Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.
Showing posts with label Diek van Wyk. Show all posts
Showing posts with label Diek van Wyk. Show all posts

20 February 2013

Een doorsmeerpartij of een grote partij?

Diek van Wyk

Enigiemand wat al in Holland vertoef het, sal weet dat daar onder ons stamverwantes in dié landjie die dierbaarste mense te vinde is, maar helaas ook diegene wat - kom ons stel dit sagkens - nie graag van ‘n eie opinie afstand doen nie.  En sulke opinies word ondubbelsinnig lug gegee, dikwels op so ‘n wyse dat die gemiddelde Suid-Afrikaner nie erg daaraan het nie.

11 August 2012

Schubert, die Weense woude en Barrydale

Diek van Wyk

Franz Schubert
65 jaar gelede, toe ek 'n eerstejaarstudentjie was, het 'n oom van my eendag 'n plaat met twee Schubert-liedere daarop vir my gespeel. Op die een kant was daar Der Erlkönig en op die ander ander kant Heidenröslein. Dit het my lot verseël. Ek was oombliklik en reddeloos 'n gevangene van Schubert se liedkuns. Vir die res van my lewe sou dit my passie bly.


07 August 2012

Die Van Wyks se voorgeskiedenis

Diek van Wyk 

Lynette Francis het op Maandag 6 Augustus in haar program Praat Saam met twee genetici gepraat waarin hulle dit onder andere gehad het oor die maniere waarop vasgestel kan word hoe iemand se genotipiese afkoms tot by die wieg van die mensdom bepaal kan word. Toevallig is my afkoms so bepaal. In hierdie hoofstuk uit my boek wat ek vir my kinders geskryf het, vertel ek, effens aangepas, daarvan. 

(Lees ook Using DNA to trace ancestry. Klik hier om toegang te verkry - Redaksie)

30 July 2012

Sondes met outydse fietse

Diek van Wyk

My eerste fiets het ek in 1935 of 1936 gekry. Fietse het destyds in vier verskillende groottes gekom, bepaal deur die deursnit in duime van die wiele: 22, 24, 26 en 28. Myne was ‘n 22, bedoel vir kleintjies van so 6 tot 7 jaar.

My pa het die verantwoordelikheid om my daarop te leer ry aan ou Abel gedelegeer. Abel se didaktiese vermoëns was egter nie onbesproke nie. Hy het naamlik die fiets aan die saal vasgehou en al agter my aangedraf sonder om te los, met die gevolg dat ek nie geleer het om self reg te kom nie. My pa moes hom toe aansê om my net te help totdat ek my balans behoorlik het en my dan te los. Maar toe het dit weer nie tot hom deurgedring om my in te lig hoe om die fiets tot stilstand te bring as ek eenmaal op vaart is nie. My eerste onbegeleide rit het dus in ‘n heining geëindig, met onbedoelde gevolge vir die heining, die fiets, my nerwe en my ego.

19 July 2012

Die bleddie os

Diek van Wyk

Soutpansberg
Die meeste van my grootword het ek gedoen in die Soutpansberg-distrik, waar my pa die hoof van ‘n plaasskool was. Van tyd tot tyd het amptenare van die onderwys­departe­ment daar aangedoen. Soms het hulle hulle kinders saamgebring om ‘n bietjie bloot­stelling aan die Bosveld te kry, die “great outdoors” en so aan, en dan moes ek hulle geselskap hou, gewoonlik met min sukses. Tussen die kulture van ‘n stadsjapie en ‘n boslansertjie was daar in dié jare nie genoeg raakpunte vir geanimeerde kommunikasie nie.

18 July 2012

Jaarringe word selfs in Seattle gelees!


Hello Diek,

Geluk met die baie mooi blog. Goeie ontwerp, maklik om te lees. Ek het
dit baie geniet. 

Ek sien julle ontmoet een keer per maand. Wanneer is dit in
Februarie en Maart? Ons is vir 'n maand dan in Jeffreysbaai, en ek sal graag
by julle aansluit. 

Ek woon in Seattle, maar elke keer as ons hier aanland van ons vakansie, wonder ons hoekom ons nie maar in Jeffreysbaai woon nie.

So ek sien uit om julle te sien in Februarie.

Cecilia (Simonis).

