Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

27 February 2013

Die Odendaals van Beestekraal

Sias Odendaal

[Dr. Sias Odendaal van Jeffreysbaai, 'n afgetrede mynbou-ingenieur, het ons maandvergadering op 27 Februarie 2013 toegespreek. Ons plaas sy aanbieding hieronder. Ds. Odie Odendaal (8ste geslag) en Isak Smit (9de geslag) was verantwoordelik vir die navorsing. - Red.]

Ten tyde van goewerneur Willem Adriaan van der Stel arriveer ons stamvader, Wilhelm Odendaal uit Duitsland, aan die Kaap in 1706 as soldaat met ʼn vyfjaar kontrak. Tydens die burgerverset waarby Adam Tas betrokke was, is die soldate gebruik om die opstand teen van der Stel te onderdruk. Dit het Wilhelm nie aangestaan nie. Met die verstryking van sy kontrak verlaat hy die diens van die HOIK en word ʼn plaasarbeider en later ʼn handlanger in die boubedryf. Met sy spaargeld kon hy uiteindelik die klerebedryf betree, word ʼn kleremaker en raak bevriend met Adam Tas. Hierdie vriendskap loop later uit op ʼn huwelik op 13 September 1711 met Susanna Biebow die half-suster van Hendrik Biebow (Bibault).
 
Susanna Biebow, ons stammoeder is gebore op 23 Februarie 1687 uit ʼn buite-egtelike verhouding tussen Detlef Biebow en ʼn slavin, Diana van Madagaskar, ʼn vermenging van Indonesiese en Afrika bloed. Detlef Biebow wat baie lief was vir sy minnares het Diana op 28 Desember 1693 vir 90 Ryksdaalders van Christiaan Freser gekoop en haar en hul dogter Susanna kort daarna vrygestel.
 
Die Here XVII besluit om Goewerneur W.A. van der Stel terug te roep. Om hul blydskap te kenne te gee het Susanna se half-broer, Hendrik Biebouw saam met ʼn paar dronk vriende op Sondag 6 Maart 1707 op perde deur die strate van Stellenbosch gejaag en slagkrete geskreeu en amok gemaak. Landdros Starrenberg kom hiervan te hore, tree die jongklomp aan en slaan Hendrik en van die ander met ʼn rottang. Hendrik was nie hiermee gediend nie en identifiseer homself toe eerste as Afrikaner met die uitroep – “Ik ben een Afrikaner,” bedoelende in Afrika gebore. Gevolglik word Hendrik, die enigste Biebouw seun in 1707 na Batavia verban en so verdwyn die van Biebouw in Suid-Afrika.
 
Wilhelm Odendaal en Susanna Biebouw verwek vier kinders. Susanna sterf vroeg in 1717. Wilhelm verkry burgerskap en op 24 April 1717 bekom hy sy eie plaas Zandburgh (Sandenberg tans deel van die plaaslike gebied Raithby, afdeling Stellenbosch) kragtens transportakte 1168 in die distrik van Stellenbosch. So word Stellenbosch dan die bakermat van alle Suid-Afrikaanse Odendaals. Wilhelm sterf gedurende 1732. Die stamname Susanna en Wilhelm (Willem/Wilhelmus) kom nog tot in die negende geslag gereeld voor.
 
Tot die derde geslag Odendaals boer in Stellenbosch omgewing en wyk later uit na die Overberg en die Oos-Kaap waar hulle ʼn groot rol gespeel het in die vestiging van die merino skaap. Nie net neem hulle deel aan die Oosgrens-kafferoorloë nie maar verlaat die Kolonie saam met verskeie trekke en is betrokke by die stigting van Rouxville en Odendaalsrus. Jacobus Paulus Odendaal (4 de geslag) vestig homself in 1848 as veeboer in die Vrystaat. Sy een seun, Michiel Wilhelmus Odendaal (5 de geslag) gebore op 2 Julie 1820 te Swellendam distrik, stigterslid van Rouxville 1863 koop later verskeie plase in Rouxville, dien as veldkornet, en word in 1869 tot 1873 Volksraadslid vir Onder-Caledon en in 1873 vir Rouxville. Hy sterf op 10 April 1877 te Beestekraal, distrik Rouxville.

