Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

20 February 2013

Een doorsmeerpartij of een grote partij?

Diek van Wyk

Enigiemand wat al in Holland vertoef het, sal weet dat daar onder ons stamverwantes in dié landjie die dierbaarste mense te vinde is, maar helaas ook diegene wat - kom ons stel dit sagkens - nie graag van ‘n eie opinie afstand doen nie.  En sulke opinies word ondubbelsinnig lug gegee, dikwels op so ‘n wyse dat die gemiddelde Suid-Afrikaner nie erg daaraan het nie.


Nederland

‘n Kollega van my wat in Holland studeer het, Emile, beskik oor heelwat lank­moedigheid, maar dit het besliste perke as dit by onnodige vrypostigheid kom. Soos studente oral, moes hy sy sente ekstra lank rek. Dit het onder meer meegebring dat hy sy besoeke aan die haar­kapper moes inkort.

Op ‘n keer, toe sy haredos al wou lyk of dit Absalom s’n na die kroon sou steek, het hy in Groningen in ‘n bos gaan fiets ry. Voor hom was ‘n jong japsnoet, ook op ‘n fiets. Dié kyk om en sê vir hom: “Zeg Jan, je moet ‘s naar de kapper!” Tot die ventjie se nadeel was “Jan” net mooi op die punt waar sy lankmoedigheid oorspanne was en dié soort uitgesprokenheid hom nie meer wel­gevallig was nie. Emile/Jan het ‘n keurige stukkie Hollands laat val.


Groningen
Die jongeling het onmiddellik gemerk dat daar probleme aan die kom is en het met groot dringendheid begin trap. Maar Emile se drif het hom tot ongewone hoogtes aangevuur, soos die knaap moes vasstel elke keer as hy oor sy skouer loer om die krimpende afstand tussen hom en die driftige Absalom te meet. Dit was ook nie lank nie, toe blaas sy agtervolger in sy nek. Op dié punt het hy besluit om liewer Bangjan te wees. Hy het sy fiets eenkant neergegooi en die bos ingehol. Emile sê hy was nie nog lus om die vent agterna te sit nie en het toe maar aan sy ergerlikheid uiting gegee deur die draaiende agterwiel van die fiets ‘n skop te gee.

Emile vertel ook van ‘n Suid-Afrikaanse vriend van hom wat ewe-eens in Holland studeer het maar heelwat minder geduld met uitgesprokenheid gehad het. Hy het by geleentheid na ‘n ongevraagde en onvleiende opmerking oor sy kleredrag, wat effens afgewyk het van die Hollandse standaard, tot handtastelikheid oorgegaan, waarop hy aangekla is en ‘n boete van 100 guldens opgelê is - R 20 in die wisselkoers van die tyd. Toe hy na ‘n tweede hard­handigheid weer met 100 guldens beboet is, het hy vasgestel dat dit die standaardboete vir dié soort oortreding is, en het hy voortaan elke maand spesiaal R20 begroot sodat sy gemoed darem al om die vier weke verligting kon kry.

My lont is ‘n bietjie langer as Emile en sy kortgebakerde vriend s’n, en my liggaamlike attribute, anders as hulle s’n, nie sodanig dat ek dit kan bekostig om my misnoeë teenoor enigiemand fisiek te kommunikeer nie. Daar was egter ‘n geleentheid toe ek ook net wou begin voel dat R20 goed gespandeer sou wees as ek die nodige vermoëns gehad het.


1964-model Peugeot 404
Dit was in 1964, toe ek met ‘n jaar se studieverlof in Holland was en in Haarlem gewoon het. Voor my vertrek het ek vanuit Pretoria ‘n Peugeot 404 bestel waarvan ek in Parys besit geneem het. Dit was in die dae voor metrisering. Die motor het dus ‘n regterstuur gehad en was in myle gekalibreer. Danksy dié ryding kon ek met my gesin die Laaglande behoorlik verken en ook heelwat van die res van Europa te sien kry - l.g. teen die prinslike bedrag van R14 per dag, alles ingesluit - maar dit is ‘n ander storie.

