Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

19 November 2012

Lobola vir ouma Baby

Japie Bosch

Ouma Baby Vermaak
Ouma Baby Vermaak (my pa se ma) was ‘n duur meisie in haar jong dae.  Haar pa, Manny Vermaak, het geweet van geld en geldmaak.  Gevolglik het hy toegesien dat sy dogter nie haar huwelik sonder ‘n ietsie van haar eie betree nie.

Van kleintyd af was Hester Maria Vermaak (1891 – 1970) gewoond aan die goeie dinge in die lewe.  Sy en haar vyf susters en een broer is deur ‘n goewernante op hul plaas in die Molteno-distrik onderrig.  “In English only.” Dít en byvoorbeeld die silwer eetgerei en opskepborde wat met elke ete op die tafel was, vertel die verhaal van haar ouerhuis se lewenstyl.  Welaf mense.

Oupa Jaap Bosch
 Grootoupa Manny het geweet van lobola.  Die dag toe oupa Jacob Rudolph Jacobus (Jaap) Bosch (1882 – 1950) die ja-woord kry, moes hy uithaal en wys.  Dit was nie nou nie lobola in die volle sin van die woord nie, maar amper.

Baby was ‘n jaar duskant 21 toe sy en Jaap in 1911 getroud is.  Haar pa het haar toe bygestaan met  die opstel van ‘n huwelikskontrak deur prokureur John Lomax van Molteno in “die Kolonie van die Kaap van Goeie Hoop”.  Daartydens is seker gemaak dat Baby nie haar bates ooit aan haar man sal afstaan nie. 

Uittreksel uit die huwelikskontrak
Die kontrak het onder meer die volgende bepaal:
  1. Hulle trou buite gemeenskap van goed en geen winste of verliese sal gedeel word nie;
  2. Die een is nie verantwoordelik vir ander se skuld nie;
  3. Elkeen se erflatings en geskenke sal altyd sy of haar uitsluitlike eiendom bly;
  4. Elkeen kan met sy of haar bates omgaan na eie wil, sonder die belemmering van die ander een en
  5. Jaap moet uit die liefde wat hy vir Baby het 600 merino-skape en 10 koeie aan haar skenk. 

Grootoupa Manny Vermaak



Só het grootoupa Manny toegesien dat oupa Jaap voor die huwelik van sy bates aan sy toekomstige vrou afstaan en nooit sy hande op haar eiendom sal kan lê nie, veral nie haar erflating nie.