Kowie Swiegers
Sê nou vir my dis nie die droom van enigiemand wat sy lyf genealoog probeer hou nie: om by die graf van die persoon uit te kom waarheen ons almal, volgens die Bybel, ons stamboomkan terugvoer?
Sê nou vir my dis nie die droom van enigiemand wat sy lyf genealoog probeer hou nie: om by die graf van die persoon uit te kom waarheen ons almal, volgens die Bybel, ons stamboom
Toe ons vir die eerste keer vir ons seun, Erik, en sy gesin in Saudi-Arabië gaan kuier, het ons die internet gefynkam om te probeer uitvind waarheen ons nou eintlik gaan. En toe maak ons die wonderlikste ontdekking: Jeddah, die naam van die stad aan die Rooi See waarheen ons gaan, beteken in Arabies “grootmoeder/ ouma” omdat Eva daar begrawe is!
Gelukkig is my kinders net so nuuskierig soos ek, en Erik was dadelik vuur en vlam dat ons 'n ekspedisie aan die gang moet sit om by dié baie besondere graf uit te kom. Nou ja, 'n mens raak maar 'n bietjie sinies oor sulke besienswaardighede. 'n Toergids het mos darem al vir ons daar in Israel probeer vertel dat ons voor die herberg van die Barmhartige Samaritaan staan! So, ons het besef dat dit waarskynlik net 'n mite is, maar dit was darem 'n mite wat, volgens die bronne, al vyfduisend jaar in omloop is.
En wat sou nou makliker wees: op internet het ons die koördinate gekry en die irriterende vrouestem op die GPS sou ons geduldig daarheen lei.
So gesê, so gedaan, en een middag na sy werk val ons toe in die pad en ons ry en ons ry deur die chaotiese verkeer. En later begin ons by die beheerpunte aan die rand van die stad uitkom. Ons gaan een verby, twee verby, en by die derde is dit al sterk skemer en die klomp op diens is duidelik agterdogtig oor hierdie twee westerlinge wat die donker die woestyn buite die stad wil gaan trotseer.
En ons ry en ry en die stadliggies raak al hoe verder weg terwyl die stem ons, 'n bietjie ongeduldig het ek my begin verbeel, by ons bestemming probeer uitbring. Dis later sterk donker toe ons met verligting hoor ons is by ons bestemming. Verdwaas kyk ons mekaar aan.
Gelukkig is ons op 'n teerpad wat om die baai wat die Rooi See daar vorm, gebou is en daar is voorsiening gemaak vir 'n stilhouplek. En ons hou daar stil. Daar staan alreeds 'n ander motor met 'n Arabier wat duidelik baie depressief oor die water na die liggies sit en staar. Ons probeer vir hom aan die verstand bring waarom ons ook nou eintlik daar is, maar ek verbeel my die arme man kan aan niks anders as die beplanning van sy selfmoord dink nie, en ons los hom maar aan sy eie lot oor.
Maar toe ons van die teerpad afstap na die see, sien ons 'n sementblok en daarop het iemand die naam “Eve” uitgekrap. En ons dink: “Eureka ! Ons ekspedisie was 'n sukses!” Bewoë en aangedaan dat ons dit saam kon beleef, neem ons foto’s en vertel mekaar van die besondere ervaring wat ons het. En ons raak liries oor die veelbesonge soel Arabies nagte wat gevul is met geure wat jy nie kan lokaliseer nie, maar wat jou oorweldig met hul vreemdheid en heerlikheid.
Maar daardie nag lê ons albei wakker: ons albei voel iets is nie lekker nie: Hoekom sal Eva nou minder as tien meter van die see begrawe wees, en hoekom is daar so min van haar graf gemaak?
Terwyl Erik die volgende dag sy daaglikse brood gaan verdien, bespring ek weer die internet. En ek maak die ontdekking dat 'n ander bron vertel dat die graf eintlik in die historiese begraafplaas in die ou stad, Al Balad, is. En met die wonderlike tegnologie van Google Earth kan jy sien wat binne die hoë mure van hierdie Arabiese heiligdom aangaan. Daar word die graf van Eva duidelik aangedui en ons kon 'n goeie idee kry van waar ons moet kyk.
Daardie middag is dit weer sulke tyd. Hierdie keer gaan Ouma, Ma en die twee kinders ook saam om deel van die avontuur te wees.
Die begraafplaas in die ou stad beslaan 'n paar blokke en is verskuil agter 'n baie hoë muur met 'n groot groen dubbeldeur wat ten minste vier meter hoog is. Maar dis so geslote en toe soos die hekke van die paradys na Adam en Eva se misstappie!
Erik klim uit en klop eers baie beskaafd aan die deur, maar later begin hy min of meer hamer teen die poorte van hierdie plek waar ons ten alle koste wil inkom. Uiteindelik maak 'n vaak Arabiertjie die deur op 'n skrefie oop en loer agterdogtig na dié vreemde verskynsel, sonder rok en kopdoek, wat nie sy taal kan praat nie. Erik praat Afrikaans en hy praat Arabies, maar uiteindelik dring dit tot hom deur wat die ontydige besoeker daar soek. En selfs ons wat die situasie geamuseerd uit die motor sit en dophou, kom agter dat hy by Erik wil weet of hy 'n Moeslim is. Erik verstaan dit ook maar hy hou net sy wysie in Afrikaans. Later hoor ons hy praat met die man oor “Mandela” Dalk het dit die ou se hart vermurwe, en hy stoot die een deur 'n bietjie wyer oop. Maar Erik hou nog aan en wys na die motor. Dadelik het die opsigter 'n helder oomblik en begryp wat hy vra, en hy reageer baie beslis: Goed, goed, sy pa kan saamkom, maar nie die vrouens nie. Dis darem te veel gevra van enige Arabier om 'n vrou so 'n voorreg te gun!! En verder verduidelik hy baie grafies dat geen kamera ingebring mag word nie. Hy het 'n bietjie vergeet dat 'n selfoon deesdae ook nogal oulike foto’s kan neem!
Ons het, danksy Google Earth, geweet dat ons in 'n ellelange oordekte gang die begraafplaas sou instap, en dat ons op die punt van die gang na links moes kyk en dan sou ons die konkreetblok sien wat Eva se graf aandui. En ons het geweet dat ons deur die glasvensters in die gang weerskante net ellelange sementmuurtjies sou sien wat met sand opgevul is: die rye en rye sandstroke waarin die Moeslems naamloos binne 24 uur na hul dood geplaas word.
Maar ons wou 'n foto neem, al drentel die opsigtertjie ook baie agterdogtig agter ons aan! Hoe anders sal die klomp by die huis ons glo dat ons daar was? Terwyl ons stadig die gang afstap en met baie handgebare wys na wat ons weerskante van die gang sien, beplan ons hardop in ons eie taal wat vir hom Grieks is, 'n modus operandi: Ek moes tussen Erik en die Arabier kom en baie geïnteresseerd enige vraag vra. Hy sou in elk geval geen snars verstaan nie. Dan sal hy met my as skans agter my rug, terwyl hy hoes om die geluid van die selfoon te smoor, die foto’s van die eeu neem. En toe ons aan die einde van die gang kom, toe sien ons wat ons soek: 'n onindrukwekkende langwerpige betonblok in die sandstrook links van ons.
En ons plan het gewerk, en baie tevrede en selfvoldaan is ons daar uit. Ons missie was suksesvol afgehandel!
Maar ons weet tot vandag toe nog nie wat ons presies gesien het nie.