Spoorbek het altyd sy byl by die houtkapplek gelos, in die kapblok vasgekap.  Eendag het ‘n rondloper die byl probeer vat,  maar toe sit sy hand vas en hy kon nie weer laat los nie.  Eers heelwat later het Spoorbek hom daar gekry en, na ‘n skrobbering, verlos.

‘n Boer wat kom koring maal het,  het die touleier gestuur om met die osse te gaan wei,  met die opdrag om teen ‘n sekere tyd terug te wees.  Toe hy wegbly,  raak die boer ongeduldig. Spoorbek vat ‘n sambok en looi sy baadjie  wat oor die disselboom gehang het. Nie te lank nie kom ta daar aangehardloop met die osse, asvaal, en vertel hy sit nog so toe begin ‘n blinde sambok hom sommer verskriklik te slaan.

Spoorbek kon ook huise se grasdakke sogenaamd  bespreek teen brand.  In een geval het die kinders gehoor daarvan, en terwyl die mense weg was dorp-toe het hulle probeer om die dak aan die brand te steek,  maar verniet.

Tydens die Vierde Grensoorlog, val die Xhosas die dorpie Alexandria aan. Spoorbek was ook daar.  Die kerk se dak raak aan die brand, en almal vlug by die skoolgebou in.  Spoorbek verseker hulle toe dat die skool nie sal brand nie.  Na baie pogings is die aanval uiteindelik afgeslaan, sonder dat die skool gebrand het.  Jare later is die grasdak vervang met sink, en die voorman sê toe die werkers aan om die hoop gras aan die brand te steek. Dit het egter verseg om te brand.

‘n Soortgelyke verhaal word vertel van huise in die Baviaanskloof.  Sue van Waart vertel in een van haar boeke van ‘n sekere Fred van Huysteen wat vir haar daarvan vertel het.  Die Baviaanskloof is tot wildernisgebied verklaar,  en hy was betrokke by die sloop van die ou huise.  Hy het ook die werkers aangesê om die hoop dekriet aan die brand te steek met dieselfde gevolg.  Hy het hulle tot laat petrol tap uit die trok en oor die dekriet te gooi.  Hy sê die petrol brand en brand en toe dit klaar gebrand het, toe lê die riet nog net so. Hy dink dit lê vandag nog daar.

In al die boeke waarvan die skrywers navorsing gedoen het omtrent Spoorbek, is daar nêrens melding gemaak dat iemand ooit vir Spoorbek gesien het iets doen  wat die raaiselagtige verskynsels sou kon verklaar nie, byvoorbeeld soos dat gesien is dat hy die dakke met iets behandel het nie.  Prakties gesproke, in die lig van die aantal huise wat ter sprake is,  sou dit ‘n aardige hoeveelheid chemikalieë geverg het as dít die antwoord was.

Spoorbek het net sy  ou wit perd gehad om mee oor die weg te kom. Tussen  Adelaide en Bedford het ‘n boer se kraal aan die brand geraak, en alle pogings om dit te blus het misluk.   Die vasgepakte mis in so’n kraal kan vir maande smeul, en ‘n baie gevaarlike situasie skep. Toe roep die boer Spoorbek se hulp in.  Spoorbek gee hom toe twee briefies, en sê hy moet dit in die kraal gooi en dan wegloop sonder om om te kyk.  ‘n Week later was die vuur dood.

Spoorbek het ook ‘n vreemde mag gehad oor diere.  Soos toe hy eendag opdaag by ‘n boer wat twee kwaai waghonde gehad het.  Toe die boer hom vra of hy nie die honde teëgekom het nie,  sê hy dat hy hulle gesien het, maar hy los hulle in vrede, en hulle vir hom.

Iemand met wie hy ‘n afspraak gehad het om saam êrens heen te gaan,  was haastig om weg te kom,  en vra vir Spoorbek of hy nie solank sy perd vir hom kan gaan haal nie.  Toe sê Spoorbek: “Nee wat, die perd sal weet wanneer ek hom nodig het.”  En sowaar, toe Spoorbek reg is om te ry, toe runnik die perd by die agterdeur.

Wanneer hy vir ‘n paar dae moes weggaan van die huis, het hy glo handevol mieliepitte in die hoenderkampie gegooi, met die woorde: Dit is Maandag se kos,  dit is Dinsdag se kos,  en dit is Woensdag se kos.”  Dan het die hoenders glo elke dag net daardie dag se pitte geëet. Mense van die omgewing wat geweet het Spoorbek is weg, het gaan kyk of alles reg is daar, en  het bevestig dat daar nog heelwat mielies in die hoenderkampie gelê het.

‘n Boer wie se  koring gemaal moes word, moes oorbly die nag omdat die malery nog nie klaar was nie.  Hy is toe bekommerd dat sy osse sou wegloop in die nag.  Spoorbek vat toe ‘n stok en trek ‘n sirkel op die grond om die osse.  Die volgende oggend toe staan die osse nog net so binne die sirkel.

‘n Groep van die omgewing sou per geleentheid met een se muilewa see toe ry om te gaan visvang,  en Spoorbek wou saamgaan.  Maar hy was nooit haastig nie, en die klomp is naderhand so haastig om weg te kom dat hulle besluit om sonder hom te ry.  En daar verseg die muile om te loop.  Eers toe Spoorbek kom en opklim,  kon die drywer die span aan die gang kry.

Spoorbek het ‘n sin vir humor ook gehad.  In die omgewing êrens het ‘n groot klip gelê, en eendag verskyn die volgende woorde bo-op die klip: “Wat een grote wonder,  wagt vir hem wat mij kan sien van onder.” ‘n Paar fris jongmanne aanvaar toe die uitdaging en daag eendag daar op met pikke en koevoete,  en slaag daarin om, na ‘n gespook, die klip omgerol te kry.  Onder toe lees hulle:  “Nu ben ik tog so blijde.  Ik ligt op mijn ander sijde.”

Uit die verhale in al die skrywers se boeke, is dit duidelik dat Spoorbek wyd bekend was, van Adelaide en Bedford, tot Oudtshoorn en Knysna.   Miskien het hy so wyd gereis omdat mense oral sy hulp gesoek het, en hom laat kom het om te help met allerhande probleme, en nie noodwendig  omdat hy juis lief was vir rondreis nie.

Wat die waarheid agter al hierdie stories is,  moet elkeen self oor besluit. Ons lewe in ‘n land met swart toordokters, vuurlopers en slangbesweerders.  In die Bybel lees ‘n mens van ‘n heks van Endor wat geeste kon oproep,  en ‘n orakel wat die keiser van Rome gewaarsku het oor die datum 15 Maart,  waarop hy toe ook vermoor is.  Ek was in die huis van mev. Fick in Alexandriadistrik,  op wie se plaas die graf is van Nonquase, die Xhosa-profetes. Sy het haar volk laat glo as hulle al hul beeste uitroei en oeste verbrand sal die witmense in die see gejaag word. 

Spoorbek se graf is in die Müller-begraafplaas, oorkant die smalspoorstasie  Two Streams,  op pad na Kareedouw.  Die Churchill-dam is net suid van die koppie. Geen inskripsie is op die graf nie, maar twee eenderse klippe lê langs mekaar by die kopkant,  wat dit uitkenbaar maak.