 
 
Michiel Wilhelmus Odendaal (5de geslag) en Amerentia Rudolphina Petronella

Roelof Frederik Odendaal (of genoem Fritz van die 6de geslag en oupa van Sias Odendaal) is gebore op 11 Junie 1868 op die plaas Nieuwenhuisfontein, Rouxville, groei op op die plaas Beestekraal en begin boer met skape en teel uitsonderlike perde op die plaas Kirkentilloch by Thaba Nchu en die sogenaamde Waterwerke. Die huis waarin die gesin op Kirkentilloch gewoon het en die buitegeboue bestaan vandag nog hoewel gerestoureer en vergroot. As gevolg van ʼn besondere gebeurtenis is hierdie opstal nooit deur die kakies afgebrand nie.
 
 
 
Die oorspronklike buitegeboue met die “kostrappe” op Kirkentilloch.Foto geneem in 1988
 
Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog neem Fritz (6de geslag) die wapen op maar weens sy uiterste swak sig word hy as ʼn veiligheidsrisiko gesien en word terug gestuur plaas toe om kos vir die boeremagte te produseer. Die slag van Sannaspos om die waterwerke wat water aan Bloemfontein voorsien het vind op 31 Maart 1900 naby Kirkentilloch plaas. Na die slag van Sannaspos is sowel die Boere en Britse swaar gewondes na die huis van oupa en ouma geneem, waar ouma Susanna en die oudste dogter, tant Miemie hulle versorg het. Die twee groepe het in verskillende kamers gelê. Een Brit was baie swaar gewond en het deurentyd gekerm van die pyn. In die nag het Miemie deur die venster geklim, water gaan haal en vir die Brit gegee. Hiermee verdien sy dan ʼn goeie loesing omdat sy in die nag by die vyand in die kamer was. Een van die gewonde Boere kon die gekerm nie meer verdra nie en het in die nag na die kamer van die Brit gekruip met die doel om hom keel af te sny. Oupa Fritz het hom betrap en was woedend omdat hy “nie moord onder sy dak sou toelaat nie,” en het die Boer met teregstelling gedreig. Toe beide groepe voldoende aangesterk het is hulle terug na hul eie laers. Oupa is gevange geneem en na die kamp in Groenpunt en later die gevangenis te Bloemfontein geneem. Hier moes hy help met die oprigting van die witperd teen Naval Hill.

 
 
Roelf Frederik Odendaal (6de geslag) en Susanna Catharina (gebore Steyl) en 6 van hul 11 kinders

Kort hierna het die Engelse ʼn kamp op Kirkentilloch opgerig om die waterwerke te beskerm. Of van die gewonde Britse soldate wat deur Ouma en haar dogter verpleeg is, daar gestasioneer was weet ons nie. Wat wel waar is, is dat ʼn Engelse soldaat elke nag ʼn bakkie met kos op die trap van die buitegebou vir Ouma en haar vier kinders neergesit het. Vroeg oggend is die bakkie met kos ingebring en saans weer uitgesit. Vir meer as ʼn jaar het dit so aangehou totdat Ouma en haar vier kinders na die konsentrasiekamp te Bloemfontein gestuur is. Die swaar gewonde Britse soldaat wat deur Ouma verpleeg is en deur Oupa gered is was toe ʼn wag by die kamp toe Ouma en haar kinders daar aankom. Hy was baie vriendelik teenoor hulle en het later gereël dat die Odendaals uit die kamp ontslaan is en privaat in Bloemfontein kon bly. Ouma en Miemie het voortgegaan om siekes in die kamp te versorg.
 
Baie jare later, gedurende die 1940’s sit Oupa Fritz en Ouma Emmie een dag in ʼn kafee op Swakopmund en tee drink. By ʼn ander tafel het ʼn paar Engelssprekendes gesit. Na ʼn ruk het een van hulle opgestaan en na Oupa gestap en gevra: “Is jy meneer Roelof Odendaal?”

