Diek van Wyk
My eerste fiets het ek in 1935 of 1936 gekry. Fietse het destyds in vier
verskillende groottes gekom, bepaal deur die deursnit in duime van die wiele:
22, 24, 26 en 28. Myne was ‘n 22, bedoel vir kleintjies van so 6 tot 7 jaar.
My pa het die verantwoordelikheid om my daarop te leer ry aan ou
Abel gedelegeer. Abel se didaktiese vermoëns was egter nie onbesproke nie. Hy
het naamlik die fiets aan die saal vasgehou en al agter my aangedraf sonder om
te los, met die gevolg dat ek nie geleer het om self reg te kom nie. My pa moes
hom toe aansê om my net te help totdat ek my balans behoorlik het en my dan te
los. Maar toe het dit weer nie tot hom deurgedring om my in te lig hoe om die
fiets tot stilstand te bring as ek eenmaal op vaart is nie. My eerste
onbegeleide rit het dus in ‘n heining geëindig, met onbedoelde gevolge vir die
heining, die fiets, my nerwe en my ego.
My pa moes toe maar vir my verduidelik van remme. 22’s het destyds net aan die voorwiele remme gehad, en dié is met ‘n hefboompie aan die regterkantse stuurhandvatsel af verbind. Dit was ‘n taamlike primitiewe affêre wat moeilik was om te beheer. My volgende onbegeleide rit het gevolglik ewe katastrofies geëindig. Ek het die remme te hard aangeslaan, die wiel is tot stilstand geruk en ek het GOK in die pad voor die fiets beland. (OK, in geval julle nie weet nie, staan vir “oor kop”).
My pa moes toe maar vir my verduidelik van remme. 22’s het destyds net aan die voorwiele remme gehad, en dié is met ‘n hefboompie aan die regterkantse stuurhandvatsel af verbind. Dit was ‘n taamlike primitiewe affêre wat moeilik was om te beheer. My volgende onbegeleide rit het gevolglik ewe katastrofies geëindig. Ek het die remme te hard aangeslaan, die wiel is tot stilstand geruk en ek het GOK in die pad voor die fiets beland. (OK, in geval julle nie weet nie, staan vir “oor kop”).
Dié fietsie het jare lank gehou. Hy moes noodgedwonge van aktiewe diens onttrek
word een gedenkwaardige Nuwejaarsdag toe ons jongklomp sy werkverrigting in ‘n
plaasdam beproef het nadat die grootmense se waaksaamheid oor die wynkannetjie
verslap het. (Dit was dieselfde dag toe die hoenders skielik vreemde
danspassies uitgehaal het van die mieliepitte wat ons vir hulle gevoer het
nadat ons dit in die wyn laat week het).
Hierna het ek ‘n 28 Philips gekry. In ons wêreld – dit is nou ‘n
plekkie met die naam van Vivo, sowat 80 kilometer wes van Louis Trichardt – was
jy òf ‘n Philips- òf ‘n Raleigh-man. Dit wil nou sê as jy nie ‘n BSA kon
bekostig nie - dié was beskou as die Rolls Royce van fietse. Maar Philips
teenoor Raleigh,
dit was ‘n ernstige saak, net soos Ford teenoor Chev, of soos Nat teenoor Sap.
My voorkeure was egter vir my bepaal, want die plaaslike winkel het op dié
stadium net een fiets, ‘n Philips, in voorraad gehad. Dus was ek ‘n
Philips-man, by wyse van spreke vooruit bestem om ‘n Ford te ry of om Nat te
stem.
My Philips het ‘n 12 of ‘n 14 kôk gehad - ek kan nie goed onthou nie; dit is per slot van
sake nou al byna 70 jaar gelede. ‘n Kôk, in die taal van die tyd, is die
tandrat aan die agterwiel wat deur die ketting aangedryf word, dit wat die
Engelse ‘n cog noem. Kôks het van 12 tot 18 gegaan. Deesdae se fietse het
sommer alvier, of meer, tegelyk aan die wiel en jy kan willekeurig van die een na die ander
oorskakel. Maar destyds was dit die een of die ander.
As jy ‘n 18 kôk gehad het, het jy vinnig en maklik getrap en gou spoed opgetel,
maar jy kon nie baie vinnig ry nie; so ‘n fiets was “bilt for kamfirt ent not
for spiet”, soos ons gesê het. Met ‘n klein kôk, soos die een op my fiets, moes
jy jou gal af trap om aan die gang te kom, maar Boeta, as jy eers spoed
opgemaak het, kon niemand naby jou kom nie; hý was “bilt for spiet ent not for
kamfirt”. Dit was vir my al te lekker om die ander ouens, wat almal 18 kôks
gehad het, toe te laat om onder my uit te ry en dan, soos ek begin spoed optel,
by hulle verby te jaag. Dan het hulle na onder in plaas van oor hulle skouers
gekyk en was hulle tonge, wat pas vantevore nog vir my uitgesteek was, skielik
weer terug in hulle monde.
In daardie jare moes jy self vir die onderhoud en herstel
van jou fiets sorg. As jy dit nie gedoen het nie, kon dit kwade gevolge hê. ‘n
Ou wat ek geken het, wou by voorbeeld eendag met sy fiets in beespaadjies ry.
