Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

14 May 2013

Twee gemeentes

Christo Viljoen

Daar is twee gemeentes van die NGK op Graaff-Reinet: die oorspronklike Groot Kerk-gemeente (waar o.a. ds. Andrew Murray, ds. DF Malan en ds. Jozua Naudé predikante was), en die latere Nuwe Kerk.

Laasgenoemde het in 1927 ontstaan as gevolg van 'n kerktwis wat veral oor taal gegaan het: die Groot Kerk se predikant wou in Afrikaans preek, die Nuwe Kerk-gemeente wou Engels as kanseltaal hê.

Politiek het ook 'n rol gespeel en vir baie jare was die Groot Kerk (ook vroeër bekend as die "Ou Kerk") bekend as die Nat-kerk, en die Nuwe Kerk as die Sap-kerk. Ironies genoeg het daar toe niks gekom van die plan dat die Nuwe Kerk-gemeente Engels as kanseltaal sou gebruik nie.

Die Groot Kerk op Graaff-Reinet
Die Groot Kerk-gebou is die imposante toringkerk in Kerkstraat; die gemeente is op 11 November 1792 gestig en die huidige kerkgebou, in die Neo-Gotiese boustyl is deur die argitek J. Bisset ontwerp met aspekte van die Salisbury Katedraal in Engeland in gedagte, en op 10 en 11 September 1887 ingewy. Sien verdere inligting by http://www.vriendevangrootkerk.co.za/geskiedenis.html

Die historiese Reinethuis-museum was oorspronklik die pastorie van die gemeente.

Vandag is die twis van meer as 80 jaar gelede vergete en die dorp NGK-gewys geografies in twee verdeel; woon jy in een deel, is jy veronderstel om aan die een gemeente te behoort, en andersom. Sedert gemeentelike grense van minder belang geword het in die NGK, word ook dié reël nie meer streng toegepas nie.

Ontleen aan die GGSA-gespreksgroep