Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

28 August 2012

Só het ek uitgevind my pa en ma is neef en niggie

JAPIE BOSCH skryf: Met die genealogiese rekenaarprogram, Legacy, het ek 'n klompie jare terug 'n ontdekking gemaak wat andersins waarskynlik nooit vir ons familie bekend sou gewees het nie: my twee ouers (albei oorlede) was neef en niggie. Nouwel vyfde geslag neef en niggie, maar Jacob Rudolph Jacobus Bosch en Louisa Petronella Jacoba Labuschagne het 'n verwantskap gehad.

Soms wonder ek hoe hulle sou gereageer het as hulle dit geweet het. As ek moet raai, sou my ma dit met 'n glimlag aanvaar het, maar my pa sou gesê het:  "Dis moontlik, maar bring die bewyse".

Hierdie omstandigheid is niks vreemd en aardskuddend nie.  Dis net dat talle mense nooit van sulke verwantskappe uitvind nie en dat dit, vir my altans, interessant is.

Ma Louise Labuschagne
Pa Rudolph Bosch
Dit is waarskynlik toe te skryf aan die relatief klein bevolkingstal, veral gedurende die eerste paar geslagte van ‘n jong volk, soos die Afrikaners. Die meeste stamvaders van die Afrikaners het oor ‘n tydperk van sowat twee eeue uit Europa na Suid-Afrika gekom. Trouery tussen dié "beperkte" aantal families, veral in die streke waar hulle gekonsentreerd gevestig was, het meegebring dat mense in latere geslagte maklik verwant kan wees.

Dit was ook die geval met pa Rudolph Bosch en ma Louise Labuschagne. Hulle albei het ene Jean Labuschagne (1706 – 1753) as ‘n gemeenskaplike voorvader gehad. Hulle het dit nooit geweet nie. Eers nadat die familieregisters van albei saamgestel en op my rekenaar ingevoer is (enkele jare ná hul afsterwe) is dit met behulp van rekenaar-tegnologie vasgestel.

Jean Labuschagne en Gesina Steenkamp het twee seuns, Casper en Francois, gehad. Albei is die middel 1700's gebore.
  • My pa het was 'n afstammeling van Casper Labuschagne. Casper se kleindogter is met 'n Van Deventer getroud en dié se dogter met 'n Bosch. Dis waar die Bosch/Labuschagne-vebintenis is.
  • My ma het van Francois Labuschagne afgestam.
Rudolph en Louise was nie net mekaar se eggenote nie, maar in genealogiese taal ook vyfde neef en niggie, een keer verwyder. Dit beteken dat Louise vyf geslagte ná bogenoemde twee broers gebore is, en Rudolph nog een geslag later. Ek verkies die begrip vyfde geslag neef en niggie, een geslag verwyder.

Hierdie uitdrukking beteken, streng gesproke, dat daar nie iets soos 'n kleinneef of -niggie is nie. Ek het dikwels al gehoor mense praat van, byvoorbeeld, agter-agter-agterkleinneef.  In my pa en ma se geval sou daar vier agters gewees het.  Dis omslagtig en 'n mens kan later nie bybly met al die agters nie. Tweede, derde of vierde geslag neef is meer sinvol en makliker om te sê. 

Vir my was dit 'n verrassing die dag toe ek Legacy se "relationship calculator" toets en my pa en ma se name gekies het om te sien hoe dit werk.

Daar het dit gestaan:  Louise is die vrou van Rudolph, maar bo dit ook:  fifth cousin once removed.  Ek was nie net verbaas oor die uitslag nie, maar ook oor die vermoë van Legacy. Bygesê 'n uitslag soos dié is slegs moontlik as 'n mens se data reg ingevoer is.



Bo wys hoe Legacy die uitslag weergee en onder wys hoe die drukstuk lyk van Rudolph en Louise se verwantskap wat ook met Legacy gedoen is, uitgesonderd die rooi.

Voortspruitend uit die verbintenis is my ma my oupa (pa se kant) se skoondogter (vanselfsprekend), maar is hulle ook vyfde neef en niggie. Die illustrasie hieronder toon dit mooi.

Ek kan nie nalaat nie om te vertel dat ek al in verskeie gesprekke hieroor was met mense wat nie die genealogie beoefen of rekenaars en die interrnet mooi verstaan nie en my dan gevra het:  tik 'n bietjie my pa en ma se name in!  Nou ja ... dan lag ek maar soos my ma sou gelag het. Dit neem nie 'n bietjie tyd om tot hier uit te kom nie.

  • Laastens, tong in die kies: as my naam onder my ma s'n hierbo was, is ek en my pa sesde geslag neefs. Kies jy sy naam en myne op Legacy se "relationship calculator" dan sê hy jou wrintiewaar dit is so.