Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

28 November 2012

Genealogiese vraagstukke

Barend J Venter, genealogiese navorser van die Venter-familie van Suid-Afrika

Die afgelope tyd word daar heelwat stellings gemaak oor sulke sake soos:
  • Watter genealogiese program die sogenaamde beste program is.
  • Jy word aangemoedig om Gedcom-leers van jou data beskikbaar te stel sodat dit i'n poel gegooi kan word en deur ander programme gemanipuleer kan word sodat die protokol van datavaslegging wat jy oor jare gebruik het deur 'n rekenaarprogram verander kan word sodat jou plekname, persoonsname en vanne en die taal waarin jy dit vasgelê het verander word.
  • Die protokol wat gevolg moet word met die invoer van data in jou genealogiese program sodat dit aan iemand anders as jyself se vereistes voldoen.
Daar is nog 'n paar ander sake wat ook hiermee in verband staan wat geopper is.

Ek is bevrees dat meeste van die dinge wat gesê is, maar bloot persoonlike menings is en nie op 'n objektiewe wyse getoets is nie.

Die beste program?
Laat ek sommer dadelik sê dat daar myns insiens nie so-iets bestaan as een beste program nie. Dit is wensdenkery. Daar bestaan talle programme wat goed is en almal het die basiese funksies wat grotendeels dieselfde is. Wat die bykomstige funksie betref wissel die programme almal en elkeen bied iets wat nie deur die ander gebied word nie.

As iemand vir jare lank dieselfde program gebruik en nie ook deurlopend die ander goeie programme evalueer en beproef nie, sal 'n stelling soos dat sy of haar program X dan die beste sou wees, bloot gebaseer wees op die gemak waarmee hulle die program uit gewoonte gebruik.

Ek het self deurlopend op enige gegewe tyd, die nuutste weergawe wat tans beskikbaar is van die volgende programme op my rekenaar en my data word op verskillende wyses van die een na die ander oorgedra. Verder behoort ek ook aan die gesprekslyste op die internet vir al hierdie programme en daaruit kan ek 'n goeie idee vorm van watter programme vir sy gebruikers die meeste probleme verskaf. Ek is, of was, 'n beta-toetser van 'n aantal van hierdie programme en glo dat ek meer as net 'n gewone werkbare kennis van almal het. Vir Legacy was ek ook een van die spanlede wat dit aanvanklik in Afrikaans vertaal het.

My persoonlike lys van voorkeur van die verskillende programme is soos volg:
  • Rootsmagic v 5 (en v 6 wat sopas vrygestel is). Hierdie program het ook 'n gratis weergawe beskikbaar wat meeste van die funksies van die geregistreerde weergawe bevat. Daar is 'n poslys sowel as 'n forum op die internet en meeste mense is baie in hulle skik met die hulp wat hulle van lede kry. Daar is gratis webinars wat enige iemand kan aflaai en op sy of haar tyd rustig op die rekenaar kan deurwerk. Die mense wat gewoond was aan die ou Family Origins sal hierdie program herken omdat dit die opvolger is van die laaste Family Origins v 10 wat so gewild was in Suid-Afrika. Dit is ʼn program wat baie maklik is om aan te leer en vir uitstekende na-verkope sorg en diens is beskikbaar. Hierdie program is die enigste een waarvan ek bewus is wat jou toelaat om jou program sowel as data op ʼn geheuestakkie te laai waarna mens dit op enige ander rekenaar kan loop en data bywerk. Verder het die nuwe weergawe 6 ook ʼn funksie wat jou toelaat om op enige plek in jou databasis (bronne, notas, bron-aanhalings, voorname, multimedia, ens) na ʼn frase te soek en dit vandaar af te redigeer. Die nuwe "Timeline"-opsie is uniek aan hierdie program en ʼn baie kragtige een waaroor ek baie opgewonde is. Die leerkurwe van hierdie program is maklik.
  • PAF v 5.2.18.0. Hierdie is ʼn gratis program wat reeds vir jare lank beproef is en baie min indien enige probleme bied. Dit is ʼn program sonder baie tierlantyntjies en is maklik om aan te leer en onder die knie te kry. Dit bied al die basiese funksies wat nodig is.
  • Lecacy v. 7.5.0.208. Hierdie program het ook ʼn gratis weergawe beskikbaar wat meeste van die funksies van die geregistreerde weergawe bevat. Daar is ʼn baie aktiewe poslys beskikbaar waar mense geredelik hulp van lede kry. Die webinars vir hierdie program is NIE gratis nie en kan teen ʼn fooi afgelaai word. Daar is ʼn weergawe van die program beskikbaar wat ʼn Afrikaanse gebruikerskoppelvlak het. Hierdie program het nog heelwat probleme en is nie altyd baie stabiel nie. Dit het ʼn moeilike leerkurwe. Met elke bywerking van die program is daar nog altyd nuwe probleme ten spyte van vorige probleme wat deur die programmeerders reggestel is. Daar is selfs lede van die Legacy-gesprekslys wat nooit ʼn nuwe weergawe installeer voordat dit nie eers ʼn paar weke lank in omloop was nie. Sekere lede het ook al teruggekeer na vorige weergawes van die program omdat die nuwe weergawe "buggy" is. Hierdie is die allerlaaste program wat ek aan nuwe gebruikers van genealogiese programme sou aanbeveel.
  • Brothers Keeper v 6.6.2. Hierdie program is as "Shareware" beskikbaar en besit al die funksionaliteit van die geregistreerde weergawe. Dit is ook in Afrikaans beskikbaar. Die verslae wat geskep kan word in Afrikaans is na alle waarskynlikheid die beste en naaste aan die De Villiers, Pama en Lombard wat in Suid-Afrika in SAG en SAF gebruik word. Hierdie program het min tierlantyntjies en is relatief maklik om te gebruik. Met ʼn paar truuks en kunstoertjies kan mens jou data suksesvol deur ʼn gedcom-lêer daarheen oorplaas. Ek sou dit egter nie as ʼn voorkeur data-invoerprogram aanbeveel nie.
  • Family Origins v 10. Hierdie program is ongelukkig nie meer beskikbaar nie maar vir diegene wat dit nog gebruik is en bly dit maar ʼn ou strydros.           
Gedcom-lêers
Gedcom-lêers word totaal en al oorskat as ʼn veilige manier om data uit te ruil. Veral vir oningeligtes is dit ʼn sine qua non vir genealogiese naamversameling. My persoonlike mening is dat dit soos ʼn Trojaanse perd is. Met ander woorde, iets wat voorgee om te wees wat dit nie is nie. Daar bestaan geen program wat ʼn ander program se gedcom-lêer foutloos sal inlees nie. Tewens die Legacy-program kan nie eers altyd sy eie gedcom-lêer inlees nie. Hieroor was daar al baie besprekings op die Legacy-poslys. Dit word allerweë in die internasionale gemeenskap van genealogiese navorsers aanvaar dat dit uiters gevaarlik is, om verskeie redes, om net eenvoudig iemand anders se data deur ʼn gedcom in jou eie databasis in te trek.

