Diek van Wyk
Ek het op ‘n klein plekkie in die Noord-Transvaalse bosveld groot geword. Die naaste dorp, Louis Trichardt, was 71 km daarvandaan en die naaste hospitaal op Pietersburg, 101 km weg. (Ek hou maar by die name van destyds). Dié afstande is met vandag se paaie, wat reguiter is as wat dit toe was. Destyds het hulle meer gekronkel en was hulle heelwat langer, ook en veral wat die aanvoelbare afstand betref.
Ek het op ‘n klein plekkie in die Noord-Transvaalse bosveld groot geword. Die naaste dorp, Louis Trichardt, was 71 km daarvandaan en die naaste hospitaal op Pietersburg, 101 km weg. (Ek hou maar by die name van destyds). Dié afstande is met vandag se paaie, wat reguiter is as wat dit toe was. Destyds het hulle meer gekronkel en was hulle heelwat langer, ook en veral wat die aanvoelbare afstand betref.
My pa was die hoof van ‘n skooltjie van 4 onderwysers en net meer as 100 leerlinge. Omdat die meeste leerlinge van ver gekom het, is hulle in ‘n koshuis gehuisves. Dié wie se ouers hulle kon kom haal, het al om die tweede naweek huistoe gegaan; die res moes met langer tussenposes genoeë neem of maar ‘n hele kwartaal in die koshuis uitsit.
My grootwordjare in die bosveld, of eintlik dié deel waaroor ek dit het, het wydsbeen oor die begin van die tweede wêreldoorlog gestaan: ‘n gedeelte daarvoor en ‘n gedeelte daarbinne. Na Std. 5 - Graad 7 in die vandag se dae - moes ek na Pietersburg, waar die enigste hoërskool in die Verre Noorde was, en het my paradystyd tot ‘n einde gekom.
Die bosveld van daardie jare was iets heel anders as vandag, altans as ek moet oordeel volgens wat ek onlangs van hom gesien het. Dit was ‘n harde wêreld waar, soos hulle gesê het, dit nie graag gereën het nie. Die grond was kalkgrond, slegs vir graansorghum geskik, en die plantegroei bos en boom: knoppiesdorings, wag-‘n-bietjies, maroelas, rooibosse, hardekole, appelblare, sekelbosse en hier en daar ‘n apiesdoring. Dit was beeswêreld, met boerbokke en vetstertskape die enigste ander noemenswaardige vee. Die boere moes hard werk vir ‘n bestaan. Tyd vir nonsies was daar nie.
En tog was ons nie sonder kultuur nie. ‘n Paar kilometer van die skool het ‘n boer ‘n stukkie van sy plaas afgekamp en ‘n afdak daarop opgerig waaronder jaarliks Dingaansfees gehou is – so is dit toe nog genoem. Aan die een kant van die afdak is ‘n verhoog ingerig met twee vertrekkies weerskante.
Dingaansdae het die tipiese patroon van die tyd aangeneem: ‘n gewyde diens en plegtige toesprake waarin ons heroïese geskiedenis herdenk is – nie alte aptytlik vir jong seuns wat daarna moes luister onder ‘n sink afdak wat deur die genadelose Desember-son gekasty word nie. Die aand voor Dingaansdag is daar ‘n program aangebied waaraan plaaslike talent deelgeneem het. Dit het van jaar tot jaar gewissel. Soms het koortjies van laerskoolleerlinge met ongeoefende – lees vals – stemme hulle trotse ouers op vaderlandse liedere getrakteer. Soms is daar voordragkompetisies gehou. Op ‘n keer het Friedel Kasten, die plaaslike Duitse winkelier en my eerste vioolonderwyser, ‘n senuweeagtige viooluitvoering gelewer.
En toe was daar die keer toe die jongmense ‘n toneelstuk oor die Anglo-Boereoorlog opgevoer het. Dit was nogal ‘n ambisieuse onderneming. Om genoeg akteurs vanoor ‘n groot gebied byeen te kry om na ‘n dag se harde werk, wat nie veel tyd vir die memoriseer van woorde gelaat het nie, was nie maklik nie. Die vanselfsprekende lokaal om in te repeteer was ‘n vertrek in die koshuis van my pa se skool.