Toe Oupa dit bevestig sê die vreemdeling: “Ek is die Britse soldaat wat so swaar gewond in jou huis gelê het. Vandag kry ek die geleentheid om jou te bedank dat jy die Boere-soldaat gekeer het wat my keel wou afsny omdat ek soveel pyn verduur en so gekreun het. Baie dankie daarvoor en baie dankie vir julle versorging.

Oupa verkoop sy helfte van die plaas Kirkentilloch en op 23 Julie 1912 trek hy, Ouma Susanna en hul tien kinders na die plaas Happy Rest in die distrik Louis Trichardt teen die Soutpansberg en boer met sitrus en vee . Hy koop ook die plase Bloekompoort, Bristol, Verziersherft, Purth,

Holworth, Welrevrede en Nooitgedacht in dieselfde omgewing. Hy is ook ʼn stigterslid van die Nasionale Party in 1914 in Louis Trichardt en ʼn paar jaar later simpatiseer hy met die Rebellie. Gedurende 1921 trek hy na Suidwes-Afrika en vestig homself op die plase Omaue en Omgariwanda-Sued (tesame 10,777 ha) in die distrik Omaruru. Na die dood van Susanna trou hy weer in 1926, verkoop sy plase en  trek na die plaas Okawayo, distrik Karabib wat aan sy tweede vrou Emmie behoort het. Hier betree hulle die Swakara bedryf deur met karakoelskape te boer. Hentiesbaai in Namibië is vernoem na Hentie van der Merwe, aangenome seun van Ouma Emmie.
 
Holworth, Welrevrede en Nooitgedacht in dieselfde omgewing. Hy is ook ʼn stigterslid van die Nasionale Party in 1914 in Louis Trichardt en ʼn paar jaar later simpatiseer hy met die Rebellie. Gedurende 1921 trek hy na Suidwes-Afrika en vestig homself op die plase Omaue en Omgariwanda-Sued (tesame 10,777 ha) in die distrik Omaruru. Na die dood van Susanna trou hy weer in 1926, verkoop sy plase en  trek na die plaas Okawayo, distrik Karabib wat aan sy tweede vrou Emmie behoort het. Hier betree hulle die Swakara bedryf deur met karakoelskape te boer. Hentiesbaai in Namibië is vernoem na Hentie van der Merwe, aangenome seun van ouma Emmie.

 Oupa Fritz sterf in Swakopmund op die 2 Maart 1950 in die ouderdom van 81 jaar.
 

 
Oupa Fritz en ouma Emmie
 
Roelf Frederik Odendaal (7de geslag–die 5de van die 11 kinders) het op die plase Homestead en Nimitz, distrik Outjo, Suidwes Afrika geboer.


 
Ouers van Sias Odendaal in Kaapstad

Sy seun Sias (8 ste geslag – een van 5 kinders) en Annatjie, gebore Swart, het afgetree op Jeffreysbaai. Hul seun Fritz(die 9 de geslag Odendaal), is vandag ʼn mediese dokter op Kuruman en hy en sy vrou Ronelle besit wildplase in die suide van Namibië tussen Keetmanshoop en Lüderitz, tewete die plase Simplon en Goageb. Sy seun Fritz en ook hul dogter Junel (die 10 de geslag) nog op skool op Kuruman.


 
Die polisiepos van 1905 is nou die woonhuis. Let op die sel op regterhand. Dis nou 'n badkamer.



Uitsig oor Goageb vanaf die huis
 
Marileen Waddell, Sias en Annatjie se dogter is ʼn inligtings-argitek in die VSA. Sy en Greg, haar man, bly in Whitingham, in die suide van Vermont in ʼn herehuis gebou in die laat 1700’s. Vir die afgelope 7 jaar is hulle besig om die huis te restoureer (foto onder). 



Behalwe vir ons dogter is ons Odendaals hier om te bly!