Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

10 August 2012

‘n Voormalige Rhodesiër se bande met Ugie

Barry Vosloo

Myra Bosch


Myra Bosch, ‘n voormalige Rhodesiër en tans ‘n lid van die Jeffreysbaaise Genealogiese Geselsgroep, vertel dat haar ouma se broer, ds. MTR Smit, vanaf 1917 tot 1960 die NG predikant op Ugie was. 




Ugie se storie




 
In sy boek, Die romantiese verhaal van die dorpie Ugie (1963. Kaapstad: Maskew Miller), beskryf ds. Smit hierdie veelbewoë tydperk van sy bediening. Hy het hom daaraan toegewy om aan hulpbehoewende kinders van die dorp en omgewing huisvesting en versorging te bied. 







Ugie (SA) se omgewing
Maar voordat ek dáárby kom, eers iets in verband met die ontstaansgeskiedenis van hierdie skilderagtige dorpie wat in die voetheuwels van die Oos-Kaapse Drakensberg geleë is. 

Eerwaarde William Murray was die stigter van Ugie. Hy is op 15 Julie 1837 gebore en het in die omgewing van die Ugierivier in Aberdeenshire, Skotland, grootgeword. 

Ugie, Aberdeenshire, Skotland
In 1862 het die London Missionary Society Murray na die Kaapkolonie gestuur om sendingwerk onder die Griekwas te doen. Sy eggenote en kindjie is oorlede kort nadat hulle in Port Elizabeth voet aan wal gesit het. Dit spreek vanself dat dit ‘n swaar slag vir hom was. Hy het nietemin met sy roeping volhard en aan die einde van 1863 by ‘n pragtige plek aan die voetheuwels van die Oos-Kaapse Drakensberg aangekom. 

Die omgewing het hom herinner aan sy geboorteplek en hy het besluit om dit Ugie te noem. Ugie word as oogie uitgespreek. Dit is afkomstig van die Vikingwoord “oorie” of “ougie” wat “om te bewe van die koue” beteken. 

Klik hier om die volledige teks deur Frans Nel te lees. 

Ds. en mev. MTR Smit
Tussen 1916 en 1921 was ds. Smit verantwoordelik vir die stigting van “Armkoshuise”. Dié koshuise het leerlinge vanaf klein en onproduktiewe plaaskooltjies in die omgewing op die dorp gehuisves. Gevolglik het die skool op Ugie gegroei, leerkragte na die dorp gelok en die gehalte van onderwys verbeter. 

Die griep-epidemie van 1918 het talle kinders wees gelaat. Aangesien bestaande weeshuise in die Oos-Kaap spoedig vol geword het, is ‘n groot aantal weeskinders tydelik opgeneem in die oorvol Armkoshuise op Ugie.  

Clarendon-gastehuis
‘n Gastehuis wat tans as Clarendon Guest House bekend staan, was tot 1962 ‘n weeshuis vir dogters. Dié weeshuis is in 1918 deur ds. Smit gestig toe hy 12 weeskinders onder sy vlerk geneem het. Uiteindelik het 120 meisies daar ‘n heenkome gevind. Dit is in 1962 gesluit. Klik hier om meer daarvan te wete te kom.



Ds. Solly Ozrovech
Ds. Smit moes uiteindelik die tuig as predikant neerlê omdat hy gesondheidsprobleme ontwikkel het. Die versorging van minderbevoorregte kinders het uiteindelik sy tol geëis. Ná sy uittrede het sy mantel op die alombekende ds. Salmon (Solly) Ozrovech geval. 

 Die Armkoshuise het mettertyd onprakties geword. Ozrovech het hom derhalwe beywer vir die oprigting van ‘n meer doelmatige kinderdorpie op Ugie. 


Kinderoord MTR Smit
In 1962 is dié dorpie amptelik geopen as die Kinderoord MTR Smit. Dit is in 1987 met behoud van die naam na Port Elizabeth oorgeplaas waar dit steeds diens aan die gemeenskap lewer. Klik hier om meer van die huidige inrigting tewete te kom.

Myra het sowat vyf jaar gelede, gedurende haar soektog na gegewens oor haar oupa-grootjie, Cornelis Johannes van Rooyen Smit, haar na Ugie gewend. Groot was haar blydskap toe sy sy graf reg in die middel van die Ugie-begraafplaas opspoor. Hier kon sy toe sy geboorte- en sterftedatums, wat sy nêrens anders kon opspoor nie, aanteken. 

Tydens haar verblyf op Ugie het sy selfs in die kamer geslaap wat haar oupa-grootjie gebruik het. Die plek waar hy die groentetuine aangelê het om die weeskinders gedurende die groot griep en die depressiejare te voed, was vyf jaar gelede ook nog te sien. Selfs die bakkery staan nog, hoewel dit nie meer gebruik word nie.