Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

05 June 2012

Herinnering en belewenis

Diek van Wyk

In die kusdorpie waar ek woon het ons ‘n groepie wat maandeliks vergader om rondom genealogie te gesels. Nou is daar nie veel i.v.m. genealogie as sodanig waaroor gedagtes uitgeruil kan word nie en ‘n mens raak in elk geval gou verveeld om na ander se stories oor hulle herkoms te luister. Gevolglik word daar meesal gepraat oor aanverwante onderwerpe, historiese interessanthede en veral oor die ou dae.


Ek vermoed dat, behalwe vir ons belangstelling in ons onderskeie familigeskiedenisse, wat nie ‘n bindende faktor is nie, die eintlike faktor wat die groepie bymekaar hou, ‘n gedeelde nostalgie oor die verlede is, ‘n nostalgie wat in familiegeskiedenis sy kanalisering vind. Dit is dan ook nie verbasend nie dat ‘n hele paar van ons sy of haar familiegeskiedenis en ook sy of haar eie lewensgeskiedenis neergeskrywe het of daarmee besig is, natuurlik elkeen op eie manier en met eie aksente en invalshoeke.
Met die inligtingsbronne en inligtingstegnologie wat deesdae beskikbaar is, is dit nie moeilik om ‘n mens se stamboom na te gaan nie, minstens wat jou Suid-Afrikaanse herkoms betref, en met ‘n bietjie moeite kan dit selfs verder terug getrek word. Dit is ook moontlik om heelwat inligting van jou voorouers te bekom, maar dié is meesal van uiterlike aard, soos geboorte-, doop-, huweliks- en sterftedatums, woonplekke en dies meer. Sodra dit enkele geslagte terug gaan begin die persone egter agter die uiterlike gegewens verdwyn en is jy gelukkig as jy iets meer kan vasstel van hulle lewensloop, hulle geaardhede, hulle hebbelikhede en hulle onhebbelikhede, dit wil sê juis dié dinge wat jy graag van hulle wil weet om aan jou familiegeskiedenis lyf te gee.

Dit is dan dat herinnering in die prentjie kom. Want dan moet jy begin staatmaak op wat jou ouers van hulle ouers en grootouers onthou het en, as jy so gelukkig is, wat jou ooms en tantes en selfs jou grootouers van hulle voorouers onthou het.

Die probleem is egter dat die onthou gewoonlik te laat kom; dit kom wanneer dié wat onthou het nie meer daar is nie. Jy moet nou onthou wat hulle onthou het en dit op ‘n leeftyd wat jou eie onthou onbetroubaarder word. Jy vind boonop dat daar so baie is wat jy nou wil weet en wat jy toe moes gevra het en nie gevra het nie. Daar is soveel stories wat gewag het om vertel te word en nooit vertel is nie, of vertel is en nie onthou is nie, en nooit meer agterhaal kan word nie omdat die onthou saam met die geslagte heen is.

Dit is op dié punt waar die opskryf van die eie lewensgeskiedenis die uitvloeisel van jou familiegeskiedenis word. Want jy weet, of jy vermoed altans, dat net soos daar baie vrae in verband met jou voorgeslagte by jou bly spook, jou kinders of van jou nageslagte dalk ook eendag sal sug: “Het ou Diek tog maar vir ons meer van hom en sy ouers en sy tyd vertel!” (Natuurlik is hulle vandag, soos ek toentertyd, nie regtig geïnteresseerd nie, maar die dag sal dalk vir hulle, soos vir my, aanbreek dat hulle begin vra).

Wanneer jy met ander se herinneringe en veral met jou eie herinneringe gekonfronteer word besef jy gou hoe bedrieglik herinnering kan wees. Breyten Breytenbach het dit by geleentheid op sy beeldryke manier só uitgedruk:

Geheue is verbeelding, illusie, die wind tussen blare. Ons reis vorentoe soos deur ‘n landskap, en alle ervaring tuimel in die domein van die herinnering. Herinnering is ‘n nagmerrie, ‘n waarskuwende droom, ‘n konfrontasie, ‘n eggo. Maar uiteindelik ‘n bedrieër.

Min mense is so gelukkig om ‘n fotografiese geheue te hê. Almal van ons sukkel met besonderhede wat ons ontglip; almal van ons raak soms ‘n bietjie deurmekaar met feite van die verlede. En dan bedoel ek nie die soort van: “Waar sou my sleutels nou weer wees?”, “”Wat sou ek tog met my tjekboek gemaak het?” of “Sou ek regtig die stoof afgeskakel het?” nie. Ek bedoel die tipe van: “Was dit nou Kobus of was dit André wat dié dag daar aangekom het?, “Het dié partytjie plaasgevind in my tweede of my derde jaar op universiteit?” of “Watter politikus het nou weer die vergadering op Oom – wat is sy naam nou weer? – se plaas langs die hardelkoolboom - of was dit ‘n maroelaboom? -toegespreek?”

