Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

11 September 2012

‘n Deernisvolle verhaal uit die familiegeskiedenis van die Odendaals

[Sias Odendaal van Jeffreysbaai het hierdie verhaal aan Jaarringe beskikbaar gestel. Ds. Odie Odendaal (8ste geslag) en Isak Smit (9de geslag) het die navorsing gedoen - Red.]

ʼn Klein dorpie, Odenthal naby Keulen in Duitsland is die bakermat van die Odendaals in Suid-Afrika. “Oden” was die antieke hoofgod van die Germane en “thal” die dal waar Oden aanbid is. Ons stamvader, Wilhelm Odendaal (ook gespel Odendal, Odendall of Odendahl), afkomstig van Odenthal, arriveer in 1706 as soldaat in die Kaap met ʼn vyfjaarkontrak ten tyde van goewerneur Willem Adriaan van der Stel. 

Tydens die burgerverset waarby Adam Tas betrokke was, is die soldate gebruik om die opstand teen Van der Stel te onderdruk. Dit het Wilhelm nie aangestaan nie. Met die verstryking van sy kontrak word hy ʼn plaasarbeider en later ʼn handlanger in die boubedryf. Met sy spaargeld kon hy uiteindelik die klerebedryf betree, word ʼn kleremaker en raak bevriend met die Adam Tas-opstandelinge. Dit loop uit op ʼn huwelik met Susanna Biebouw die half-suster van Hendrik Biebouw (Bibault) op 13 September 1711. 

Susanna Biebouw, stammoeder van ʼn deel van die huidige Odendaals, gebore op 23 Februarie 1687, was die buite-egtelike dogter van Detlef Biebouw en ʼn slavin, Diana van Madagaskar, ʼn vermenging van Afrika- en Indonesiese bloed. Detlef, wat baie lief was vir sy minnares, het Diana op 28 Desember 1693 vir 90 Ryksdaalders van Christiaan Freser gekoop en haar en hul dogter Susanna kort daarna vrygestel. 

Die Here XVII besluit om goewerneur W.A. van der Stel terug te roep. Om hul blydskap te kenne te gee, het Susanna se halfbroer, Hendrik Biebouw saam met ʼn paar dronk vriende op Sondag 6 Maart 1707 op perde deur die strate van Stellenbosch gejaag en slagkrete geskreeu en amok gemaak. Landdros Starrenberg kom hiervan te hore, tree die jongklomp aan en slaan Hendrik en van die ander met ʼn rottang. Hendrik was nie hiermee gediend nie en identifiseer homself toe as die eerste Afrikaner met die uitroep: “Ik ben een Afrikaner,” bedoelende dat hy in Afrika gebore is. Gevolglik word Hendrik, die enigste Biebouw-seun in 1707 na Batavia verban en so verdwyn die van Biebouw in Suid-Afrika. 

Wilhelm Odendaal en Susanna Biebouw verwek vier kinders. Susanna sterf vroeg in 1717; Wilhelm verkry burgerskap en op 24 April 1717 bekom hy kragtens transportakte 1168 in die distrik van Stellenbosch, sy eie plaas Zandburgh (Sandenberg), tans deel van die plaaslike gebied Raithby, afdeling Stellenbosch. So word Stellenbosch dan die bakermat van alle Suid-Afrikaanse Odendaals. Wilhelm sterf in 1732. Die stamname Susanna en Wilhelm (Willem/Wilhelmus) kom nog tot in die negende geslag gereeld voor. 

Tot die derde geslag Odendaals boer in die Stellenbosch-omgewing en wyk later uit na die Overberg en die Oos-Kaap. Nie net neem hulle deel aan die Oosgrens-kafferoorloë nie, maar verlaat die Kolonie saam met verskeie trekke en is betrokke by die stigting van Rouxville en Odendaalsrus. Jacobus Paulus Odendaal (4de geslag) vestig homself in 1848 as veeboer in die OVS. Een van sy seuns, Michiel Wilhelmus Odendaal (5de geslag), gebore in Julie 1820 in Stellenbosch, koop verskeie plase in Rouxville, dien as veldkornet, en word in 1869 Volksraadslid vir Onder-Caledon en in 1873, vir Rouxville. 

Roelof Frederik Odendaal (ook genoem Fritz) van die 6de geslag en oupa van Sias Odendaal, is gebore op 11 Junie 1868 op die plaas Nieuwenhuisfontein, Rouxville Hy groei op op die plaas Beestekraal. Fritz begin met skape boer en teel uitsonderlike perde op die plaas Kirkentilloch by Thaba Nchu en die sogenaamde Waterwerke. Die huis waarin die gesin op Kirkentilloch gewoon het en die buitegeboue bestaan vandag nog hoewel gerestoureer en vergroot. 

As gevolg van die ondervermelde besondere gebeure is hierdie opstal nooit deur die Kakies afgebrand nie. 

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog neem Fritz die wapen op, maar weens sy uiterste swak sig word hy as ʼn veiligheidsrisiko gesien en word teruggestuur plaas toe om kos vir die Boeremagte te produseer. 

