Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

02 March 2013

Notule van die vergadering gehou op Woensdag, 27 Februarie 2013

  1. Die aanwesiges word deur die voorsitter verwelkom.  Hy rig 'n spesiale woord van verwelkoming aan dr. Sias Odendaal (geleentheidspreker) en sy eggenote, Annatjie; Cecilia Simonis van Seattle en haar broer Gustav Barnard, ‘n inwoner van Jeffreysbaai; Barry Vosloo se eggenote, Rita.
  2. Lede aanwesig  -  17; lede afwesig met verskoning   -  6; lede afwesig sonder verskoning -  4.
  3. Nadat Barry Vosloo hom aan die groep bekend gestel het, het dr. Odendaal ‘n interessante praatjie oor die Odendaal-familie gelewer. Lees daaroor in Jaarringe.  Barry het dr. Odendaal daarna bedank.
  4. Cecilia Simonis se aanbieding het interessante besonderhede oor Seattle en haar gesin bevat. Sy het haar praatjie met foto's toegelig. Carol Beneke het haar bedank.
  5. Weens die verhuising van Barry en Rita Vosloo na Bela-Bela, is die voortbestaan van ons webjoernaal, Jaarringe, wat deur Barry behartig word, bespreek.  Dit blyk dat Barry die “eienaar” daarvan sal bly en dat net hy veranderings aan die struktuur kan aanbring, onder andere die bandjie bo-aan die tuisblad wat besonderhede in verband met die maandelikse vergaderings gee. Daar blyk twee opsies te wees, te wete (a) Jaarringe word deur Barry gesluit, of (b) iemand in die groep word deur hom gemagtig word om berigte te plaas. Die groep is van mening dat Jaaringe moet voortbestaan.  Carol Beneke willig in om die pligte oor te neem.  Haar aanbod word eenparig deur die groep aanvaar. Barry sal die nodige reëlings tref sodat sy haar pligte met ingang van 4 Maart kan begin nakom.
  6. Die meeste grafte en kerke in die Kouga is reeds gefotografeer en op die webwerf geplaas.   Daar is nog etlike begraafplase op plase wat gedurende die komende maand deur die span gefotografeer sal word.   Indien enige lid begraafplase/grafte fotografeer, moet dit asseblief Carol se aandag gebring word om duplisering te voorkom. Sy is ons span se koördineerder.
  7. Die ou kerkregisters uit die 1800s wat in besit van die “United Congregational Church of Southern Africa” op Hankey is en wat nog nie deur die span gefotografeer is nie, sal gedurende die komende maand vir bewaring gefotografeer word.
  8. Op voorstel van Hoffie Williams besluit die groep dat ‘n dag lange bustoer gedurende April onderneem sal word in die omgewing van Loerie, Thornhill en Van Stadens om besienswaardighede te besoek. Naas, Theo en Hoffie aanvaar verantwoordelikheid daarvoor.
  9. Diek van Wyk bedank Barry en Rita Vosloo vir wat hulle vir die groep beteken het - veral omdat Barry Jaarringe geïnisieer en dit op bekwame wyse behartig het.  Hy wens hulle alles van die beste in hul nuwe omgewing toe en verseker hulle dat die groep hulle sal mis.
  10. Diek van Wyk sal die groep op 27 Maart toespreek oor die genealogie van tale en die tale van Suid-Afrika.
  11. Die vergadering verdaag om 18:45.

Naas Olivier.