Die eerste veeboerpioniers het alreeds omstreeks 1770 die Camdeboo en
die Sneeuberge bereik, maar as gevolg van aanvalle en plundertogte deur die
Boesmans, was daar teen 1778 feitlik geen blankes meer in die omgewing nie.
Toe die distrik Graaff-Reinet in 1786 tot stand kom, het van hulle weer
teruggekeer na hulle plase. In 1790 vestig die eerste boere hulle langs die
bo-lope van die Seekoeirivier in die omgewing van die huidige Hanover en teen 1803 was daar verskeie plase
in die distrik. Tussen 1837 en 1842 word ongeveer 50 plase onder
die erfpagstelsel toegeken, o.a. Petrusvallei waarop Hanover in 1854 aangelê
is, asook Sevenfontein waarop die dorpie Burgerville later sou ontstaan.
In 1904 word daar ‘n sindikaat gevorm en die plaas Sewefontein Nr. 2
word van Gert Burger gekoop met die doel om ‘n dorpie aan te lê. Daar was nie
genoegsame water op hierdie grond nie, maar daar was wel water op Sewefontein
Nr. 1 wat aan Barend Burger behoort het.
Daar is vervolgens met Barend onderhandel en na sowat twee uur het hy ingewillig om sestien uur water per dag aan die sindikaat af te staan vir die aanlê van ‘n dorp. Van die onderhandelaars het toe gesê: “Nou het ons sommer ‘n naam vir die dorp: ‘Burger wil’”, wat toe aangepas is tot Burgerville. (Daar was egter ook ander Burger-families in die omgewing, o.a. van my voorsate). Met genoegsame water vir besproeiing het hier binne afsienbare tyd ‘n dorpie sowat 30 myl vanaf
Alhoewel Burgerville eers in Februarie 1907 amptelik gestig is, wás
daar in 1905 in werklikheid al ‘n dorpie. In Julie 1905 leen die Kerkraad
van Hanover hulle ‘n bedrag van £125 om “een tijdelike kerkgebouw” op te rig.
In 1906 stem die Kerkraad toe dat daar elke drie maande nagmaal bedien mag
word, ‘n vergunning wat twee jaar later ingekort is tot slegs twee keer per
jaar. Verder is ook bepaal dat geen kerkbasaars op Burgerville
gehou kon word nie. Blykbaar was die Kerkraad bekommerd dat Burgerville “afvallig”
sou raak van Hanover
se gemeente. Die “direksie” wat Burgerville se kerksake bestuur het, was
natuurlik glad nie tevrede met hierdie reëling nie.
Toe daar in ongeveer 1910 sprake van die stigting van ‘n gemeente op De
Aar was, het die direksie van Burgerville ‘n versoek aan Hanover se Kerkraad
gerig om saam met De Aar ‘n gemeente te stig. Hulle was nie daarvoor te vinde
nie, maar het weer in 1912 toegestem dat “een deel van het Dankfeest
Bazaar” op Burgerville gehou sal word en dat die kwartaallikse nagmaalvierings
weer kan
plaasvind. Vanaf 1914 is daar selfs een keer per jaar lidmate op Burgerville
aangeneem en voorgestel. Daar was ook ‘n eie koster, orrelis en kassier met ‘n
eie Sondagskool, C.J.V. en A.C.V.V.
In 1921 vra Burgerville verlof om ‘n nuwe kerk te bou, maar die Kerkraad het, weens die gebrek aan fondse, nie toestemming daarvoor gegee nie. Teen 1933 was daar skynbaar heelwat mooi woonhuise met baie bome, strate, ‘n kerksaal, ‘n skool en ‘n poskantoor, en alle publieke kantore het al reeds diens gelewer. Burgerville het sy eie dorpsbestuur gehad en weens die onuitputlike watervoorraad, was die inwoners vol verwagtinge. Teen 1921 was daar ‘n bevolking van 295 (volgens
Intussen het die spoorwegdorp De Aar se boorgate, waar die dorp sy
water vandaan gekry het, al sedert 1929 een na die ander ingegee, en toe alle
planne om die probleem op te los misluk, koop De Aar se stadsvaders in 1935 vir
Burgerville met sy waterbronne uit. Nou het die 175,000 gelling water De
Aar van water voorsien en Burgerville se lewenskrag weggeneem!
Burgerville het al meer verlate geword met talle vervalle murasies. Die
kerkplein, met die kerkgebou daarop, was ook onder die grond wat verkoop is, en
alhoewel daar pogings was om dit weer terug te koop, het dit nie geslaag
nie. In 1936 is die kerkie gesloop. So moes Bugerville sterwe sodat
De Aar kon lewe! (Uit Hanover
se eeufeesalbum, Ons mooi Erfenis)
De Aar wou nie die begraafplaas wat op Burgerville was van die Kerkraad van Hanover oorneem nie. Dit was later jare deur die Jooste-familie (nasate van Barend Burger) gekoop en in stand gehou. Daar is ook jaarliks deur die omliggende dorpe ‘n kranslegging gereël waartydens families die grafte kon besoek. Sewefontein se kerkhof was bekend as die Burger-kerkhof.
Skynbaar het hierdie geleenthede ook nou in die slag gebly. Dit is ‘n
hartseer verhaal, want my ouers is in Burgerville getroud en heelwat van my
Burger-, Human- en Sounes- voorsate lê daar begrawe.
De Aar het intussen ‘n belangrike dorp in die Noord-Kaap geword met die
tweede grootste spoorweg aansluiting in die land. Ironies genoeg, is al wat van
Burgerville oorgebly het, die
spoorwegstasie Burgerville-Weg wat langs die spoorlyn vanaf De Aar na Port Elizabeth geleë is.
Dié stasie was daargestel om Burgerville
en die omgewing te bedien.