Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

21 February 2013

GGSA Noordwes

Die volgende berig is ontleen aan SAGenealogie.

GGSA Noordwes se volgende byeenkoms vind plaas op Maandagaand, 4 Maart 2013 om 18:30 vir 19:00 in die Auditorium van die Museum & Biblioteekgebou op die hoek van Sol Plaatjie- en Wolmaranstraat, Potchefstroom.

Charl Blignaut, lektor in Geskiedenis verbonde aan die Vakgroep Geskiedenis en Antieke Kultuur van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), se onderwerp van bespreking het die indruwekkende titel Die wesensaard van die Ossewa-Brandwag (OB) en die belang van die OB-versameling as erfenisskat van Potchefstroom

Die Ossewa-Brandwag was 'n reuse Afrikanerbeweging wat bestaan het tussen 1938 tot 1954. Dit was die vernaamste organisasie wat gedurende die vroeë 1940's protes aangeteken het teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Meegesleur deur die ideologiese tendense van die dag was die OB beide Nasionaal-Sosialisties en Calvinisties van aard. As 'n massabeweging het die OB op kulturele vlak 'n tuiste vir die meer radikaal-nasionalistiese Afrikaner gebied, en ook by wyse van hulle Stormjaer-vleuel die geleentheid gegee om selfs op geweldadige wyse te verset teen Smuts se oorlogspoging. Laasgenoemde het daartoe gelei dat verskeie OB-lede geïnterneer is, waaronder baie Potchefstromers getel het. Die destydse Potchefstroomse intelligentsia was baie betrokke by die OB en het 'n belangrike beleidmakende rol in die beweging gespeel. Vandag huisves die Potchefstroomkampus van die NWU die OB-museum en die OB-argief wat van onskatbare waarde is vir die erfenis van beide Suid-Afrika in geheel en Potchefstroom in besonder. Na dekades is dit tyd dat die publiek blootgestel word aan die OB en selfs begin werk in die rigting van toegang tot die OB-museum - 'n museum wat vir baie jare agter toe deure gestaan het.