Volgens die instruksieboek moes die motor op 8 000 myl omvattend versien word. Toe die afstand­meter aan dié afstand begin ruik, bel ek die plaaslike Peugeot-agente, Motorhandel Vossen, om ‘n afspraak vir die nodige diens te maak. Dit was op ‘n Donderdag. Die bestuurder vra my of dit ‘n “grote partij” moet wees of  ‘n “doorsmeerpartij”. Laasgenoemde is die ekwivalent van wat ons in die ou dae 'n olie-en-ghries sou genoem het. Ek verduidelik in my bloedarm Hollands dat die motor 8 000 myl gedoen het en dus ‘n groot party nodig het, en voeg nog by dat ek vermoed dat dit ongeveer aan ‘n 12 000 km party gelykstaan. Nee, weet hy te sê, as dit ‘n grote partij is, moet dit ‘n 10 000 km party wees; ek moet die motor Maandagmiddag inbring sodat die enjin koud is wanneer hy die kleppe op die Dinsdagoggend sal instel. Ek het hom geantwoord dat ek daarmee tevrede sal wees, mits dit net ‘n groot party is.


Haarlem
Vier dae later vat ek pad na Haarlem se middestad. Maklik was dit nie, want die middestad het eeue gelede ontstaan en was nie vir gemotoriseerde verkeer beplan nie. Die straatjies was nou en met klip geplavei. Die motorhandel was geleë langs een van die smalste strate en ek kon die motor se neus slegs met ‘n groot gesukkel in die ingang ingedraai kry.

Toe ek uitklim, staan die bestuurder langs ‘n ander motor, omring deur leerjongens - in Suid-Afrika word hulle “eppies” genoem - en is hy besig om een van hulle uit te trap. Sowat van taal­virtuositeit het ek nog selde meegemaak. ‘n Lawine uit die gespeseryde woordeskat van Nederlands word op die arme slagoffer losgelaat, en die ander vakleerlinge se monde hang oop van verwondering en ontsag. Die bestuurder gewaar my uit die hoek van sy oog, maar maak of hy my nie sien nie. Toe trek hy los met ‘n nuwe stortvloed gemarineerde Hollands, kompleet soos ‘n opera­sanger wat sy hoogste noot vir laaste bêre.

Toe hy uiteindelik sy slegsê met ‘n paar geurige voltreffers afgerond het, gee hy die eerste aanduiding dat hy van my teenwoordigheid bewus is. Hy draai na my kant toe met ‘n swierige gebaar asof hy applous vir sy vertoning verwag, en vra wat hy vir my kan doen.

Bewus van hoe erg my verkluimde Hollands teen die gespierdheid van syne afsteek, sê ek versigtig dat ek Van Wyk – of liewer: Van Wijk - is en dat ek my motor vir die 10 000 km diens bring waarvoor ek ‘n afspraak gemaak het. “Nee”, sê hy, “dat is fout!”, hy kan nie die motor vir ‘n grote partij neem nie, want ek het vir ‘n 1 000 km doorsmeer­partij gevra en hy het nie vir ‘n grote partij voorsiening gemaak nie. Ek antwoord dat ek hom die vorige Donderdag gebel het en gevra het vir ‘n 12 000 km diens maar dat hy besluit het dit moet 10 000 km wees; hy het nog gesê ek moet die motor Maandag inbring sodat hy die kleppe Dinsdagoggend kan instel wanner die enjin koud is. “Nee”, sê hy, “dat is niet waar”, ek het vir 1 000 gevra. Ek probeer nog verduidelik dat my Hollands nie van die beste is nie en dat hy my moontlik verkeerd verstaan het. “Nee”, sê hy, “dat ‘s gewoon niet mogelijk, ik versta al m’n klanten best”.


Amsterdam
Teen dié tyd het ek simpatie begin kry met Emile en sy vriend en begin wonder of ek nie maar ‘n R20 moet waag nie, my mindere fisieke rugsteun ten spyt. Ek besluit egter om verstandiger te wees en sê vir hom hy kan maar sy simpele afspraak los, ek sal die motor na Amster­dam toe neem waar my Hollands beter verstaan sal word. Nee, dring hy daarop aan, ek móét weet dat ek slegs vir doorsmeer gevra het; hy sal my wys.

Hy stap na sy lessenaar, haal sy afspraakboek uit en soek die datum op. Daar staan dit toe duidelik in groot puntige Hollandse letters: “Van Wijk, 10 000 km”. Ek sê vir hom: “Maar meneer, daar is dan vier nulle”. “Nee”, sê hy, “dat’s gewoon fout!”, en hy gryp sy potlood en haal die laaste nul deur.

En toe aanvaar hy die motor vir ‘n grote partij, natuurlik nie omdat hy ‘n fout gemaak het nie maar as ‘n spesiale toegewing.