(Cecilia se e-posadres is cecilia.simonis@gmail.com, indien julle aan haar wil skryf – Redakteur)

17 July 2012

Die geskiedenis van Humansdorp

Diek van Wyk

Junie se spreker was Bartle Logie, skrywer van 7 boeke oor die Oos-Kaapse geskiedenis, een daarvan in samewerking met sy vrou Caryl, ‘n plantkunde-entoesias. Bart het sy praatjie toegelig met foto’s en genealogiese gegewens van die hooffigure in sy verhaal, of liewer verhale, rondom die ontstaan van Humansdorp. 

15 July 2012

Oom Joggie se gebed

Diek van Wyk

Julle kan sê wat julle wil, maar belangstelling in familegeskiedenis word gebore uit nostalgie. En nostalgie kyk na die verlede. Daarom het ek die vrymoedigheid om van tyd tot tyd ietsie oor die ou dae te plaas. Hierdie keer ‘n ware verhaal uit my grootword­wêreld, met net die name van die karakters aangepas.

13 July 2012

‘n Voormalige Recce se storie

Diek van Wyk

Peet Coetzee, ‘n voormalige Recce (SA Spesiale Magte Brigade), het onlangs ‘n praatjie tydens ons maandvergadering gelewer - uit die vuis uit, g’n notas, g’n niks. En toe ek hom vra vir ‘n opsomming, het hy net gelag. Hier volg ‘n baie kort verslag van wat hy vertel het.

‘n Toer deur Jeffreysbaai van weleer

Diek van Wyk

Een van ons jongste, of miskien moet ek sê: nuutste: lede is die 83-jarige Meeding Ferreira. Meeding is in die onmiddellike omgewing van Jeffreysbaai gebore, het hier grootgeword, het sy hele werkende lewe in hierdie omgewing deurgebring en woon nou op sy geboortegrond net buite die dorp. Onlangs het hy ‘n groep van ons deur die dorp en die naasliggende plase geneem en ons vertel hoe dit in sy kinderjare daar uitgesien het. Wat hier volg, is ‘n kort verslag van die toertjie, saamgestel uit notas wat hy tot my beskikking gestel het. Daar is geen manier waarop die samevatting reg kan laat geskied aan die rykdom aan inligting wat die energieke Meeding tydens die toer met ons gedeel het en al die landmerke wat hy aan ons uitgewys het nie.

05 July 2012

‘n Donkie is ‘n wonderlike ding

Diek van Wyk

Die donkie is 'n wonderlike ding
In die ou dae het die radio gereeld ‘n liedjie van Chris Blignault uitgesaai met die titel: “Die donkie is ‘n wonderlike ding”. Êrens in die liedjie, altans soos ek dit onthou, het die woorde "Hy loop op die strand en vreet 'n koerant" voorgekom. Dit moes bewys hoe wonderlik 'n donkie is.


29 June 2012

Teater in die bosveld

Diek van Wyk

Ek het op ‘n klein plekkie in die Noord-Transvaalse bosveld groot geword. Die naaste dorp, Louis Trichardt, was 71 km daarvandaan en die naaste hospitaal op Pietersburg, 101 km weg. (Ek hou maar by die name van destyds). Dié afstande is met vandag se paaie, wat reguiter is as wat dit toe was. Destyds het hulle meer gekronkel en was hulle heelwat langer, ook en veral wat die aanvoelbare afstand betref.

My pa was die hoof van ‘n skooltjie  van 4 onderwysers en net meer as 100 leerlinge. Omdat die meeste leerlinge van ver gekom het, is hulle in ‘n koshuis gehuisves. Dié wie se ouers hulle kon kom haal, het al om die tweede naweek huistoe gegaan; die res moes met langer tussenposes genoeë neem of maar ‘n hele kwartaal in die koshuis uitsit.

05 June 2012

Herinnering en belewenis

Diek van Wyk

In die kusdorpie waar ek woon het ons ‘n groepie wat maandeliks vergader om rondom genealogie te gesels. Nou is daar nie veel i.v.m. genealogie as sodanig waaroor gedagtes uitgeruil kan word nie en ‘n mens raak in elk geval gou verveeld om na ander se stories oor hulle herkoms te luister. Gevolglik word daar meesal gepraat oor aanverwante onderwerpe, historiese interessanthede en veral oor die ou dae.