Nou werk dit so dat waar twee sulke paadjies mekaar kruis, die een altyd meer
uitgetrap as die ander is. As jy dan oor die dieper een ry, kan
die fiets se saal nogal ongenadig werk met ‘n deel van jou anatomie wat net in
mediese handboeke elegant beskryf kan
word. Hy bedink toe die plan om oor die kruispaadjies te spring, wat beteken
het dat hy die fiets aan sy hendels in die lug moes pluk sodat hy bo-oor die
paadjie vlieg en weer anderkant land. Toe hy dit probeer, kom die hendels egter
los uit die freim – fietse het toe nog nie handvatsels en rame gehad nie - en
val hy hom lights-out teen die grond. Toe hy ‘n hele rukkie later tot sy
positiewe kom was sy eerste gewaarwording dat sy kop grr-grr maak, en sy tweede
gewaarwording dat ‘n skaap na hom staan en kyk en – dit sweer hy - sy kop
meewarig skud.
Die fiets se hendels was waarskynlik nie behoorlik vasgebout nie. Of die pen in
die middel van die handvatsels wat hulle aan die raam vashou was nie behoorlik
ingeskroef nie. Fietse se trappe kon jou egter ook suur bekom as jy hulle nie
gereeld gekontroleer het nie. Soos gebeur het met ‘n outjie wat saam met my op
hoërskool was. Hy wou gou van die skool af wegkom en het in sy haas sy
agterstewe van die saal af gelig en met sy lyf oor die handvatsels en die
voorwiel geleun om beter te kan trap, toe een van die trappe afkom. Hy het
wydsbeen op einste daardie pen wat die handvatsels aan die raam vashou te lande
gekom en daarna oor die raam self geval. Hy moes ‘n hele klompie steke kry op
plekke waaroor ons nie voor die meisies kon praat nie.
Die rasegte fietseienaar het gevolglik altyd ‘n sakkie
met gereedskap by hom gehad. Dié was met twee leerbandjies agter aan die saal
vasgemaak. Binne-in was daar gewoonlik twee spenners, een plat blinke en een
dik swarte, wat vir verskillende groottes moere bedoel was. Die belangrikste
toerusting was egter seloesjin (solution), petsj (patching) en welf tjoep
(valve tubing). In Limpopo se bosveld was
dorings ‘n onvermydelike euwel en jy moes gedurig jou fiets se pap bande
herstel. As jou petsj opgeraak het het, het jy sommer ‘n ou tjoep opgesny en
dit gebruik. Ons was almal, jy kan
maar sê, opgeleide fiets-mekennieks.
Later jare was daar ‘n Hollander wat as gasdosent die universiteit besoek het
waaraan ek verbonde was. Op ‘n dag het ons hom genooi om by ons te kom eet en
het hy daar aangekom met sy fiets, wat toe ‘n pap band gehad het. Dit was vir
hierdie oud-bosvelder natuurlik geen probleem nie. Terwyl ek tjop-tjop die band
herstel, staan hy daar hande in die sye en toekyk en raak hy die een na die
ander Hollandse uitroep kwyt: “Gô!”, “Sjonge-Jonge!”, “Dat bestaat niet!”
“Dat’s gewoon niet mogelijk!”, en so aan en so voort. Hy kon sy oë nie glo nie:
Dat ‘n professor ‘n fiets kan herstel, dit kan tog seker net in
Afrika!
Nou sal julle my nie glo nie, maar ‘n fiets kan selfs tot teologiese probleme aanleiding
gee. Veral as hy ‘n 12 of ‘n 14 kôk en dun wiele het. Die ding werk so. Wyle
Neels Joubert en ek het eendag van Vivo af met ons fietse gery na die Soutpan
waaraan Soutpansberg sy naam ontleen. Die bestuurder van die Soutpan het ‘n
mooi witkop dogter met blou oë gehad wat volgens Neels sy niggie was, hoewel ek
nooit dié verwantskap kon kleinkry nie. Hulle het dringende en ernstige familiesake
gehad om oor te gesels en dit was al laatmiddag voordat ons huiswaarts kon
keer.
Die pad van die Soutpan af was die ene sand en nie geskik
vir ‘n 12 of 14 kôk met dun wiele nie. Ek moes gou begin stoot. Neels kon nog
‘n rukkie aanhou, maar ook hy moes tou opgooi. Die donker het ons vinnig
ingehaal. En in die bosveld kan
die donker skielik en angswekkend toeslaan. Dit was twee klein hartjies wat
later onder die flou sterre geloop en bid het dat daar nie slange of, erger
nog, dalk ‘n luiperd of ‘n hiëna hulle pad kruis nie.
Op ‘n stadium het daar ‘n motor langs ons stilgehou. Dit was die groot Chev-kar
van ‘n Joodse smous met die toepaslike naam van Kaufman. Hy het ons aangesê om
die fietse in die kattebak te laai en in te klim. Die verligting was oneindig.
En dit is net daar waar my teologiese probleem ontstaan het.
Mnr. Kaufman was ‘n ware barmhartige Samaritaan en dit het my betaam om hom
behoorlik, uit my hart uit, te bedank. Hy het die Here se seën verdien vir sy
weldaad, en ek wou dit vir hom sê. Maar nou het ek, gehoorsame kind soos ek
was, van ons predikant verstaan dat die Jode die skuld vir Jesus se kruisiging
op hulle en hulle nageslag, en dus ook op mnr Kaufman, geneem het. Dit het vir
my ‘n onoplosbare probleem begin word, want soos dit vir my gelyk het, het hy
nie vir ons Here se seën gekwalifiseer nie.
Toe kry ek ‘n ingewing. Toe mnr. Kaufman ons by Vivo aflaai, sê ek vir hom:
“Dankie mnr Kaufman. Die God van die Ou Testament sal u seën!”
Die punt is: as my fiets beloentaaiers en ‘n 18 kôk gehad het, het ons miskien
betyds by Vivo aangekom en dan was dit nie nodig dat ek mnr. Kaufman só moes
seën nie.