Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

20 August 2012

Die Franse Hugenote in Suid-Afrika

Die Hugenote-monument in Franschhoek
Die ondervermelde inligting oor die Franse Hugenote is oorgeneem uit twee geloofwaardige webtuistes: die Hugenote-vereniging van Suid-Afrika en die  Suid-Afrikaanse Ensiklopedie

'n Historiese tydlyn van die Hugenote in Suid-Afrika kan gesien word deur hier te klik en besonderhede van genealogieë van Suid-Afrikaanse families van Hugenote-afkoms kan hier besigting word. 

Hugenote kom in Tafelbaai aan
Die Edik van Nantes, wat in 1598 uitgevaardig is, het aan die Hugenote, met hulle gereformeerde geloofsoortuigings, ‘n bestaansreg in Frankryk gewaarborg. Op 22 Oktober 1685 is die Edik egter deur Lodewyk XIV herroep. Dit het uitgeloop op gruwelike vervolging van Protestante in Frankryk en het duisende na die buiteland gevlug - sommige na die Kaap. Die naam "Franse Hugenote" word sedert sedert 1560 as die naam van die Franse Protestante gebruik. 

Dit is interessant dat die eerste Hugenoot wat voet aan wal in Tafelbaai gesit het, Maria de la Quellerie, die eggenote van Jan van Riebeeck, was. Sy het egter net vir 10 jaar aan die Kaap vertoef en het in 1662 saam met haar eggenoot vertrek 

Simon van der Stel
Die wit bevolking aan die Kaap is in die tyd van Simon van der Stel aansienlik versterk deurdat van die Hugenote hier 'n heenkome gevind het. Altesame sowat 200 het, meestal in gesinsverband via Nederland, eers in April 1688 met die Voorschoten en periodiek daarna tot Januarie 1689 aan die Kaap geland. 

Ds Pierre Simond het as hul eie predikant die groep gelei, maar hul taal, Frans, het spoedig aan die Kaap uitgesterf. Die meeste Hugenote het tussen ander pioniers as landbouers in die omgewing van die Bergrivier grond ontvang. 

Hugenote-stamvaders
Bekende Afrikaanse families soos Le Roux, Malan, Theron, Marais, De Villiers, Retief en Joubert stam van dié groepe af. Die Hugenote het die Calvinistiese inslag, vryheidsgevoel, kunssinnigheid en werkywer by die Kaapse burgers ingeskerp en die wit bevolking, met wie hulle vermeng het, op 'n deurslaggewende oomblik in die geskiedenis versterk. 

n Junie 1700 is die verdere vestiging van Hugenote aan die Kaap verbied uit vrees vir simpatie met Frankryk in Europese oorloë. Die Hugenote het ná 1700 die stryd teen die verdrukking van die burgers aan die Kaap help lei.