Volgende vergadering: Woensdag, 29 Mei, 17:00; Santa Fé Coffee Shop (agter ABSA), Da Gamaweg, Jeffreysbaai.
Spreker: Dr. Piet Aucamp. Onderwerp: "My seëlversameling en die genealogie".

Soek iets in Jaarringe

Soek jy na 'n berig in Jaarringe? Tik 'n sleutelwoord hieronder in en klik om toegang tot die berig te verkry.

28 June 2012

Die legende van Gert Houtkanon

Barry Vosloo

Ek is ‘n direkte afstammeling van Gerrit Vosloo (1768 – 1860).

Hy was glo 'n voortvarende en rebelse man; iemand wat nie gehuiwer het om drasties op te tree as daar 'n statement te maak was nie.

Wamaker van nering, het hy op Graaff‑Reinet gewoon waar hy op 6 April 1799 aan die Van Jaarsveld‑opstand deelgeneem het. Die gebeure wat tot die opstand aanleiding gegee het is ‘n storie vir ‘n ander dag. Wat wel vir hierdie vertellinkie van belang is, is die rol wat Gerrit Vosloo volgens oorlewering daarin gespeel het.

Gerrit en twee makkers het vir die opstandelinge 'n kanon van 'n uitgeholde houtstomp gemaak.

Oud-president F W Reitz
Oud-president F W Reitz van die eertydse Republiek van die Oranje-Vrystaat het die gebeure soos volg in ‘n 1918-uitgawe van Die Huisgenoot beskryf:

“Hulle vat ‘n stinkhoutstomp, hol dit uit en draai daar wawielbande om. Hul boor ‘n sunsgat agterin, sit die wapen op die voorstel van ‘n ossewa, en toe was dit klaar om af te skiet.

Hij [Gerrit Vosloo] vat toe die langste sweepstok wat te krij was, met die langste sweep, en maak die lont aan die voorslag vas. Toe laat hij omtrent dertig tree van die houtkanon af ‘n gat van sowat vijf voet diep grawe, waar hij in kon staan.

Toe vat hij die ent van die sweepstok en trek dit versigtig na die sunsgat toe. Die skoot bars los, en Vosloo koes so ‘n paar minute, totdat hij dink dit veilig is om uit te kyk. Hij kijk en siet niks nie. Die kanon en die voorstel van die wa was verdwijn!”

Hierdie episode het aan hom die bynaam Gert Houtkanon besorg.

Gerrit en sy twee makkers is vervolgens in hegtenis geneem, verhoor en ter dood veroordeel. Hulle is na die Kasteel oorgeplaas waar die vonnis voltrek sou word. Die straf is later egter tot lewenslange gevangenisstraf versag. Hy is in 1803 deur Goewerneur Jansen en Kommissaris De Mist nà die Verdrag van Amiens vrygelaat omdat hulle hom (en ‘n oorlewende makker) as politieke gevangenes beskou het.

Hoeveel waarheid steek daar in dié legende? Toe hy daaroor uitgevra is, het die gerespekteerde geskiedkundige, prof. Hermann Giliomee, laat blyk dat hy tydens sy navorsing oor die Kaap tydens die eerste Britse bewind, geen verwysings na die kanonmakery teëgekom het nie.

“Maar,” vra Daniel Jacobs in Die Vosloos – nuttige landsburgers, “hoe sou die legende daaroor dan ontstaan het – en bevat dit dalk ‘n kern van waarheid?”

Hiermee stem die meeste Vosloos uiteraard volmondig saam!