(Johann Prozesky lewer verslag van sy en (eintlik) Ilse se deelname aan ‘n “kerkhofuitstappie” in Uniondale wat deur GGSA aansluitend by die werkswinkel in George gereël is – Redakteur)
Ons was heel opgewonde om te verneem dat die naweek sou afsluit met ‘n besoek aan die plaaslike begraafplaas, omrede ‘n aantal van Ilse se voorouers aan vaderskant daar ter ruste gelê is en ons gedink het dat ons iets meer van haar voorsate sou leer.
Nadat Naas bevestig het dat ons wel deel kon uitmaak van die oggend se verrigtinge, het ons finale reëlings met Alta Griffiths getref en met ons aankoms het sy ons hartlik verwelkom. Dis toe dat ons uitvind dat die doel van die besoek die fotografering van die grafstene was – iets waarop ons (en veral Ilse met haar ‘mik-en-druk’ kamera) nie voorbereid was nie. Die ander deelnemers met hul indrukwekkende apparaat het in bykans militêre gelid ry vir ry deurgewerk, maar nadat sy ‘n kitskursus in die kuns van graffotografie ontvang het, kon Ilse darem ‘n beskeie bydrae lewer.
Die begraafplaas bestaan basies uit drie dele met ‘n groot aantal grafte sonder enige identifikasie in die middelste gedeelte. Dis nie bekend waarom dit gebeur het nie, maar Emmarentia Ferreira glo dat dit dalk slagoffers van die groot griepepidemie van 1918 kon gewees het, want die sterftedatums op grafstene in die ander twee dele volg geen logiese patroon nie. Die toestand van die grafte was oor die algemeen maar swak, wat moontlik toegeskryf kan word aan die feit dat die dorp deur die jare grootliks ‘ontvolk’ het en dat niemand meer daar is om daarna om te sien nie.
Die groep het vervolgens beweeg na die begraafplaas in die Bruin woonbuurte waar benewens Joodse grafte in ‘n ommuurde gedeelte, ‘n hele aantal ander grafte wat geïdentifiseer kon word, gefotografeer is.
Die groep het vervolgens beweeg na die begraafplaas in die Bruin woonbuurte waar benewens Joodse grafte in ‘n ommuurde gedeelte, ‘n hele aantal ander grafte wat geïdentifiseer kon word, gefotografeer is.
Hier het die fotograwe egter deeglik te make gekry met die afskuwelike litjieskaktus (Opuntia aurantiaca) wat in die boerderybedryf in Suid-Afrika en ook in Australië baie probleme veroorsaak het (en nog steeds doen).
Ilse se bydrae is op Alta se kamera afgelaai en sal saam met al die ander fotos wat geneem is, op die GSSA-webtuiste beskikbaar gestel word.
Ons het later teruggegaan om verder rond te snuffel waar haar Zondagh- en ook Van der Spuy-voorsate ter ruste gelê is.