Maar herinnering is nog bedriegliker as dit. Elkeen van ons neem dinge vanuit ons eie perspektiewe waar en kleur dit dan in ons herinneringe met die kleure van ons wense, ons seerkry, ons vooroordele – sonder dat ons dit weet. Dit is die waarskuwende droom waaroor Breyten maan.

Hoe ‘n bedrieër herinnering kan wees word dramaties geïllustreer in die rolprent, The Ourage, wat losweg gebaseer is op ‘n Japanese film wat seker 50 jaar gelede hier te lande vertoon is. Dit is die verhaal van ‘n man en ‘n vrou wat deur ‘n struikrower oorval word. Die man word deur die struikrower vasgebind en sy vrou word voor sy oë verkrag, waarna hy aan ‘n steekwond beswyk. Tydens die verhoor van die struikrower getuig die struikrower, die vrou, die man (wat deur ‘n medium praat), en ‘n ooggetuie elk wat daar gebeur het. Die vier stories is heeltemal uiteenlopend en gee telkens ‘n totaal ander weergawe van die eenvoudige feite soos hierbo uiteengesit.

Natuurlik word die vier getuies se verhale ter wille van die dramatiese effek met groter verskille teen mekaar afgeteken as wat dit in die werklike lewe sou gebeur het. Dit bring nogtans by die kyker baie grafies tuis hoedat ‘n mens se persoonlikheid en jou ingesteldhede, vooroordele en perspektiewe jou herinnering van objektiewe feite kleur - afgesien daarvan dat dit by implikasie vra hoe betroubaar getuienis in die regsproses werklik is.

Ek neem aan elkeen van ons het op ‘n meer beskeie vlak al iets dergeliks ervaar. Meermale moes jy al geluister het na relase van dinge wat jy anders onthou het as die verteller. Nie omdat die verteller se verbeelding hom of haar vooruit geloop het nie – dit kan jy gou agterkom – maar net omdat hy of sy dit anders as jy waargeneem of belewe het. In my familienavorsing moes ek ook al van twee of meer nakomelinge van dieselfde voorsaat heeltemal teenoorgestelde weergawes kry. Nie omdat een van hulle onnodige vryhede met die waarheid neem nie, maar net omdat herinnering hulle vanuit verskillende rigtings daarheen gelei het.

Hoe dit met my eie herinneringe gesteld is, het ek agtergekom toe ek my lewensgeskiedenis neergeskryf het. Daar was periodes waaroor ek gemaklik, uitvoerig en met oorgawe kon skryf, maar daar was ook periodes met minder heuglike botone wat lank gelê en wag het en toe ook slegs met horte en stote en fragmentaries op skrif gekom het. Daar was skadukolle in my lewe waarvan ek nie mooi kon uitmaak wat presies daarin gebeur het nie, en daar was donker kamers waarin dinge toegegrendel was wat ek nie kon bereik nie. Op die ou end het ek besef dat my herinneringe niks anders is nie as my selektiewe blik op wat was en dat ek nie kon instaan daarvoor dat dit presies so was of so plaasgevind het nie. Daarom het ek dit Herinneringe en Belewenisse genoem: so onthou ek dit en so het ek dit toe belewe; maar vir meer as dit kan ek nie instaan nie, “So help my …”.

Herinnering is inderdaad, soos Breyten sê, die wind tussen blare. Sommige blare waai weg, ander bly binne ons gesigsveld ritsel en hou dié kleure na ons gedraai wat ons oë kan registreer, dié kleure wat ons eie, unieke menswees na ons terug kaats. Want herinnering is ‘n sif wat vir elkeen van ons uitsorteer wat vir ons belangrik is en wat vir ons saak maak; dit selekteer vir ons verwysingspunte waaromheen ons ons eie narratiewe bou; dit besluit uiteindelik wat vir ons ewewig noodsaaklik is en wat nie.

In sy boek De Eeuw van mijn Vader haal Geert Mak die skrywer Klaus Mann soos volg aan:

Herinneringen zijn gemaakt van wonderlijk materiaal - bedriegelijk en toch dwingend, machtig en vaag. Men kan geen staat maken op zijn herinneringen, en toch bestaat er geen andere werkelijkheid dan degene, die we in ons geheugen dragen. Elk ogenblik dat wij beleven dankt zijn zin aan het voorgaande. Tegenwoordige tijd en toekomst zouden zinloos worden, als de sporen van het verleden uit ons bewustzijn gewist waren. Tussen ons en het niets staat ons herinneringsvermogen, een problematisch en breekbaar bolwerk.

“En,” kan ons, op Afrikaans, daaraan toevoeg, “daarom ‘n kosbare bolwerk”. Want elkeen van ons, hoe sterk en selfstandig ons origens ook al is – of nie is nie – het daardie problematiese en breekbare bolwerk nodig om ons brose menswees in stand te hou.