Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

01 December 2012

Adriaan Frans Christiaan Röscher, die grondlegger van Ventersdorp

Piet Butler

[Hierdie berig bevat uittreksels uit ‘n gelyknamige artikel wat Piet in 1988 geskryf het. Belangstellendes kan ‘n afskrif van die volledige teks bekom deur met hom in verbinding te tree by dawnviewinn@yahoo.comRed.]

Adriaan Frans Christiaan Röscher is op 3 Augustus 1832 in die distrik Uitenhage gebore en verhuis in 1854 na die Transvaal. In 1856 tree hy in die huwelik met Johanna Sophia van Jaarsveld te Klerksdorp, waar hy ook tydelik sy beroep as onderwyser beoefen.
 
In die totsandkoming van Ventersdorp as regeringsdorp was daar veral een persoon wat ordening aan ‘n onbeplande nedersetting verleen het: Adriaan Röscher. Vir hom het die basis van ‘n beplande dorp daarin gelê dat erwe en plase behoorlik geregistreer behoort te word om toekomstige botsings oor eienaarskap uit te skakel.

Op eie inisiatief het Röscher, nadat hy hom in 1874 permanent op Ventersdorp gevestig het, die regering in 1875 oorreed om ‘n landmeter na die gebied te stuur om die opmeting van plase en erwe in die omgewing te hanteer.

Volgens beplanning sou Ventersborp opgerig word op die plaas Roodepoort wat voorheen aan een van die eerste intrekkers in die gebied, J H Venter, behoort het. Venter het egter met die verloop van tyd erwe op hierdie plaas aan nuwe intrekkers verkoop. As gevolg van ongereelde dokumentering en die versuim om grondoordragte by die landdros van Potchefstoom aan te teken, het groot verwarring ontstaan oor die eienaarskap van erwe en selfs plase in dié gebied.

Tydens ‘n openbare vergadering in Mei 1875 neem Röcsher die leiding om ‘n memorie namens die inwoners van Ventersdorp aan die regering saam te stel waarin die regering versoek word om Ventersdorp as dorp te verklaar sodra die landmeter sy taak afgehandel het en eenhonderd erwe met die nodige watervoorsiening uitgemeet het.

Met die anneksasie van die Suid-Afrikaanse Republiek in 1877 het hierdie poging van Röscher nog geen positiewe resultate opgelewer nie. As gevolg van toenemende watergeskille langs die Schoonspruit het effektiewe waterregulasies vir die inwoners belangriker geword as dorp stigting.

Voor die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog het Röscher in onguns by die Ventersdorp-inwoners geraak.

Ná die Eerste Vryheidsoorlog het die knellende waterprobleme die plaaslike beplanning in Ventersdorp oorheers.

Röscher het intussen sy aansien herwin en in 1882 word hy deur die inwoners verkies as voorsitter en sekretaris van die plaaslike beplanningskomitee. As gevolg van sy onvermoeide ywer word die “Concept Regulatie voor de plaatse aan Schoonspruit en Instructie voor den Waterfiscaal” voorlopig in 1884 in die Staats Courant gepubliseer.

Die publikasie van die konsepregulasies het ook aan dorpstigting van Ventersdorp nuwe momentum verleen.

Adriaan Röscher het teen 1887 weens plaaslike politiekery, weer eens in onguns by die inwoners van Ventersdorp geraak. Hulle het glad nie genoeë geneem het met sy houding asof Ventersdorp se dorpsverklaring hoofsaaklik van sy samewerking afhanklik sou wees nie. Dit het hom egter nie laat onttrek aan die plaaslike gemeenskapsaktiwiteite nie, maar hom eerder gemotiveer om deur middel van ‘n koersaanpassing sy ideal van ‘n geordende Ventersdorp-gemeenskap te bereik. Hy het homself beskikbaar gestel om die regering by te staan om die dorpstigting af te handel.

In Februarie 1888 word in die Staats Courant gepubliseer dat Ventersdorp dorpstatus verkry. Die Volksraad gee op 29 Mei 1889 sy goedkeuring aan die finalisering van die waterregulasies van Ventersdorp wat dit ten doel gehad het om die waterverdeling van die dorp te orden en te regulaeer.

Röscher het dus in sy doel geslaag om ‘n geordende Ventersdorp daar te stel.

Teen die einde van 1889 het die inwoners hul waterkommissie verkies met Röscher as voorsitter én sekretaris. Hieruit blyk dit dat die inwoners tot die besef gekom het dat sy kundigheid vir Ventersdorp onmisbaar was.

Vir byna 25 jaar voor die Tweede Vryheidsoorlog het Adriaan Frans Christiaan Röscher met ‘n besondere toewyding en deursettingsvermoë sy rol in die plaaslike aangeleenhede in Ventersdorp gespeel.