Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

07 April 2013

Bosveldkaskenades

Barry Vosloo

Vir diegene wat belang stel: vandag woon ons presies vier en twintig dae in die Bosveld. Ons pos- en woonadres is Renaissance 119, Bela Bela 0480 en ons Telkomnommer, 014 736 5381. Terloops, ek is nie seker of dit Bela Bela of Bela-Bela is nie.

Onse Renaissance-oord is een van ses sekuriteitsoorde vir afgetredenes wat deel vorm van die Renaissance-groep in Limpopo en Mpumalanga en Gauteng. So, dis nie 'n ouetehuis nie al woon hier net ou(-erige) mense!

Daar is 141 semi-detached wooneenhede in ons oord. Hulle word geskei deur elkeen se motorhuis. Alhoewel ons naby mekaar woon, is die meeste (almal?) inwoners baie bedagsaam. Elkeen doen sy eie ding sonder om die ander te hinder. Die gemeenskaplike terrein word versorg deur 'n maatskappy wat 'n tuindiens lewer. Die meeste inwoners is ywerige tuiniers wat die warm klimaat en geil grond benut om van die terrein 'n ware lushof te maak. Die onderstaande foto toon die uitsig van ons stoep af.


Dit lyk asof die oord goed bestuur word. Die sekuriteitsmaatreëls laat 'n mens heel veilig voel. Trouens, ons is vir die eerste keer in jare nie op ons hoede voordat ons uit die kar klim as ons tuis kom nie. Snags is dit só stil dat ek soms daarvan wakker word! Inwoners mag nie honde, katte en ander troeteldiere aanhou nie. Dis hemel op aarde nadat ons op Jeffreysbaai dertien en 'n half jaar lank die alewige gekef van vyftien honde in 'n radius van minder as vyftig tree van ons huis af moes verduur. Die oord wemel van makkerige bloukopkoggelmanders, eekhorinkies en 'n verskeidenheid voëls. Ons het al katlagters, rooikophoutkappers en kwêvoëls in die swartapiesdoringboom voor ons stoep dopgehou. Ek sal julle eendag van die slange vertel!

Alhoewel daar nie 'n inkopiesentrum op die dorp is nie, is die inkopiegeriewe heel skaflik. As ons egter 'n mall wil besoek is die Kolonnadesentrum in Pretoria-Noord slegs sowat vyftig minute per motor hiervandaan. Loftus (virrie rugby), Centurion (virrie krieket) en die Staatsteater (virrie kultuur) is 'n bietjie verder - sê maar vyf en sestig minute. Die groot-groot voordeel is dat ons jongste seun en sy gesin op Tzaneen veel makliker bereikbaar is. Met die wind van agter duur 'n motorrit daarheen maar twee en 'n half uur in plaas van die drie dagreise wat ons gereeld van Jeffreysbaai af deurgeworstel het.

Het ons klaar nesgeskrop? Ja, soort van. Ons woonkamer lyk al soos die Vosloos s'n, net heelwat kleiner. Ons het min of meer alles uitgepak waarvoor daar plek is. Die res - hoofsaaklik boeke en kombuisware - is nog in kartonbokse en sal daar bly todat ons meer bêreplek geskep het. Ons beoog juis om binnekort 'n muureenheid in ons woonkamer te laat aanbring en om die kombuisie op te kikker. Hierbenewens sal ons nóg 'n toilet in die badkamer moet aanbring. Een werk nie!

Kom kuier gerus - sodra ons 'n tweede kleinhuisie het!

Liefdegroete.