Die volgende berig
is ontleen aan SAGenealogie. GGSA Noordwes se
volgende byeenkoms vind plaas op Maandagaand, 4 Maart 2013 om 18:30 vir 19:00
in die Auditorium van die Museum & Biblioteekgebou op die hoek van Sol
Plaatjie- en Wolmaranstraat, Potchefstroom. Charl Blignaut, lektor in Geskiedenis verbonde aan die Vakgroep Geskiedenis en
Antieke Kultuur van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit
(NWU), se onderwerp van bespreking het die indruwekkende titel Die wesensaard
van die Ossewa-Brandwag (OB) en die belang van die OB-versameling as
erfenisskat van Potchefstroom.
Die Ossewa-Brandwag
was 'n reuse Afrikanerbeweging wat bestaan het tussen 1938 tot 1954. Dit was
die vernaamste organisasie wat gedurende die vroeë 1940's protes aangeteken het
teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Meegesleur deur die
ideologiese tendense van die dag was die OB
beide Nasionaal-Sosialisties en Calvinisties van aard. As 'n massabeweging het
die OB op kulturele vlak 'n tuiste vir die meer radikaal-nasionalistiese
Afrikaner gebied, en ook by wyse van hulle Stormjaer-vleuel die geleentheid
gegee om selfs op geweldadige wyse te verset teen Smuts se oorlogspoging.
Laasgenoemde het daartoe gelei dat verskeie OB-lede geïnterneer is, waaronder
baie Potchefstromers getel het. Die destydse Potchefstroomse intelligentsia was
baie betrokke by die OB en het 'n belangrike
beleidmakende rol in die beweging gespeel. Vandag huisves die Potchefstroomkampus
van die NWU die OB-museum en die OB-argief wat van onskatbare waarde is vir die
erfenis van beide Suid-Afrika in geheel en Potchefstroom in besonder. Na
dekades is dit tyd dat die publiek blootgestel word aan die OB
en selfs begin werk in die rigting van toegang tot die OB-museum - 'n museum
wat vir baie jare agter toe deure gestaan het.