Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

31 August 2012

Die stamvader van die Ferreiras in Suid-Afrika

Die feitelike gegewens van hierdie eg-menslike verhaal is ontleen aan die Ferreira-stamregister, saamgestel deur Emmarentia Ferreira van Jeffreysbaai en Janet Melville van Port Elizabeth, asook Stamvader Ignatius Ferreira en sy naverwante wat in 1997 deur prof. O.J.O. Ferreira gepubliseer is – Red. 

Afdruk van 'n antieke kaart wat die ligging van Lissabon en Alcantâra aantoon
 Die stamvader van die meeste Ferreiras in Suid-Afrika, Ignacio (later Ignatius) Ferreira, is in 1695 in Portugal gebore. Hy was die seun van Manuel Ferreira en Antonia Francisca van Alcantâra, Lissabon. Ferreira beteken ‘smid’ of ‘hoefsmid’. 

Die stranding van die Chandos?
Ignatius was ‘n matroos aan boord van die Chandos van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie wat van Bengale na Lissabon onderweg was toe dit tussen 16 en 17 Junie 1722 tydens ‘n hewige storm in Tafelbaai gestrand het. 

Hy het besluit om maar in die Kaap aan te bly en het as soldaat by die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC)-halfwegstasie in diens getree. 

Anna de Koningh
Ignatius het later as ‘n kneg by verskeie burgers in die Kaap gewerk, onder andere Anna de Koningh, die weduwee van Olaf Bergh, ‘n VOC-amptenaar. Terloops, Anna was die dogter van ‘n vrygekoopte slavin, Ansela van Bengale en ‘n onbekende pa. Ansela was ook bekend as Mooij Ansela. 

Kort voor lank het Ignatius en ‘n Hugenote-dogter, Marthe Terblans/Terreblanche (gebore 1717), vir mekaar begin ogies maak en wou opsluit trou. Haar pa was egter hewig teen die huwelik gekant en het geweier om sy toestemming daarvoor te gee. Die rede, so word gespekuleer, was omdat Ignatius ‘n Rooms-Katoliek was en die Terreblanche'e, Protestante. Die twee verliefdes het nietemin twee kinders gehad wat buite die eg gebore is. 

Ten einde raad het Ignatius die Protestantse geloof aangeneem, dog Marthe se pa wou steeds nie bes gee nie. Hulle het hulle uiteindelik tot die goewerneur gewend wat die nodige toestemming verleen het. Hulle is op 6 November 1735 op Stellenbosch getroud. 

Ignatius word in 1737 ‘n vryburger en ontvang die leenplaas, De Hartebeest Kuyl, naby Mosselbaai, in erfpag. In 1748 word dit sy eiendom. Volgens Emmarentia Ferreira het die Ferreiras hiervandaan, via die Langkloof, die hele land vol versprei. 

Vuurmeganisme van 'n snaphaan
Volgens ‘n opgaafrol vir 1752, het Ignatius en sy eggenote “9 seuns, 3 dogters, 8 perde, 50 rundvee, 900 schapen, 1 snaphaan, 1 degen, geen slawe, wynstokke of gesaaides” besit. Volgens HAT is ‘n degen ‘n “smal, reguit, buigsame steekwapen, tans veral gebruik by die skermkuns”. 

 Ignatius Ferreira is op 24 Augustus 1772 in die omgewing van Mosselbaai oorlede.