Die slag van Sannaspos om die waterwerke wat water aan Bloemfontein voorsien het, vind op 31 Maart 1900 naby Kirkentilloch plaas. Ná die slag van Sannaspos is sowel die Boere- en Britse gewondes na die huis van oupa Fritz en ouma Susanna geneem, waar ouma en die oudste dogter, tant Miemie, hulle versorg het. Die twee groepe het in verskillende kamers gelê. 

Een van die Britse soldate was baie swaar gewond en het deurentyd gekerm van die pyn. In die nag het Miemie deur die venster geklim, water gaan haal en vir die Brit gegee. Hiermee verdien sy dan ʼn goeie loesing omdat sy in die nag by die vyand in die kamer was.

Een van die gewonde Boere kon die gekerm nie meer verdra nie en het in die nag na die kamer van die Brit gekruip met die doel om hom keelaf te sny. Oupa Fritz het hom betrap en was woedend omdat hy “nie moord onder sy dak sou toelaat nie.” Hy het die Boer met teregstelling gedreig. Toe beide groepe voldoende aangesterk het, is hulle terug na hul eie laers. Oupa is gevange geneem en na die kamp in Groenpunt en later die gevangenis te Bloemfontein geneem. Hier moes hy help met die oprigting van die wit perd teen Naval Hill. 

Kort hierna het die Engelse ʼn kamp op Kirkentilloch opgerig om die waterwerke te beskerm. Of van die gewonde Britse soldate wat deur Ouma en haar dogter verpleeg is daar gestasioneer was, weet ons nie. Wat wel waar is, is dat ʼn jong Engelse soldaat elke nag ʼn bakkie met kos op die trap van die buitegebou vir Ouma en haar vier kinders neergesit het. 

Vroegoggend is die bakkie met kos ingebring en saans weer uitgesit. Vir meer as ʼn jaar het dit so aangehou totdat Ouma en haar vier kinders na die konsentrasiekamp te Bloemfontein gestuur is. 

Die swaargewonde Britse soldaat wat deur Ouma verpleeg is en deur Oupa gered is, was ʼn wag by die kamp toe Ouma en haar kinders daar aankom. Hy was baie vriendelik teenoor hulle en het later gereël dat die Odendaals uit die kamp ontslaan word en privaat in Bloemfontein kon bly. Ouma en Miemie het voortgegaan om siekes in die kamp te versorg. 

Oupa Fritz verkoop sy helfte van die plaas en op 23 Julie 1912 trek hy, ouma Susanna en hul tien kinders na die plaas Happy Rest in die distrik Louis Trichardt, teen die Soutpansberg, en boer met sitrus en vee. Hy koop ook die plase Bloekompoort, Bristol, Verziersherft, Purth, Holworth, Welrevrede en Nooitgedacht in dieselfde omgewing. Hy was ook ʼn stigterslid van die Nasionale Party in 1914 in Louis Trichardt. 

In 1921 trek hy na Suidwes-Afrika en vestig homself op die plase Omaue en Omgariwanda-Sued (tesame 10 777 ha) in die distrik Omaruru. Na die dood van ouma Susanna trou hy weer in 1926, verkoop sy plase en trek na die plaas Okawayo, distrik Karabib wat aan sy tweede vrou Emmie behoort het. Hentiesbaai in Namibië is vernoem na Hentie van der Merwe, aangenome seun van Ouma Emmie. Hier betree hulle die Swakara bedryf deur met karakoelskape te boer. 

Baie jare later, gedurende die 1940s sit Oupa Fritz en Ouma Emmie een dag in ʼn kafee op Swakopmund en tee drink. By ʼn ander tafel het ʼn paar Engelssprekendes gesit. Na ʼn ruk het een van hulle opgestaan en na Oupa gestap en gevra: “Is jy meneer Roelof Odendaal?” Toe Oupa dit bevestig sê die vreemdeling: “Ek is die Britse soldaat wat so swaar gewond in jou huis gelê het. Vandag kry ek die geleentheid om jou te bedank dat jy die Boere-soldaat gekeer het wat my keel wou afsny omdat ek soveel pyn verduur en so gekreun het. Baie dankie daarvoor en baie dankie vir julle versorging.” 

Oupa Fritz sterf in Swakopmund op 2 Maart 1950 in die ouderdom van 81 jaar. 

Roelf Frederik Odendaal (7de geslag - een van die 10 kinders) het op Homestead en Nimitz, distrik Outjo Namibië geboer. Sy seun Sias (8ste geslag – een van 5 kinders) en Annatjie het afgetree op Jeffreysbaai. Hul dogter, Marileen Waddell, is ʼn inligtingsargitek in die VSA. Sy en Greg, haar man, woon in Whitingham, Vermont, in ʼn herehuis gebou in die laat 1700s en wat hulle self restoureer. 

Sias en Annatjie se seun, Fritz (9de geslag), is deesdae ʼn mediese dokter op Kuruman. Hy en en sy vrou Ronelle besit wildplase in die suide van Namibië tussen Keetmanshoop en Lüderitz, te wete die plase Simplon en Goageb. Sy seun Fritz (10de geslag) is nog op hoërskool in Kuruman en so ook hul dogter Junel. 

Die Odendaals is hier om te bly!