Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

28 June 2012

My tog deur die woude van die genealogie op soek na die "Rooties"


Stief Rootman

Ek het maar `n terloopse belangstelling in my herkoms gehad en aangesien my ouers Transvalers van geboorte was en later in die Kolonie kom bly het, het ons buite die sirkel van familiekontak gebly.  Daar was dus min of geen interaksie met hulle.  Behalwe vir `n paar ooms en tannies en neefs en niggies het ek min van die familie geweet.




Ek was later jare betrokke by `n groot versekeringsmaatskappy en in Bloemfontein geplaas.  Op `n dag het ek `n beroerte-aanval gehad en het ek my geheue verloor.  Na vele beproewings vir my vrou en arts het ek dermate herstel dat ek huistoe kon gaan.  Die arts het aanbeveel dat ek betrokke moet raak in iets wat my gedagtegang sou stimileer en my vrou het gedink gesinsnavorsing sal nuttig wees, aangesien ek darem so `n ietwat van die geskiedenis in my geheuebank het.  Sy het by die GGSA aangeklop en vasgestel dat dr. Malan van Carltonville reeds besig was om `n boek saam te stel oor die afstammelinge van Laurenz Rötmann, stamvader van die Roodman-, Roothman-, Rootman- en Roodtman-nageslag.  Sy het met hom kontak gemaak en hy het my onder sy vlerk geneem.  Ek het hom gehelp om inligting te vergader en sodoende waardevolle ondervinding opgedoen in die bronne waar familieinligting bekom kan word.


Intussen het my firma my op `n vervroegde pensioen geplaas en was ek vry om te reis.  Ek het die nasionale telefoonregisters deursoek en almal wat een van die verbuigings van dié van het van my missie vertel.  Ek het hordes inligting bekom, so baie dat dit bykans onmoontlik was om dit te verwerk.  Daarbenewens het ek die Provinsiale argiewe in Grahamstown, Pietermaritzburg, Bloemfontein, Kimberley, Pretoria, Port Elizabethen en Kaapstad besoek en afskrifte gemaak van sterftekennisse, hooggeregshowe se besliste sake, en so meer. Ook het ek die kerkrekords nagegaan van daardie gebiede waar daar `n wesentlike teenwoordigheid van Rooties was. Dit was heel interressant en vervullend.  Dr. Malan het sy boek afgesluit en dit uitgegee.  Hy het al sy dokumentasie  aan my oorgemaak en ek het daarmee voortgegaan.  Die boekie het 510 “Rooties” gedokumenteer en is baie goed in die mark ontvang.

Die probleem met so `n projek is dat dit nooit afgesluit raak nie.  Soos wat jy besonderhede aanteken gebeur daar nuwe dinge wat ook inskrywing verdien, dus het ek my in `n web laat vas spin waaruit ek nie maklik sal kan loskom nie.  As jy met so `n groot groep mense werk is daar so baie uitstaande beloftes dat jou frustrasiepeile deurgaans op breekpunt is.  Boonop het ek nooit my korttermyn geheue herwin nie en word ek dikwels daardeur in die verleentheid  gebring.

Toe ons vier jaar gelede die Genealogiese Geselsgroep op Jeffreysbaai stig, het ek by Japie Bosch kers aangesteek.   Hy het my attent gemaak op die enormiteit van my aanvanklike projek en aanbeveel dat ek dit opbreek in seksies en dan die verskillinde seksies een vir een afhandel.  Ook het hy aanbeveel dat ek oorskakel na die Legacy program omdat dit meer verbruikersvriendelik skyn te wees.

Aanvanklik kon ons nie die inligting nie oorgedra kry nie maar genealogiese navorsers is vriendelike en hulpvaardige mense en is die werk deur `n vriend in London vir my gedoen.   Genadiglik het ek Japie se raad gevolg en besluit om die afstammelinge van my Oupa Boy Rootman aan te teken en ook om waar moontlik foto’s van die nageslag op te neem.  Soos dit maar met sake  van dié aard gaan is daar nog vele uitstaande foto’s maar ek het daarin geslaag om elke afstammeling aan te teken. Daar is tans 2541 van hulle.