Hoe hard hulle ook al probeer het, kon hulle egter nie genoeg akteurs vir die rolbesetting kry nie. En so het dit gebeur dat ek, toe so 9 of 10 jaar oud, ingespan is in die rol van ‘n burger. Eintlik was ek ‘n gerieflike keuse, want ek was op die skoolterrein beskikbaar en my rol was die mees beskeie van almal. Gevolglik was dit nie vir my nodig om my voor te berei nie; ek moes my maar net tydens die finale kleedrepetisie aanmeld.
Daar aangekom, word ek toe voorsien van ‘n hoed met ‘n opgeslaande rand, ‘n bandelier word my omgehang, en ‘n geweer word my in die hand gestop. Ek sou naamlik ‘n burger wees wat moet wag staan by die deur van ‘n vertrek waarbinne ‘n aantal offisiere ‘n beraad hou.
Hoe indrukwekkend dié burger was, weet ek nie. Ek het altyd ‘n groot kop gehad, of laat ek dit beter stel om alle misverstand uit die weg te ruim: ek het van kleins af ‘n groot nommer hoed gedra. Dus sou die hoed nog kon gaan. Maar met ‘n bandelier wat tot by my knieë gehang het en ‘n geweer wat langer as ek was, sou ek seker nie my medeburgers met onderskeiding kon verdedig het nie, sou die Kakies skielik op ons afgekom het.
Op ‘n gegewe moment, wanneer een van die offisiere ‘n sekere stelling maak, moes ek sê: “Dit weet die koei se stert.” (Dit was my enigste praatbeurt en ek weet tot vandag nog nie waar dié uitdrukking vandaan kom nie). Met ‘n 9- of 10-jarige stemmetjie sou my bydrae tot die beraad – en tot die sukses van die uiteindelike opvoering - seker ook nie van hoogstaande gehalte gewees het nie.
Tydens die kleedrepetisie blyk dit toe dat sommige van die akteurs nie hulle woorde volledig gememoriseer het nie. Omdat dit te laat was om nog iets daaraan te doen, het die “regisseur” besluit dat as iemand nie seker van sy of haar woorde is nie – daar was ook enkele vroulike deelnemers - hy of sy maar eie woorde moet opmaak, solank dit net by die inhoud pas.
Dit is toe dat ek ‘n blink ingewing kry: as ander akteurs hulle woorde kan verander, kan ek dit ook doen, veral omdat ek so min het om te sê. Toe my beurt kom om my bydrae te lewer, val ek weg met: “Watter koei se stert weet dit nie!” Die repetisie het net daar tot stilstand gekom en alle oë het na die jong burgertjie gedraai.
Na ‘n verbaasde stilte is daar besluit dat die toneelstuk sonder sy kreatiewe insette kan klaarkom. Dus moes ek my maar die aand voor Dingaansdag tot my ses woorde beperk.
Miskien was dit die oueres se Dingaansfees-teater wat die voorbeeld gestel het, of miskien was dit die uwe se gekneusde kreatiwiteit wat gevoel het dat dit tog tot groter dinge bestem was. Hoe dit ook sy, ek het dit in my kop gekry om ook ‘n drama op te voer.
Ek het naamlik ‘n boek gelees oor ‘n ou wat na Amerika gereis het en daar onder ‘n spul boewe deurgeloop het. Dit het net na die regte materiaal vir ‘n toneelstuk gelyk en ek het dit terstond verwerk sodat dit by seuns aangepas is en opgevoer kon word. Die rolle is tussen ‘n paar van ons verdeel en dié keer sou ek die meeste praatwerk doen. Dit het ‘n bietjie verduidelik en soebat en aanpassings gekos voordat my pa, met ‘n paar wenke van sy kant, ingestem het dat die koshuis gebruik kon word vir een van die bosveld se gedenkwaardigste konserte van daardie dekade.
