Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

09 August 2012

Sterilisasie van armblankes in Suid-Afrika


Die vraag of armblankes in die middel van die vorige eeu gesteriliseer is om goeie gene onder Suid-Afrikaners te verseker, is ‘n ruk gelede op SA Genealogie bespreek. Hieronder volg ‘n geredigeerde weergawe van die elektroniese gesprek. 



Johan Barkhuizen 
Illustrasie: Wikipedia
Het die Eugenetiese beweging van die vroeë 1900's enige effek op familienavorsing in SA gehad? My graad 11 geskiedenisklas bestudeer tans die pseudo-wetenskaplike idees van Sosiale Darwinisme en Eugenetika.

Almal is bekend met Hitler se idees van suiwer ras en ongewenstes. Sy T4-genadedoodprogram en konsentrasiekampe vir andersdenkendes soos Jode is skokkend. In die VSA egter, is gevallestudies van "agterlike" families (met omvattende stambome) gedoen met die doel om mense te identifiseer wat gesteriliseer moet word. Hierdie families het skuilname gekry soos die Jukes, Doolittles, Sam 60 (60 verwys na die stamvader se IK) en die Kallikaks. Laasgenoemde kry die bynaam uit Grieks ("kakos" wat glo "sleg" beteken) - maar in Afrikaans is dit nog snaaks ook. Mens kan agtergrondinligting sien by http://en.wikipedia.org/wiki/Eugenics en http://psychclassics.yorku.ca/Goddard/index.htm. In die VSA is skynbaar duisende mense, wat as swakkelinge, en 'n bedreiging vir goeie gene is, gesteriliseer.

Andrew Carnegie (Foto: Wikipedia)
Dit het my laat wonder oor Suid-Afrika. Het ons ook soos baie lande op hierdie wa gespring? Ek weet dat die Carnegie kommissie in die dertigerjare gevallestudies oor die armblankes en sogenaamde agterlike families soos die boswerkers, Transvaalse bosveldtipe, die delwerstipe, ens. gedoen het. Ek glo daar was eerder deernis met hierdie mense, en om hulp te verleen, eerder as om hulle uit die genepoel te haal ter verbetering van die Afrikanervolk. Dis algemene kennis dat die suiwerheid van die Afrikanervolk eerder gefokus het op die uitskakel van vermenging met ander rasse. En soms om te bewys dat daar geen slawevoorouer was nie.

Dra iemand enige kennis van navolgers van Eugenetika met studies oor "agterlike" families en sterilisering in Suid-Afrika? En ek wonder ook of die Carnegie-kommissie se oorspronklike aantekeninge (van omgeveer 700 gesinne) wat die werklike familiename het iewers beskikbaar is? 

Christian van Schalkwyk 
Uitgebreide intelligensietoetsing in 1932 ('n Studie oor die intelligensie van die armblanke soos vervat in 'n Mediese Verslag: Die Fysieke toestand van die armblanke deur WA Murray, Stellenbosch) het bevind dat die grootste gedeelte van die armblanke-bevolking wat verstand betref, binne die perke van normaliteit val. Gemiddeld staan die armblanke weliswaar laer as die blanke bevolking as 'n geheel en die persentasie wat as subnormaal moet beskou word, is ongeveer twee keer so groot as in die blanke bevolking as 'n geheel. Maar ongeveer een derde besit meer as gemiddelde verstandelike begaafdheid, en 'n deel is selfs buitengewoon begaafd.

Buitendien ly die ontwikkeling van die intelligensie van die armblanke kinders duidelik onder ongunstige omstandighede, sodat hulle potensiële intelligensie hoër is as wat hulle prestasies op verstandstoetse op die oog aantoon. Die opname wys baie duidelik in die rigting dat die grootste gedeelte van die armblankes 'n mensemateriaal uitmaak wat by behoorlike staatsbeleid en verbetering van lewensomstandighede vir die Unie nie 'n las hoef te wees nie maar 'n bate kan uitmaak.

Later het ‘n uitgebreide ondersoek met behulp van psigometriese toetse hierdie bevindings grotendeels bevestig. Oor die algemeen wys die resultate dat die oordeelkundige toepassing van verbeterde onderwys 'n positiewe uitwerking sal hê.

Meer as die helfte van ons skoolkinders stam uit arm huisgesinne waar die kind se ontwikkeling nie alleen veelal deur ongunstige omstandighede gestrem word nie, maar waar daar by 'n deel ook kanse bestaan dat die kind se herediteit ook swakker mag wees.

Indien hierdie proses nie gestuit word nie, wys dit op 'n moontlike toestand in die toekoms waar die getalsterkte van die onderste seksie so groot sal wees dat die las op die meer gegoede deel van die bevolking (wat die swakste deel direk indirek moet onderhou) te swaar mag word om te dra. 

Elana Kitching 
Ons (SA) het wel vroeër in Suid Afrika kinders gesteriliseer wat aan sekere afwykings gely het, bv. Downsindroom, maar die praktyk het in onbruik geraak omdat dit die kinders se menswaardigheid skend.

Ek onthou een jaar toe my pa in die hospitaal was (dit moes seker so in die omgewing van 1985 gewees het) was daar verskeie seuns in die manssaal wat die operasie ondergaan het. Almal was daardie tyd verbonde aan 'n skool/inrigting vir geestelik gestremde en persone met Downsindroom.

Ek het my psigiatriese opleiding in 1986 gedoen en tot 1991 in 'n psiatriese hospitaal gewerk. In daardie tyd was dit die gebruik om ‘n histerektomie op geestesvertraagde meisies in staatshopitale uit te voer sodra hulle puberteit bereik het – met die toestemming van die ouers, indien hulle beskikbaar was.

Dit is dus duidelik dat die praktyk ook in SA toegepas is. Die probleem ontstaan by die persoon wat daaroor moet besluit. In die VSA wys dit duidelik dat begrippe soos "agterlik" en “feeble-minded" te wyd was en tot misbruik gelei het.