Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

03 December 2012

Die Eerste Vryburgers

Jan van Riebeeck
Van Riebeeck het ’n eenvoudige opdrag gehad: lê ’n groentetuin en vrugteboord aan, bou ’n fort en hospitaal, en ruil vee van die inheemse mense. Niemand het aan kolonisasie gedink nie. Van Riebeeck het egter gou raakgesien dat grond oos van Tafelberg, “met die heerlikste vars riviere wat ’n mens kan begeer”, uitstekend vir landbou geskik was. In 1657 het hy nege Kompanjiesdienaars vrygestel om voltyds op erwe van 13,3 morg (sowat 11,4 ha) te boer.

Die Kompanjie het sy Europese werknemers nie vrygestel met die een of ander grootse plan voor oë nie. Sommige van die VOC se vernaamste amptenare sou Chinese of vryswartboere eerder as Europese boere verkies het, en in hul briewe skryf hulle dikwels minagtend oor die vryburgers se vermoëns. Die Kompanjie se beamptes was dikwels verontwaardig oor wat hulle as buitensporige eise deur die burgers beskou het. Van Riebeeck het klaarblyklik gedink die burgers moet dankbaar wees vir hul vryheid, en moet daarom hul eie belange aan dié van die Kompanjie ondergeskik stel.

Burgers had min lus vir harde werk
Jan van Riebeeck het feitlik instinktief geglo dat intensiewe bewerking van die grond, met ’n rotasiestelsel, die beste vir voedselproduksie sou wees. Dit sou naby aan die fort ’n netjiese en kompakte nedersetting skep. Maar so ’n landboustelsel vereis kapitaal, wat die burgers nie gehad het nie, en harde werk, waarvoor hulle nie lus was nie. Orals ter wêreld het beamptes in kolonies ontdek dat die Europese immigrante geweier het om met hul hande te werk as daar slawe of inheemse arbeid was. Net boere met arbeid en kapitaal wat vir hulself geboer het, kon dié werk doen.

Groentemarkplein
Die burgers naby die Kaapse mark het geboer vir ’n kopersmark wat swaar ten gunste van die Kompanjie gelaai was. Koring moes eers aan die Kompanjie gebied word, teen pryse wat hý bepaal het. Die Kompanjie het ook eerste aanspraak op groente en vrugte gemaak. Hy het die wynhandel aan kontrakteurs verpag, en die wyn moes teen lae pryse aan die Kompanjie gelewer word. Dié het ’n monopolie gehad om die wyn aan die talle tavernes in die hawestad te verkoop, en dus kon die boere nie hul eie produkte in die kleinhandel verkoop nie. Die verkoop van vleis is ook só verpag.

Burgers kon hul produkte eers drie dae nadat skepe in Tafelbaai anker gegooi het, aan dié skepe verkoop, maar grootskaalse smokkelary van allerlei produkte was algemeen. Daar was maar min kans op uitvoer. In 1659 het Van Riebeeck geskryf dat “tot lof van God vir die eerste keer wyn van Kaapse druiwe gepars” is. Die wyn was egter te swak om in groot maat uit te voer. Die Kompanjie het die burgers se versoeke om hul eie produkte in sy skepe uit te voer, verwerp.

Uit: Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika saamgestel deur Hermann Giliomee en Bernard Mbenga. In 2007 uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.