Piet Retief |
Nog ’n bron wat dikwels aangehaal word, is ’n verklaring deur Anna Steenkamp, Retief se niggie, wat veral gekla het dat slawe op gelyke voet met Christene geplaas is, “strydig met die wette van God en die natuurlike onderskeid van afkoms en geloof . . . daarom onttrek ons eerder om ons geloof en leer in suiwerheid te bewaar”.
Steenkamp se grootste griewe hou waarskynlik verband met die sterk standpunt wat die regering ingeneem het teen enige rassediskriminasie binne die Ned. Geref. Kerk, wat vir alle praktiese doeleindes ’n staatskerk was. Khoi-Khoi is nou in die kerk in die huwelik bevestig, en die sakramente is daar aan hulle bedien. Dit het dit trekkers erg ontstel, maar hulle kon altyd ’n ander kerk gestig het.
’n Mens kan nie net op grond van Steenkamp se woorde aanvaar dat die Voortrekkers hoofsaaklik getrek het omdat gelykheid voor die reg ingestel is toe Ordonnansie 50 van 1828 alle regsbeperkings op die Khoi-Khoi opgehef het, of die slawe in 1834 bevry is nie.
Olive Schreiner |
Met verwysing na die verliese wat die mense in opeenvolgende oorloë gely het, die arrogante manier waarop beamptes die grensboere behandel het (selfs dié wat in hul grensoorloë geveg het), en die regering se geknoeiery met vergoeding vir slawebesitters, skryf sy: “Maar wat die koloniste se harte die meeste verbitter het, was die onver skilligheid waarmee hulle behandel is, en die besef dat hulle as ’n ondergeskikte en mindere ras beskou is . . . Die bitter gevoel het só sterk geword dat groot getalle individue omstreeks 1836 besluit het om die Kolonie en die tuistes wat hulle geskep het, vir ewig te verlaat.”
Daar is komplekse redes vir die trek, maar dit kan in ’n enkele sin opgesom word. Die trekkers het weens te min grond, arbeid en veiligheid getrek, want sonder ver teenwoordiging kon hulle dié probleme nie aanspreek nie, en dit het ’n sterk gevoel van marginalisering laat posvat.
Bron: Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika, onder redaksie van Hermann Giliomee en Bernard Mbenga. In 2010 uitgegee deur Tafelberg.