Die ontluikende dramaturg se vaardigheid was egter nie sodanig dat dit vir ‘n hele aand se vermaak sou sorg nie, en buitendien is daar gevoel dat die meisies – wat ons seuns as ‘n ander, mindere spesie beskou het – ook deel moet hê aan die verrigtinge. ‘n Onderwyseres het dit dus op haar geneem om een of twee items vir daardie spesie te organiseer.
Die konsert is wyd en syd in die bosveld geadverteer. Toegang was iets soos een sjieling of twee sjielings per kop. Volgens Daan Desimaal was dit die ekwivalent van tien of twintig sent.
Tafels is aan die een kant van die eetsaal teen mekaar geskuif om ‘n verhoog te vorm en gordyne is met lakens uit een van die slaapsale geprakseer. Die res van die eetsaal is in beslag geneem deur stoele wat in rye gerangskik is vir die gehoor. Bykomstighede vir die toneelstuk – “props” soos toneelmense sê – was maar skraal, net hier en daar ‘n stoel, ‘n tafel of ‘n kassie en, baie belangrik, ‘n fiets waarop die ou in Amerika moes ry.
Op die groot aand was elke stoel in die eetsaal beset. Ouers het van heinde en ver gekom om welwillend te kyk hoe hulle bloedjies hulle op die verhoog gedra. Eerste op die program was ‘n meisie-item en daarna my toneelstuk. Daar was darem so hier en daar ‘n waarderende kopknik vir ons wederwaardighede in Amerika maar ek kan nie onthou dat die applous juis oorweldigend was nie. Ons was in elk geval nie terug geroep om ons buigings voor die gehoor te herhaal nie – ek het my getroos daaraan dat die bosveld nie van beter weet nie.
Die aand is afgesluit met ‘n reeks tablo’s deur meisies wat verskillende deugde beliggaam. Een meisie op ‘n keer sou na die middel van die verhoog stap en haar besondere deug voorstel deur by voorbeeld te sê: “My naam is Vriendelik”. Sy sou die gehoor se aandag vir ‘n paar oomblikke geniet en dan op ‘n wenk van die onderwyseres terug tree om vir die volgende deug plek te maak. Dié sou dan opkom en sê: “My naam is Verstandig”, ‘n oomblik talm en ook terug tree. En so het Behulpsaam en Simpatiek en Arbeidsaam en nog ‘n paar ander opgekom en hulle sêe gesê.
Laaste aan die beurt was Vreedsaam. Dit het daarvoor gesorg dat die aand op ‘n onverwagte hoogtepunt afgesluit is. Toe sy haarself voorstel het die gehoor uitgebars van die lag. In die beperkte taalregister van die bosveld het hulle dié “deug” verstaan as Vreet saam!
Die opbrengs van die aand was £5.19.6 (vyf pond negentien sjielings en ses pennies). Daan Desimaal sou dit omgereken het tot R11.95, ‘n skotige bedrag vir die tyd. My pa het dit afgerond tot £6 (R12), en ‘n donasie van £2 is aan elk van drie verskillende kerke se weeshuise gemaak.
Ek vra my af of die bosveld, en trouens die Suid-Afrikaanse platteland in die algemeen, nog dié soort teater belewe en of dit nie saam met die geheuebank van ‘n ouer geslag aan die verdwyn is nie.
Hierdie skryfsel is ‘n huldeblyk aan daardie boere wat grond opsy gesit het en geriewe daargestel het vir die instandhou van kultuurgoed, al moes dit geskied onder sinkdakke wat deur ‘n onbarmhartige son gelooi word. En al moes dit by geleentheid die gestalte aanneem van onvaste Graad Twee stemmetjies, senuagtige viooluitvoerings en teater met ‘n onindrukwekkende burger wie se bandelier en geweer – maar nie sy hoed nie - vir hom te groot was.
Dit is ook ‘n huldeblyk aan daardie opvoeders van toe en nou wat nie huiwer om hulle geriewe aan hulle omgewing oop te stel nie. Wat die kinders wat aan hulle sorg toevertrou is toelaat om hulle inisiatief uit te leef, ook al lok hulle opvoerings nie oor-geesdriftige applous uit nie en bring dit mee dat vreedsaamheid vir saamvretery aangesien word.