Iemand het onlangs op hierdie forum geskryf: "My persoonlike mening is egter dat dit NIE 'n goeie idee is om jou data in verskillende lêers te skei nie. So onstaan verskille in die lêers waar dieselfde persone betrokke is want jy vergeet om wat jy in die een verander of bygevoeg het ook in die ander te doen."

Ek wil graag by hom aansluit en beaam wat hy sê alhoewel daar is een groot caveat is wat hy nie aanspreek nie. Die ander sy van die munt is dat dit is eweneens gevaarlik is om op ʼn lukraak wyse gedcom-lêers in jou databasis in te trek en daarmee te versmelt. Dit lei tot dieselfde probleem wat hy noem en nog vele ander waaronder
  • die protokol wat gebruik is om die data in te voer voer mag verskil van jou eie protokol van data invoer;
  • die wyse waarop plekname ingevoer is mag verskil van jou eie protokol van data-invoer;
  • die wyse waarop bronne ingevoer is mag verskil van jou eie protokol van data invoer;
  • die wyse waarop name en vanne ingevoer is mag van jou eie protokol van data-invoer verskil; (sommige mense voer ʼn generiese spelwyse van vanne in, ander "normaliseer" spelling van voorname sodat Laseia, Lesija en Lasya sommer Lucia word; of sulke spelwyses van vanne soos Saaiman, Saaijman of Zaaiman word sulke gedrogte soos (S)(Z)aa(I-Ij-y)man(n));
  • notavelde mag in ʼn ander formaat as jou eie formaat en notasie wees. 
Die gevaar bestaan altyd dat waar jy ʼn gedcom-lêer in jou databasis intrek daar sekere inligting in is wat foutief of twyfelagtig is. Daar mag ook duplikate wees met kontrasterende inligting of duplikate mag ontstaan wat uiteindelik data-uitvoer in die vorm van verslae mag beduiwel. Ek weet dat daar nou onmiddellik mense gaan wees wat sê dat hulle die betrokke program wat hulle gebruik se "merge"-fasiliteit gebruik om sulke duplikate saam te smelt. Onthou net, rekenaars is dom en rekenaars kan nie dink nie. Die algoritme wat samesmelting beheer kan nie genealogies dink nie.

Protokol
Ek vind dit vreemd dat waar meer as 50% van die genealogiese gemeenskap in Suid-Afrika Afrikaanssprekend is, ʼn mens aangeraai word om jou data in Engels in te voer. Die feit dat die gebruikerskoppelvlak van ʼn program Engels is, hoef niemand daarvan te weerhou om invoere in Afrikaans te doen nie.

Bykans alle programme is VSA-sentries of VK-sentries of Euro-sentries wat die invoer van plekname betref. Ek kan werklik nie die logika daarvan insien om plekname op ʼn nie-Suid-Afrikaanse wyse in te voer net omdat die programme by verstek dit so doen nie. Moet ons nou gevestigde gebruike in Suid-Afrikaanse genealogie eenvoudig verander omdat die tegnologie dit vereis? Meeste programme het ʼn verstelling waarmee jy plekname kan invoer soos wat jou eie data-invoerprotokol vereis. Ek stem saam met Dennis Pretorius en Simon du Plooy wat reeds hierdie saak in die lig geplaas het.

Ek sal almal aanmoedig om weer ernstig te besin oor hierdie sake waar ek slegs my persoonlik opinie gee gegrond op deurlopende gebruik van al die programme en meer as 20 jaar se ervaring in rekenaarmatige genealogie.