Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

07 February 2013

Besondere Africana oor die Anglo-Boereoorlog en Suid-Afrika.

'n Lid van die Jeffreysbaaise Genealogiese Geselsgroep, Piet Butler, het vir ons inligting gestuur oor drie opsienbarende boeke wat oor die Anglo-Boereoorlog en Suid-Afrika handel.


De Strijd tusschen Boer en Brit
Die eerste is De Strijd tusschen Boer en Brit. De herinnering van den Boeren general C.R. de Wet-1902. 'n Inskripsie wat deur F C Eloff in 1902 voor in die boek aangebring is, verhoog die waarde daarvan aansienlik. Die boek bevat 508 bladsye.

Genl. Christiaan de Wet
De Strijd tusschen Boer en Brit het sy ontstaan te danke aan dominee J.D.Kestell wat generaal Christiaan de Wet bygestaan het om sy memoirs te skryf. De Wet, as legendariese soldaat en staatsman, is op 7 Oktober 1854 naby Dewetsdorp gebore. Sy rol in die Anglo-Boereoorlog en die Rebellie van 1914, het hom wye erkenning in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verleen. De Wet is op 3 Februarie 1922 oorlede en by die Vrouemonument in Bloemfontein langs pres. Steyn en Emily Hobhouse begrawe. Die museum by die Vrouemonument het `n onlangse opgradering ondergaan en 'n besoek kan `n besondere ervaring wees.  

De Strijd tusschen Boer en Brit het verskeie vertalings beleef. Dié publikasie, met die inskripsie van F.C. Eloff gedateer Desember 1902, kan as besondere Africana beskou word. F.C. Eloff het blykbaar gedurende die oorlog ook as Staatsekretaris opgetree.

Die tweede publikasie wat van besondere belang is, is Striden mellan Börs och Engelsmȁn, skildrad ann Christin R. de Wet General, 'n  Sweedse vertaling oor generaal De Wet wat in 1903 in Stockholm gepubliseer is. Dit bevat 474 bladsye en 100 illustrasies. Die boek is in puik toestand en sal Africana-versamelaars maklik R3 000.00 uit die sak jaag.

Pres. M T Steyn
Die derde publikasie is Genom Boernas Land Fran Amsterdam till Pretoria af: J.A.Wormser - Frȁn Tyskan af Pontus Dahlander. Dit is in 1900 in Stockholm gepubliseer en beslaan 267 bladsye. Hierdie publikasie gee `n oorsig van die verskillende bevolkingsgroepe in Suid Afrika met verwysing na bepaalde volksleiers soos presidente Steyn en Brand asook generaal Piet Joubert.

Lesers wat belang stel kan gerus met Piet in verbinding tree by dawnviewinn@yahoo.com.