Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

18 May 2013

Gehaltebeheer van genealogiese publikasies

[‘n Uittreksel, ietwat geredigeer, uit ‘n epos wat Isabel Groesbeek, bekende genealogiese navorser, aan die SA Genealogiese Gespreksgroep gerig het - Red.]
 
Ek dink nie mens kan te veel oor hierdie onderwerp gesels nie, want ons het hard gewerk om genealogie as wetenskap erken te kry en ons moet trots kan wees op die produkte wat Suid-Afrikaners lewer.

Dikwels begin persone/familielede moontlik wel net met 'n klein familieprojek, maar kort voor lank word dit 'n meer uitgebreide projek en die familie oorweeg later 'n publikasie.
 
Oorweeg dus die volgende:
 
  1. Fokus en pak die navorsingsprojek van die begin af met nougesetheid aan.
  2. 'n Doelgerigte rekenaarprogram en/of kataloguskaartjies help met rekordhouding van bronne en bronverwysings, vir moontlike later verifiëring en ter wille van  moontlike publikasie.
  3. Foute is onvermydelik, maar ek reken elkeen moet vir hom/haarself 'n sekere standaard stel en die projek positief aanpak - nie sommer van die begin aanvaar dat daar foute sal wees nie. Ek is nogal perfeksionisties wat dit betref, maar het ook al besef dat ek nooit sal publiseer as ek aanhoudend wil kontrole toepas nie.
  4. GGSA het in die verlede 'n stuk saamgestel oor standaardisering en navorsingswenke. Ek is net nie seker hoe geredelik dit beskikbaar is nie.
  5. Gebruik standaard genealogiese nommering, simbole en afkortings.
  6. Moenie net data sonder bronverwysings klakkeloos oorskryf nie. Is die data betroubaar? Wat is die bron?
  7. Waak teen plagiaat.
  8. Formuleer ‘n gepaste titel vir die manuskrip, bv. nie Van Breda-geslagregister in SA as dit dalk net oor een stamlyn handel nie.
  9. Begin die manuskrip met 'n inleiding met notas ter verduideliking van die aanslag van die projek.
  10. Laat vriende/kenners dit lees ter wille van kommentaar.
  11. GENIET en dra by tot 'n kosbare erfenis!!