Godfried Potgieter
Inligting van Familielede
Elke handleiding beveel aan dat jy soveel inligting moontlik van ouer familielede inwin. Hulle het verjaardagboeke, Bybels, koerantuitknipsels van geboortes, troues, sterftes en nog ander gegewens. Die ouer geslag kan baie keer baie hulpsaam wees, maar wees net versigtig met die inligting, want dit is dalk “verbeter” om jou familie die “eerste en die beste” in die land te maak. Tog moet dié tipe inligting nie verwerp word nie, want daar is altyd feite waarop ‘n verbloemde storie gebaseer is.
In my geval het elke ouer familielid vas geglo in ‘n koerantberig oor ‘n goue bruilof waarin daar gestaan het dat ‘n agter-agter-agter-oumagrootjie met doopname Dorothea Maria Du Preez ‘n “niece of the Earl of Caledon” was. Dit was ‘n baie interessante taak om te vind hoe dié stelling verkeerdelik gemaak was.
Die meeste van ons families was lede van die NG Kerk en die volgende bronne is beskikbaar:
Doop- en Huweliksregisters
Hierdie inligting is van die kerkboeke op film opgeneem en kan in die kantore van GISA nageslaan word. In my geval het meeste van my familie in die Uitenhage-distrik gewoon. Uitenhage is in 1804 gestig, maar die kerk is eers in 1817 gevestig. Voor 1817 moes die mense in die naaste kerk, Graaff-Reinet, Swellendam of George, doop en trou. Met die tydperke wat jy wil opsoek, kyk jy dan in die indeks van die betrokke kerk om die regte film vir daardie jare te verkry.
Die film word dan in die leesmasjien ingevoer, daarna word die handvatsel gedraai totdat jy by die regte van kom. Die film kan dan item vir item op die skerm gelees word. Skryf dan al die inligting neer, veral die filmnommer, bladsynommer en itemnommer. Dit kan dit baie vergemaklik indien daar later weer na die inligting gesoek word. Wanneer die boek begin is, het die aantekenaar besluit hoeveel bladsye aan elke letter van die alphabet toegeken word. Die problem ontstaan wanneer bv. die P-bladsye vol is en dan voortgesit word op die oop bladsye van D. Indien dié nie noukeurig aangeteken was nie en jy dit dalk nie opgelet het nie, kan daardie jare se inligting vir jou verlore wees.
Sterftekennisgewings
Vir my is die sterftekennisgewing die beste bron van inligting. Hierdie dokument is ingestel om te verseker dat die boedel na die kinders en nagelate eggenoot gaan. Op die dokument verskyn die volgende: naam van die oorlede persoon, die eggenoot, die ouers, die kinders, plekke van geboorte en afsterwe, datum van sterfte, ouderdom, ‘n kort beskrywing van boedel en bates. Die dokument is gewoonlik onderteken deur die nagelate eggenoot of die oudste seun. Indien die persoon wat gesterf het geen bates besit het nie, was daar nie ‘n sterftekennisgewing opgestel nie. Dit was die geval met ‘n hele paar van my familie.
Ek het die dokumente by die Argief te Roelandstraat Kaapstad, gekry waar dit saam met die testamente gehou word. Ek het wel die meeste by die Mormoonse Kerk - regte naam “The Church of Jesus Christ of Latter Day Saints” - in Lyttelton gekry. (Hul kerk in Walmer het die indeksboeke om die dokumente te bestel van hul kerk in Johannesburg ). Die ”Family History Section” van die Walmer-kerk is net vir ‘n paar uur in die week oop. Indien die persoon voor om en by 1830 afgesterf het en hy bates besit het, kan sy inligting van boedelinventaris, sy vrou en kinders baie maklik van die internet verkry word.
Google
Tik in: TANAP. Kies: Documents of the Cape of Good Hope . Kies: Orphan Chamber of Cape of Good Hope . Nou kan jy ‘n naam intik. Indien net ‘n van ingetik word, verskyn al die verwysings van inventarise waarin daardie van aangeteken is. Die MOOC-dokumente en die datum waarin die ingetikte naam sal verskyn, word aangegee. Kies ‘n MOOC-nommer. Daar word ‘n inventaris op die skerm vertoon.
Die naam wat ingetik word, hoef nie dié van die prsoon van die inventarisdokument te wees nie, dit kan ook dié van ‘n getuie wees. Dit beteken dat jy dalk deur ‘n hele paar dokumente moet kyk om die inligting van die regte persoon te kry.
Ek stel belang om uit te vind watter plase my familie besit het, en dit word ook aangegee, dog nie altyd baie duidelik nie. Baie van die mense was agterstallig met hul huurgeld op die plase. Dit het blykbaar nie vir “Jan Kompanie” baie gepla nie, want eerste op die lys van boedellaste was dikwels die agterstallige huur van bv. 8 jaar en 4 maande ter waarde soveel riksdalers.
Indien jou familie in hierdie gebied woonagtig was, is daar heelwat naslaanboeke, o.a. Eastern Province Directory 1900: gee naam, plaasnaam, of straat in dorp en beroep; Post Office Directory 1886/7: gee naam, plaasnaam, of straat in dorp en beroep; Port Elizabeth and Uitenhage Directory 1884: gee naam, straat en beroep.
Plase
Indien jou familie in 1849 op ‘n plaas in die Kaap-Kolonie was, sal die eienaar en sy eggenote en die plaas se naam in “ Bewaarders Van Ons Erfenis” verskyn. Dis ook beskbaar van GISA. Die gegewens is verkry van ‘n opname wat in 1849 gemaak is van die plase in die Kaap. Die Staatskoerant (Cape Government Gazette No 2252 of 25 January 1849 ) is beskikbaar in die Cory-bibloteek in Grahamstad.
SA Geslagregisters
Hierdie reeks boeke bevat die Geslagregisters van baie Suid-Afrikaanse families. Baie handig, maar wees versigtig en gaan jou geslagslyn ook van oorspronklike dokumente na indien moontlik. Ek het verkeerde inligting van my Potgieter-familie gekry en dit laat regstel. Ek kon dit net doen omdat my vader se suster so dertig jaar gelede vir my gesê het dat my oupa Jacobus Lourens was en sy vader Simon Hendrik en sy vader ook Jacobus Lourens was. Sonder dié familie-inligting sou ek nie geweet het dat daar ‘n fout in die geslagregister was nie. Ek ondersoek ook tans inskrywings van my Bezuidenhout familie wat nie met ‘n oorspronklike bron klop nie.
Ek het altyd my ore en oë oopgehou en sodoende inligting van verskeie persone en oorde ontvang. Baie keer heel onverwags, soos bv. toe ons my skoonsuster ‘n paar jaar gelede besoek het en sy vir my die tydskrif “Village Life” gewys het. Ek het onmiddellik ‘n reeks artikels oor plase gesien, o.a. die Potgieter-stamvader se plaas op Stellenbosch met ‘n skets uit 1710, en ‘n volgende artikel oor sy seun se plaas, Jan Harms Schat, wat later bekend geword het as Jan Harmsgat (tussen Swellendam en Ashton). Baie goeie inligting wat ek wat ek nie maklik op my eie sou gekry het nie.
Ek wens almal interessante dae toe met die soektog na hul voorvaders. Vir my is dit ‘n “never ending story”.