Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

09 September 2012

Die Olivier-familiebybel

Naas Olivier 


Die Olivier-familiebybel
Dié Bybel was die eiendom van my agter-oupagrootjie, Ignatius Petrus Hendrik Olivier (*1823 op die plaas Mynhardtsrivier in die Olifantsriviervallei tussen Calitzdorp en Oudtshoorn; = 20/4/1823 in Gamka). Hy is op 9 November 1846 met Susanna Dorothea Magdalena Jacoba Potgieter te Calitzdorp getroud. Hulle was eie neef en niggie. 

Agter-oupagrootjie-hulle het 15 kinders gehad - 6 seuns en 9 dogters.  Voor in die Bybel was die kinders se  name, geboorte- en doopdatums aangeteken. Die skrif in die Bybel is vermoedelik sy handskrif en dié van sy vrou. 


Die handskrif is vermoedelik dié van Ignatius Petrus Hendrik Olivier en sy vrou, Susanna Dorothea Magdalena Jacoba 
Hy het in die Bybel geskryf dat dit ná sy dood deur sy oudste seun, Ockert Johannes Olivier, geërf moet word, wat wel gebeur het. 

Ná Ockert se dood het die Bybel ‘n wye draai in aangetroude familie se besit gemaak. Dit was by ‘n sekere Ignatius Petrus Hendrik (Naas) Fourie toe ek van die bestaan daarvan bewus geword het. 


Nóg 'n inskripsie in die familiebybel
Aangesien my oupa, óók Ignatius Petrus Hendrik Olivier, die oudste seun van genoemde Ockert Johannes was en ek sy oudste agterkleinseun, het ek alles in my vermoë gedoen om die Bybel te bekom. Na heelwat onderhandeling het ek uiteindelik, ná Ignatius Petrus Hendrik Fourie se dood, die Bybel in besit geneem. 

Sover my kennis strek was my agter-oupagrootjie, Ignatius Petrus Hendrik Olivier (*1823), die eerste persoon wat dé naam gedra het. 


'n Kosbare erfenis
Hoe het hierdie naam ontstaan? Na ‘n bietjie navorsing het ek die volgende afleiding gemaak: Ignatius Petrus Hendrik Olivier se vader, Ockert Johannes Olivier, was getroud met Anna Elizabeth du Preez. In 1823 vernoem hulle, soos die gebruik was, hulle vyfde seun na haar pa se oudste broer, Ignatius Petrus Du Preez. Die ‘Hendrik’ wat bygevoeg is, was moontlik aan die Olivier-stamvader, Hendrik Corneliszoon, ontleen. 

Dit is egter ook moontlik dat dit van die Ferreiras afkomstig was. Anna Elizabeth du Preez se oupa, Andries du Preez, was getroud met Hester Ferreira, ‘n dogter van Ignatius Ferreira, die Ferreiras se stamvader. Sy het ‘n broer gehad met die naam van Petrus Hendrik Ferreira.