Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

01 September 2012

Boer maak toe wél ‘n plan!

Barry Vosloo 

Op 28 Junie 2012 het Jaarringe ‘n storie geplaas oor Gerrit Vosloo (1768 – 1860) wat in 1799 tydens die Van Jaarsveld-opstand op Graaff-Reinet ‘n houtkanon gemaak het. Klik HIER om toegang te verkry. 

Ontleen aan Die Vosloos - nuttige landsburgers deur Daniel Jacobs
Die waarheid van die gebeure is jare lank bevraagteken. Trouens, ‘n bekende geskiedkundige, prof. Hermann Giliomee, het by navraag laat blyk dat sy navorsing oor die Kaap tydens die eerste Britse bewind, geen verwysings na die kanonmakery opgelewer het nie. 

Daniel Jacobs
Die Vosloos – nuttige landsburgers, wat genealogiese navorser Daniel Jacobs in opdrag van Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers, saamgestel het, het tereg gevra: “Hoe sou die legende daaroor dan ontstaan het – en bevat dit dalk ‘n kern van waarheid?”

Jaarringe kan nou by monde van Jacobs die juistheid van die gebeure bevestig. Dankie aan Pieter Vosloo, van Jeffreysbaai, wat hierdie verwikkeling aan Jaarringe bekendgemaak het.

Jacobs skryf: “Toe ek vroeër vanjaar kennis kry dat die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis voorleggings vra vir hulle jaarkongres met die tema Die Kultuurgeskiedenis rondom geveg, oorlog en konflik (insluitend die 100-jarige bestaan van die Weermag in Suid-Afrika, 1912-2012) het ek besef dat ek nie langer kon wag om hierdie vreemde komiese verhaal te herskryf met bywerking van die nuwe materiaal nie. 

Die komiese van die verhaal is waarskynlik een van die belangrikste redes waarom niemand in die verlede nog gepoog het om 'n ernstige weergawe van die verhaal - wat moontlik in ca. 1811 afgespeel het - te skryf nie. Wie wil die risiko loop om sy akademiese geloofwaardigheid met so ‘n storie op die spel te plaas?! 

Hierdie voordrag van my is dan ook waarskynlik die eerste poging waarin ondubbelsinnig, na ontleding van al die bekende bronne – en veral ook twee minder bekende bronne - oor die saak, tot die gevolgtrekking gekom word dat die Graaff-Reinet-Boere sonder enige twyfel ‘n houtkanon gebou het. 

Ter afsluiting nog net dit. Die sterkste bewys nog dat die insident wel plaasgevind het is die 1820-setlaar, Thomas Phillips, se dagboekinskrywing in 1823 waarin hy noem dat Heemraad Barend de Klerk meer is een keer vir hom vertel het hoe hulle die kanon gebou het. 

Ek dink nie ek is verwaand nie as ek sê dat ek met my voordrag 'n nuwe dimensie aan die betekenis van die gesegde " 'n Boer maak 'n plan" gegee het!”

[Daniel Jacobs het in 1984 ‘n BA(Hons)-graad in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en in 1990 die Nasionale Diploma in Argiefwetenskap aan die RSA Technikon. Hy het drie jaar lank as argivaris in die NGK-argief in Kaapstad en ‘n verdere drie jaar in die Staatsargief in Kaapstad gewerk, waar hy o.a. verantwoordelik was vir die gee van navorsingsleiding aan navorsers. Jacobs het sedert 1987 reeds vir honderde mense genealogiese en kultuurhistoriese navorsing gedoen. Sy webadres is http://gendata.co.za/ - Red.]