Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

27 August 2012

Drie stories oor die ou-ou dae

Barry Vosloo 

Adriana Jacomina Esterhuysen (foto links) is op 3 Februarie 1878 in die Utrecht-distrik op die plaas Baltusspruit gebore. Sy was 'n nooi Ferreira, die aanvallige dogter van Petrus Gerhardus en Susanna Elizabeth Ferreira. Adriana was waarskynlik ‘n nasaat (sesde geslag) van Ignácio - later Ignatius - Ferreira (1695 – 1772) wat die stamvader van die meeste Ferreiras in Suid-Afrika was.

Soos die meeste kinders, het haar kleinkinders hulle verluister aan hulle ouma se vertellings oor die “ou” dae. 


Die eerste een het gehandel oor haar en haar ouers se gereelde besoeke “vir tee” aan die president van die Nieuwe Republiek op Vryheid. Sy was toentertyd sowat ses of sewe jaar oud. Die president was genl. Lucas Meyer en die presidensie was ‘n groot huis met ‘n rooi teëldak op die hoek van Mark- en Landdroststraat. Dié huis (foto links) het onlangs nog as die Lucas Meyer-museum bestaan. 

Die Nieuwe Republiek, met Vryheid as hoofstad en genl. Lucas Meyer (foto links) as president, het ‘n kortstondige bestaan gehad. Dit is op 5 Augustus 1884 gestig op grond wat die boere van die Zoeloekoning, Dinizulu, ontvang het as vergoeding omdat hulle hom gehelp het om sy mededinger om die koningskap, Usibepu, te verslaan. Die Nieuwe Republiek is in 1887 deur die Zuid-Afrikaanse Republiek geannekseer. Aan die einde van die Tweede Anglo-Boere-oorlog is die dorp en omgewing in 1903 by Natal ingelyf. 

Die tweede relaas wat haar kleinkinders geboei het, het voortgespruit uit vertellings van haar wedervarings gedurende die Anglo-Boere-oorlog wat sy hoofsaaklik in Engelse konsentrasiekampe (foto links) deurgebring het onder andere op Volksrust en later in Congella. 

Ten spyte van vele ontberinge, was die lewe in die konsentrasiekampe volgens haar soms nogal heel prettig. Sy het byvoorbeeld graag vertel hoe sy en haar niggie die jong Britse offisiere ge-charm het. Adriana was 'n gesellige mens met 'n pragtige humorsin en 'n strepie onnutsige ydelheid. ‘n Mens kon jou voorstel dat sy die jong mans om haar pinkie gedraai het. Hulle (die Britse offisiere) het haar en haar niggie dikwels dorp toe begelei om luukshede soos seep, suiker en koffie te gaan koop. 

Dié prettigheid het egter 'n ongelukkige nadraai gehad. Adriana se niggie het in daardie tyd swanger geword. Wat van haar en die kindjie geword het, weet niemand in die familie nie. 

Een van Adriana se seuns, Willem Esterhuysen, was die bron van die derde storie, dié keer oor haar pa (Petrus Gerhardus Ferreira) wat deur sy skoonseun, Andries Vermaak, uit Baltusspruit verneuk is. Andries was met Adriana se suster, Annie, getroud. Volgens familie-oorlewering was hy ‘n onderduimse vent. 

Ná die oorlog moes Petrus Gerhardus uiteraard weer begin boer. Hiervoor het hy saad en implemente nodig gehad, maar die geldjies was maar min. Hy kon ook nie Engels praat of lees nie. Andries Vermaak, wat wél Engels magtig was, het hom gehelp om 'n koopkontrak in Engels vir saad en implemente met 'n handelaar op Vryheid aan te gaan. Andries het borg gestaan. Dié kontrak het glo, sonder Petrus Gerhardus se medewete, bepaal dat Andries Baltusspruit sou ontvang indien hy sy skoonvader se skuld om een of ander rede moes aflos. Weens een of meer misoeste kón Petrus Gerhardus nie betaal toe die handelaar sy geld opeis nie. Andries het die skuld gedelg en so die plaas so teen 'n belaglike prys bekom.