Argiefbewaarplekke is seker nog die beste plek om dokumente te bewaar.
Die enigste dokumente waarop ek afgekom het van mense wat voor my ouma- en oupagrootjie gelewe het, is dié wat in die argiefbewaarplekke is. (Ek het enkele briewe van die laat 1800’s.)
Maar hierdie dokumente is bewaar omdat die reg dit so bepaal het: sterftes oor die wet op registrasie van geboortes, huwelike en sterftes (sien http://www.sagenealogy.co.za/CivilRegSA.htm) en boedels - seker omdat die meester van die hooggeregshof wou toesig hou oor die minderjarige kinders. Die opgaafrolle is waarskynlik as gevolg van die belastingimplikasies bewaar eerder as vanweë die bevolkingsregistrasie.
Persoonlike dokumente se bewaring is dus maar baie onseker.
Die skenkings wat die argiefbewaarplekke aanvaar, het vermoedelik maar oor die status van die skenker gegaan. Baie van hierdie private versamelings is nou unieke voorbeelde van die lewensomstandighede van die bepaalde tyd. My versameling van my kinders se skoolfoto’s gaan vir niemand iets werd wees nie, behalwe vir my. Oor twee honderd jaar sal dit, as dit die enigste versameling uit die twintigste eeu is wat bewaar gebly het, goud werd wees.
Ek soek na Johannes Meintjes se dagboeke en ek weet dat kopieë na die RGN, NALN en die dokumentasie-sentrum op Grahamstad gestuur is. Ek weet nie eers waar ek moet begin soek nie. NALN se dokumente is volgens gerugte êrens in ’n skuur in die Oos-Vrystaat [Belangstellendes kan hieroor gerus met Marietjie Botha by 042 296 2215 in verbinding tree. Haar suster, Erika, was tot redelik onlangs nog by NALN werksaam - Red.] en van die RGN se goed is in die argiefbewaarplek in Pretoria, maar nog nie ontsluit nie. In Grahamstad is dit dalk in die Cory-biblioteek, maar ek weet nie.
Kyk maar wat het met GISA gebeur toe dit nog deel van die RGN was. Gelukkig het meneer De la Bat ingegryp en kon hy die versameling en die navorsingfunksie van die genealogiese afdeling red.
Daar is drie Suid-Afrikaners wat, sover ek weet, dagboek gehou het van hulle hele lewe – wat oor ’n groot gedeelte van die negentiende eeu sterk. Die een is Johannes Meintjies van wie ek die omtrent alles het omdat sy suster vir my die tikskrif en manuskrip geleen het. Die ander een is die man van Margaret Bakkes. Sy dagboeke is by GISA, maar ek dink nie daarmee word enigiets gedoen nie. Die ander een is Hennie Aucamp en ek dink hy skenk alles aan die KGB (Kosie Gericke Biblioteek).
Ek dink as hierdie drie dagboek saam bestudeer word, kan dit ’n uitstekende sosiologiese ondersoek na die lewe gedurende die negentiende eeu wees.
Maar dan moet dit aan navorsers beskikbaar gestel word!